Pages

20.12.11

Bietjie baie bogtery


Elke kraai dink mos nou maar eenmaal dat sy eier die witste is.

Maande, soos in maande gelede, ek kan nie meer onthou hoekom nie, vertel ek vir Klaradyn wat die woord verguldbeteken. Ek verduidelik dat dit van goudaf kom, dat die geldeenheid gulden was en bla-bla-bla. Ek vind aansluiting by twee pare skoene wat sy rondom 18 maande gedra het wat ons, nie verguld het nie, maar verbrons het, en wys haar ook iets van haar ouma wat versilwer is.

Gister hardloop sy rond en vertel sy gaan haar geldjie verwas. Die nuutskepping van haar val my op. Ook vir haar ma. Maar toe ek sien wat sy doen, toe weet ek waar sy, maande na ons gesprek van destyds, aan die woord kom. Ek het potjies met kerswas in kookwater gegooi. Van die gesmelte was het bo op die water gaan dryf, en steek jy jou vinger (darem toe al effe afgekoel) in die water, dan bly daar 'n dun warm waslagie op jou vinger agter, 'n waslagie wat natuurlik dadelik verhard. Klaradyn is toe besig om talle goedjies van hierdie waslagie te voorsien – en gedagtig aan wat jy doen as jy iets verguld, verbrons of versilwer, dan is dit tog duidelik dat sy besig is om iets te verwas.

Sy het in haar leeftyd miskien drie keer Bernoldus Niemand se “Snor City” gehoor:

Dagsê liewe mense, ek is vandag jou gids, in Pretoria,
Ons is op soek vir net een skoon bolip, in Pretoria
Want dit is die stad met geen bolip glad dis Pretoria.

Bernoldus se opname het ek net op plaat, maar Johannes Kerkorrel het dit ook opgeneem, en dis via hom dat sy kontak met die liedjie gemaak het.

En terwyl ons gister Pretoria se strate op die maat van Anneli van Rooyen invaar sodat sy vir Mamma 'n Kerspakkie kan kies, laat val sy skielik dat Oom Johannes Kerkorrel nou maar Pretoria toe kan kom, hy sal 'n skoon bolip kry.

Ek het my baard gisteroggend vir die eerste keer in seker meer as 15 jaar afgeskeer.

Ek het vir lank gespot dat ek lus het om my baard af te skeer, maar nie kan waag om dit te doen nie, want netnou herken my dierbare ou moedertjie my nie as ek daar by haar instap nie.

Sy sou my natuurlik herken het, maar die moontlikheid was tog daar dat dit die bietjie brein wat sy teen die einde, te wyte aan Altzheimer se aftakelende siekte, oor had, net sou kon verwar het – en dit wou ek nie doen nie.

Toe die vrou ons ontval, was die laaste ding waaraan ek kon dink nou om my dreigement van 'n skoon ken en bolip uit te voer.

Toe dog ek hierdie vakansie (ons het 'n lang vakansie – so ek sal 'n ietsie weer in plek kan hê teen die tyd wat die skool weer begin) sal die ideale geleentheid wees om die verbasing op Klaradyn se gesig waar te neem as sy vir die eerste keer in haar lewe sien hoe haar pa sonder sy baard lyk.

Sy is Sondagaand na Oupa-hulle om daar oor te slaap. Ons is daar weg met my laaste woorde: “Ek sal opwag langs die foon – die oomblik as jy my wil bel om jou te kom haal omdat jy nie meer lekker kuier nie, moet jy net vir Ouma vra, dan bel jy my gou, en dan kom red ek jou.”

Daar het natuurlik niks van gekom nie.

En Maandagoggend, in die bad, toe besluit ek om die kind te verras.

Ek wou nie regtig nie. En ek wou regtig.

Dis soos om met 'n shatterproof-liniaal te speel. My generasie het die koms van shatterproof-liniale gesien. Vir eers het jy net bros plastiek liniale gekry wat baie gou gebreek het. En toe kom die wonder van die nuwe shatterproof– jy kon met hom speel, jy kon hom vou en buig en 'n amperse snaarinstrument van hom maak as jy hom met sy een helfte op die tafel vashou, en hard tik aan die ander helfte wat oor die tafelblad uitgesteek het. Die houttafel het dan soos 'n kitaar se klankkas gewerk en tril- en vibreergeluide die lug ingestuur.

Maar ook net tot op 'n punt. Dan hét die liniaal gebreek.

En so het ons dan nou al te onverskillig met hierdie goed gespeel om te kyk tot waar ons dit kan vat. En dan was ons elke keer vreeslik spyt as ons dit daardie knertsie te ver gevat het, en die ding eindig skielik stukkend in ons hande op.

So het ek toe ook in die bad gesit en net begin om my baard te trim en in 'n nuwe vorm in te kry –in 'n stadium had ek amper iets soos 'n bokkerige Jan Smuts-baardjie.

Maar toe “gly” my hand – en die snor moes af.

En kort voor lank was dit 'n uitgemaakte saak: die strepie wat nou hier oor my ken lê, kan lankal nie meer deurgaan as 'n baard nie. Toe groet ek dit ook maar.

Ek het destyds die baard gegroei omdat ek 'n dubbelken had wat ek wou verbloem.

Ek kan amptelik aankondig dat ek 15 jaar later nie meer 'n dubbelken het nie.

Daar hang nou drie of vier kenne, wat herinner aan die lelle van 'n kalkoen, teen my onderkaak af.

Maar erger as dit, is wat met my wange gebeur het – hulle het uitgesak en ek herinner eerder aan 'n boerboelerige Winston Churchill as 'n Griekse god met 'n blokkies ken.

Hierdie uitgesakte wange was 'n verrassing. Dis 'n sterk familietrek van my ma se kant. Uiteindelik kan 'n mens sien dat ek en my broer, wat 16 jaar ouer as ek is, inderdaad broers is. Sy wange het begin ontspan, en dis duidelik dat myne ook nie meer die stamina het om bo te bly nie – my baard het dit bloot net die laaste klompie jare weggesteek.

Annieka wat my nog net een keer, en vir 'n baie kort rukkie, selfs nog voor ons begin uitgaan het, sonder baard gesien het, is natuurlik geensins opgetrek met die kale kaak en ken nie – dis soos om met 'n vreemde man langs jou in die bed wakker te word.

Ek reken nou weer dat sy nou weet hoe dit van tyd tot tyd vir my moet voel om saans saam met 'n vreemde vrou in die bed te klim – vrouens kry mos soms die gier om iets aan hul hare se kleur, en hul kapsel se styl te doen. Dis elke keer vir my 'n skok op my gestel. Nou kry sy bloot net 'n bietjie van haar eie medisyne.

Die skoonouers wil spottenderwys weet of ek deur 'n middeljarekrisis of identiteitskrisis gaan.

Maar dit was die moeite werd.

Ek het Klaradyn by Ouma-hulle in die hoofslaapkamer vasgenael voor die televisie opgespoor.

Sy het vlugtig gegroet en toe weer dadelik op die televisie gefokus.

En toe iets vreemd geregistreer en vir 'n tweede keer moes kyk – 'n perfekte double take wat die beste komedieakteur haar dit nie na sal kan doen nie.

Behalwe om Bernoldus se liedjie oor die gebrek aan skoon bolippe in Pretoria in die herinnering te roep, is al wat sy kort-kort, tot laat gistermiddag nog, kwytraak: “Ek kan nie glo dat Pappa dit toe regtig gedoen het nie.”

Dit was lekker. Maar dis nou verby.

Ek het aan die agterkant van die ry gestaan toe haargroei-hormone uitgedeel is; op my kop, arms en bene sit ek met die sagste, dunste babadonsies denkbaar, en op my gesig kan ek nie eers 'n volbaard oorweeg nie – dit word al hoe yler hier na my ore toe – ek sou nooit met 'n lieflike stel lamb’s tjops bakkebaarde kon spog nie.

As dit van my afgehang het, het ek nooit in my lewe geskeer nie, maar oor ek net met sulke opslag-kolletjies hier teen die wange bene op sit, moet ek daar skeer.

Maar tussen nou en wanneer die skole begin, gaan ek met 'n lieflike vuil gevreet bly sit.

Te lekker.





Ek sou wou uitwei oor hoeke sterk opinies my kind het, kom dit by die keuse van 'n Kersgeskenk vir Mamma, ek sou wou vertel van die lieflike dag wat ons gister rondom die aankoop van die present had, maar dis mos nou maar hoe dit met jou vrou is – die dag as jy wil hê sy moet jou aanlyn dagboek lees, dan kom sy in geen weke daarby uit nie; die oomblik wat jy wil dat sy nie 'n oog gooi nie, trek sy 'n beker koffie nader en klim agter die rekenaarskerm in.

Snorcity se woorde kon ek hier opspoor.

James Phillips sing sy Bernoldus Niemand-liedjie op Youtube maar meer aanskoulik, omdat dit 'n hele video is, is Thys Nywerheid se opname, baie jare later, van die man se gespot met die Pretoria van 1986.

No comments: