Afrikaans het baie mooi woorde.
Een van Afrikaans se baie mooi
woorde is die samestelling padpredikant.
Baie van Afrikaans se baie mooi woorde hou vir my kosbare stukkies
onthou in.
Padpredikant is weer eens een.
Ek het vanoggend met padpredikant
in my lobbe en op my lippe wakker geword. Waarom weet ek nie. Maar hy was
daar toe ek my oë oopmaak, toe ek tande borsel en skeer, en toe ek skool toe
ry.
Ek sou die woord gehoor het, vir die eerste keer, en daarna
kort-kort en in dieselfde konteks weer en weer, in die nag, iewers in laat
sestigs van die vorige eeu, van ons huis af op pad na Oom Kobus-hulle-op-die-plaas
toe.
Dis nou die plaas Holfontein, 'n entjie met die Hoopstad-grondpad uit
Bultfontein uit.
Maar ek kan verkeerd wees. Dis nou presies 30 jaar sedert ek laas
op die plaas was. In my drome kuier ek dikwels daar, seker een keer 'n maand,
indien nie een keer 'n week nie.
Daardie jare het ons seker een keer 'n maand op 'n Vrydag-agtermiddag
laat, as Pa klaar gewerk het, in die motor geklim en deurgery na Oom
Kobus-hulle-op-die-plaas toe.
Is daar iewers, ooit, 'n lang pad wat lekkerder is as een wat jy
in die donker aanpak? Self hou ek nie daarvan om die nag in te ry nie. Maar ek
het geen probleem nie, verkies dit trouens
Nou in daardie opsig was my pa soos ek: hy sou, na sy ma reeds
vyftien jaar buite Brits woon en ons by haar net so getrou soos by Oom
Kobus-hulle-op-die-plaas gaan kuier het, steeds op Sondag verdwaal – so verdwaal
dat ons laat vir middagete daar opdaag. (Vandag se dae is dit nie eers twee ure
se ry met die kar nie.)
As kind was dit nie vir my vreemd dat ons so baie verdwaal nie,
verdwaal was vir my maar iets wat mense in karre doen.
Later, vandag, het ek besef dit was tien-teen-een nie van
deur-die-weer-wees wat my pa so verdwaal het nie – hy het bloot van onbekende
(en dikwels straks selfs ongekende) vreemde, interessante paaie gehou, roads less travelled by, so to speak.
Name van plekke soos Boshof, Bothaville, Brandfort. Bultfontein, Hennenman, Hertzogville, Hoopstad,
Odendaalsrus, Theunissen, Ventersburg, Virginia, Welkom, Wesselsbron en Winburg
kom daarom saam met die woord padpredikant by my op.
Ook Bethlehem, Clarens, Clocolan, Cornelia, Excelsior, Ficksburg, Fouriesburg,
Harrismith, Hobhouse, Kestell, Ladybrand, Lindley, Marquard, Memel, Paul Roux, Petrus
Steyn, Reitz, Rosendal en Senekal.
Dis darem nie omdat ons so vreeslik ver en uit koers uit verdwaal
het oppad Holfontein toe; my ma en pa het op Ficksburg ontmoet en daar was peetkinders,
skoonsusters, swaers en baie ou ooms en nog ouer tannies vir wie ons net so
gereeld gaan kuier het.
En so, op die Vrystaatse grondpaaie en teerpaaie sonder noemenswaardige
some, snags, met die motor se ligte op die een of ander padpredikant, het ek
aan die woord padpredikant gekom.
Transvaal en die Kaap het daardie jare naamborde gehad, dis net
die Vrystaat wat agter was en nog met padpredikante gesit het. (Wat Natal gehad
het sal ek nie weet nie – ons is hoogstens een keer 'n jaar soheentoe.)
En nou vertel ek dit of dit die waarheid is. Maar dis oor dit as
die waarheid aan my voorgehou is. Transvaal en Kaap se provinsiale bestuur was
op en wakker, ons het groot groen borde wat op twee pote staan, langs die pad
gestaan; die Vrystaat, groot dele van die Vrystaat (minstens die dele waar ons
verdwaal het = en dit was baie wyd) het sulke losstaande pale gehad met
reghoeke, wat elkeen in 'n driehoek geëindig het, bo vasgetimmer.
Baie van hierdie rigtingwysers het hul arms al laat sak, soos
sonneblomme hulle koppe. En dikwels was die verf so af dat een van my ouers
moes uit, met die flits (jy gaan nooit op die pad sonder 'n flits nie) om te
sien waffer godsverlate rigting ons nou weer moet inslaan.
Ek wonder of predikante vandag nog doen wat padpredikante (iets
wat na hulle vernoem is) daardie jare gedoen het. As jy my as kind moes vra wat
'n predikant doen, sou ek nooit gesê het dat hy die woord van die Here
verkondig nie; ek sou gesê het 'n predikant wys vir ons mense watter pad om te
loop.
Die laaste ervaring met 'n outentieke Vrystaatse padpredikant,
soos van ouds, dateer rondom 1980. Ons was by die peetkind op Ficksburg en ek
en my ma het die motor gevat en die Oos-Vrystaat ingevaar, vir die dag. My ma
het my na plekke en gehuggies en plase en dorpe geneem wat ek nie sommer weer
sal opspoor nie. Op hierdie en hierdie plek, en op hierdie en hierdie plaas,
het sy en my pa kom dans.
Ek onthou niks van die stories nie, behalwe miskien 'n skinderstorie
van my ouma wat 'n getroude man had wat skelm na haar as getroude vrou gevry
het. Maar van die storie het ek net twee keer se onthou, en kinders, maak nie
saak hoe oud hulle is nie, glo in elk geval nie enige slegte stories van hul
oumas of oupas nie.
Maar ons is die betrokke dag, 'n dag waarom ons amper in groot moeilikheid
was omdat ons sonder 'n fisiese rybewys by ons in die motor op Lesotho se paaie
gery het (my ma wou my wys waar haar eerste werk – iewers op TY of Teyateyaneng)
ook by die plaas verby waar die owerspelige vryer kwansuis sou gebly het.
En dan onthou ek 'n grappie wat my ma gemaak het, 'n flou grappie,
wat net so teen my ma se aard in was, dat ek dit vandag nog onthou – soos gister
– en my oë het vanoggend begin skiet toe ek daaraan terugdink.
Na die ongemaklikheid en please
explain in Basoetoeland (ek het
vandag nog –iewers – 'n klei beeldjie wat ek die dag langs die pad gekoop het)
was ons die middag redelik laat teen 'n stink spoed terug oppad Ficksburg toe.
Dit was ook meer as dertig jaar sedert my ma die paaie die gery het, en ons
was, laat ons dan nou maar bieg, redelik verdwaal.
Maar dis oor ons Basoetoeland op die een plek in, en by 'n ander
plek uit is.
En daar tref ons 'n slaggat in die grondpad en Judy sê “o, aarde,
en daar het ek nou 'n blou oog.”
Ek, ook al rondom standerd 8, is hopeloos te naïef, of het my ma bloot
net hopeloos te swak geken, om te verstaan, en ek gee my onkunde en –begrip te
kenne. “Die kar het so gehop, my kind, dat Mamma se tietie haar 'n blou oog
gestamp het.
Ek dink as my broer hier moet lees, sal hy dink ek lieg, want my
ma het regtig nie sommer sulke opmerkings gemaak nie. (Haar stoutste grappie ooit
het neergekom op 'n woordspeling tussen die Franse la’ petite en die Boere se boerse lappe-tiet.)
Ewenwel, terwyl ons nog so, ligweg histeries oor die tyd, ry en lag,
is daar skielik 'n vurk in die grondpad, 'n vurk sonder 'n naambord (die
Vrystaat het intussen lankal bygekom).
En so terwyl ons so wik en weeg oor waffer rigting om in te slaan,
gewaar ons 'n verweerde padpredikantjie, presies soos van ouds, tussen die
groen ruigtes aan die oorkant van die vurk.
En Hansman is uit en het die rigting by die verflenterde dominee
gaan vra.
En daardie dominee het ons voor donker by die huis gekry.
Padpredikante is nie net wonderlike woorde nie, dis wonderlike
goed.
Naas ma’s, en ek mis myne vandag weer, seker die wonderlikste goed
wat 'n man, dis nou naas sy vrou en kind, kan hê.
Naskrif: Daar is ongelukkig nog een onthou wat moet uit, 'n kosbare hartsonthou, enige iets tussen twee jaar vroeër of twee jaar later.
My pa was toe al dood, maar ons is steeds gereeld af Holfontein
toe. Ma hou die pot aan die kook, so dis steeds op 'n Vrydagmiddag na werk dat
ons in die pad val.
Maar Ma hou nie van vreemde paaie nie, sy bly op die gebaande wee
en ons ken die pad soos die palm van ons hand.
Dis winter en lankal donker toe ons die pad, wat toe lankal nie
meer Bultfontein nie, maar om hom, op pad Hoopstad toe gaan, navigeer.
Dis net ek en my ma, toe lank nog nie 'n ou vrou nie – seker so
vyf-en-vyftig.
Maar daar kry die ou lady 'n piepie, en as daar een ding is wat my
ma nie kon doen nie, dan was dit om te knyp.
En dan was sy ontsettend koulik. Sy het haar pelshandskoene aan, 'n
jas, 'n mus en 'n serp. (Ja, my ma was ook nie skaam om te wys dat sy koud kry
nie.)
Toe moet sy piepie, ons is aan die rand van die dorp, die plaas
nog 'n goeie 14 myl verder.
Dis toe dat sy, net betyds, onder een van die groot nuwerwetse
Vrystaatse naamborde, die een wat Hoopstad en wat ook al links en regs uitdraai
aandui, stop en uitspring om te piepie. (Ek het in die ry al 'n tissue uit die handsak moes opdiep.)
En om langs die pad te moet piepie, so tussen die twee oop deure
as jy 'n vrou is, was nou vir my in daardie dae, nie 'n snaakse ding nie – oor Ma
nie kon knyp nie, was dit iets wat ek bykans maandeliks (óf op pad Bultfontein
toe, óf op pad Ficksburg of Brits toe) leer ken het.
En sy moes in die ry, haar een hand op die stuur, haar ander hand
na haar mond toe gebring het om haar handskoen met haar tande uit te trek.
Hierdie handskoen moes op haar skoot, op haar jas geval het.
En toe sy uitklim om te piepie, moes hy op die grond uitgeval en
daar agtergebly het. Want toe ons 'n halfuur of twintig minute later op die
plaas stop, toe is my ma se gunsteling stel winterspelshandskoene opgebreek.
Maar waarom en hoekom en hoe die woord padpredikant my vanoggend en daglank by hierdie halte langs die pad
uitgebring het, sal ek nie weet nie.
Seker maar die Hoopstad/Welkom/Wesselsbron (?) naambord vlak bokant
my kop by die venster uit, wat ek so in die maanlig sit en lees het – dis nou
om uit respekte nie te kyk hoe Ma piepie nie.
En dan hoor ek haar, nie net kenmerkend piepie nie, maar hoe sy
ook sê: “As hier nou, Oubaas, 'n spinnekop
of 'n skerpioen of 'n slang of 'n ding by my enkels kom lol, dan spring by
hierdie deur, dwars oor jou, in, en ander kant weer net so uit. Jy sal my daar
oorkant die pad tussen die grasse moet loop soek.”
Ai, dit voel soos gister. Ek sien ook die handskoene, teen daardie
tyd al verweer, voor my. Jac. my broer, het vir my pelshandskoene van oorsee
gebring. Ek wonder wat het daarvan geword.
Naskrif: ek het prente van
padpredikante soos ek dit onthou, gesoek. Daar is baie, maar hulle is almal te
Europees, die omgewing óf te groen óf te mistig.
No comments:
Post a Comment