Vandag breek ons kort Kaap-vakansietjie se laaste dag dan
ook aan.
Ons het veel meer van ‘n vakansie gehad as wat ons
aanvanklik beplan het. Ons het afgekom vir ‘n troue, nie vir ‘n vakansie nie.
En met Klaradyn se oumagrootjie wat op 93 lank reeds baie ernstig siek in die
hospitaal is, het ons geweet die fokus gaan suiwer die klink van huw’liksklokkies
en dan die amperse kluit-klap op die kis wees.
Die klokke het luidkeels gebeier en die klap van kluite op ‘n
kis is deur ‘n baie sterk ouma afgeweer – met ons laaste besoek aan haar, kon
ons nie glo dis dieselfde mens wat ons vier dae vantevore so op die grens van
die ewigheid gesien het nie.
Met die huwelikspaar in veilig in Frankryk en die sieke ewe
veilig in die hande van die fisioterapeut (om Ouma letterlik weer op die been te kry) het Pappa, Mamma en
Klaars hier van Sondag en Maandagmiddag af ‘n lieflike vakansie uitgepak.
Ons is Sondag planetarium en die aangrensende
Suid-Afrikaanse museum toe. By die nasionale galery en Bertram-huis kon ons
helaas nie ook uitkom nie. Laasgenoemde het tans ‘n uitstalling wat fokus op
die Bleek-versameling se San-artefakte, iets wat Klaradyn ontsettend sal geniet
– haar gunsteling koffietafelboek was vir maande ‘n boek oor die San wat ‘n
oudleerling my een jaar gegee het.
Maandag moes ons lughawe toe om een van die Europese huweliksgaste
weg te sien. Met die dat die lughawe reeds halfpad na Ouma toe was, is ons weer
daar aan. En met die dat Ouma toe weer reeds meer as halfpad Stellenbosch toe
was, skiet ons toe die laaste entjie eikestad toe.
Iets op die terras by die Lanzerac sou lekker gewees het,
maar ons het gekom vir die Dorpsmuseum se vier huise, toe geniet ons maar iets
in een van die land se oudste taphuise in Dorpstraat net om die draai van ons
museumbesoekpunte.
Gister is ons Houtbaai toe. Toe ons na ‘n hele oggend in die
geselskap van letterlik duisende geveerde vriende by die bekende World of Birds (en ek glo hulle as
hulle hulself as die grootste voëlpark in Afrika bemark) wegry, sê
ek vir Klaradyn: “En dan moet jy weet, Klaradyn, ons het nie hierheen gekom suiwer
om jou te bring nie, Mamma en Pappa het hierheen gekom voor jou geboorte, en
selfs as jy nie daar was nie, sou ons vandag steeds hierheen gekom het.”
Op die heel verste punt van Houtbaai-hawe, aan die voet van
Kabonkelberg, is ‘n klein vis-en-skyfies-eetplek, hulle vis-en-skyfies, die
lekkerste vis-en-skyfies in die land, sal op enige ander plek, selfs enige
ander plek in Houtbaai-hawe, nie so lekker proe soos daar op die verste punt,
en weg van al die toeriste op die voorpunt, nie.
Die weer het ons gelukkig nie toegelaat om daar tussen die
rotse met ons hande te gaan sit en eet nie, toe skiet ons maar deur
Chapmanspiek-hotel toe – vir hul immergewilde calamari.
Eers moes ek ‘n hoogspersoonlike tradisie wat ek as klein
seuntjie in die sestigerjare van die vorige eeu leer ken het, en nou as groot
man steeds privaat en op my eie in stand probeer hou, voortsit. My pa se broer,
Oom Frans, het al die jare, van voor my geboorte selfs, tot en met sy dood ‘n
klompie jare gelede, in die Kaap gebly. Hulle het nie gereeld nie, hoogstens
een keer elke drie of vier of vyf jaar, afgekom Rand toe – eintlik ook maar net
vir troues of begrafnisse en so aan.
En elke keer, soos in élke keer, ‘n iédere
en elke keer, het hy, sonder énige uitsondering, óóit,
vir ons ‘n gerookte snoek uit die Kaap gebring. Met die motor, met die trein,
met die vliegtuig, dit maak nie saak hoe hy by sy broer op Alberton gekom het
nie, daar was elke keer ‘n snoek.
Ek hoor my ma of pa oor die telefoon (daar was mos altyd ‘n
oor-en-weer gebellery voor die vertrek, om finale reëlings en die geskatte tyd van
aankoms te kommunikeer) sê-vra dat hy asseblief tog nie ‘n vars snoek moet vergeet
nie.
Vir my gesin is vars snoek geensins wat ander mense onder
vars snoek verstaan nie – vir hulle is vars snoek ‘n snoek wat nie ingesout of
gerook is nie; vir my kan vars snoek ‘n pekelsoutsnoek of ‘n eikehout-gerookte
gerooktesnoek ook wees – vars vir ons is ‘n snoek wat vars uit die Kaap by ons aankom, nie een van die droë
en bevrore goedjies van verdagte oorsprong en herkoms wat ons aan die Rand te
koop kry nie.
Dis daarom vir my onmoontlik om van hieraf terug te gaan
huis toe, sonder ‘n vars snoek.
En al kan ek volgens my broer my vars gerookte snoek dwars
oor die hele Kaap te koop kry, hou ek daarvan om my snoek op Houtbaai te koop,
daar waar ek dit nou al sedert ek die eerste keer self Kaap toe gekom het,
koop.
Daar is ‘n ander tradisie ook gewees, ‘n lieflike tradisie
wat oor net soveel jare gestrek het, maar dit het einde Augustus, begin
September tot ‘n einde gekom, en ek sien nie kans om dit lewendig te hou nie.
Op die lughawe, maar vandat jy dit nie meer so maklik op die lughawe kon kry
nie, in Adderley straat dan, voor jy vertrek, koop jy vir Ma ‘n bos Kaapse
blomme, Cape Select het ons dit
genoem, fynbos en proteas vir die vrou.
Die goed hou van nature lank, maar onder Judy Moolman se sorgsame
hande het die goed onnatuurlik lank gehou – partykeer het my broer al weer vir ‘n
tweede keer kom kuier, dan is die vorige besoek se Cape select nog in die lewe in een van Judy se potte. (En moenie
dink sy het die goed laat droog word soos baie mense doen nie – die goed droog
mooi, maar nie my ma nie, sy sou nooit dooie blomme in een van haar potte
aangehou het nie – dit versamel net stof.)
Na ‘n laatmiddagslapie vir die twee meisies, en ‘n verdere
hoofstuk of twee in my leesboek (A short
history of nearly everything deur Bill Bryson) is ons gisteraand deur na my
broer-hulle se gunsteling pizzeria in Seepunt.
Van die kilogramme wat ek voor die troue verloor het, het ek
seker weer een of twee in die bestek van ‘n week opgetel, maar ek is nie
bekommerd nie – eerstens het ek nie ‘n obsessie om gewig te verloor nie,
tweedens weet ek dat ek steeds nie so
ongesond eet soos ek vantevore geëet het nie, en derdens weet ek dat ek
nie in my ou patroon van eet teruggeval (terug verval?) het nie, ons sal
spoedig weer op die smalle weg wees.
Werk die weer saam (die prognose is nie te goed nie) vat ons
Klaradyn op met Tafelberg vandag.
So nie, sal ons maar sien. Sy het ‘n geldjie by Ouma en Oupa
gekry – dit sal ‘n skande wees om terug te ry Menlyn toe om dit daar te gaan
spandeer, miskien moet ons strate toe, winkels toe, ons sal sien.
Ek sien nie regtig kans vir al die Gautengers nie, dit gaan
trouens heerlik wees om terug in Gauteng, weg van die Gautengers, te wees.
Dis egter nie my oorspronklike gedagtes hierdie nie – in die
lugredery se tydskrif op die vliegtuig was daar ‘n oulike advertensie wat
neergekom het op: Get away from Gauteng
this Christmas, by not going to the Cape this year but staying in Gauteng.
Of so iets.
Volgende jaar, wanneer ek dit ter wille van Klaradyn met die trein wil doen, maak ons hopelik weer so.
No comments:
Post a Comment