Daar is vir my min dinge so erg soos 'n kind wat by my op hoërskool
kom en sy toespraak soos 'n resitasie uit sy kop opsê.
'n Toespraak word, wat my betref, gepraat en nie opgesê
of geresiteer nie.
Ek self lewer tot ses keer op 'n dag dieselfde toespraak ('n les
wat ek aanbied) maar ek praat my les, ek sê dit, ten spyte van
voorbereiding en instudering, nie soos 'n papegaai op nie.
Gedigte word uit die kop geleer en geresiteer – dis 'n baie belangrike
vaardigheid en ek is jammer dat ek die idee kry dit word 'n klompie jare nou al
sleg afgeskeep in ons skole.
'n Kollega van my wat Engels gee laat haar leerders elke
gedig wat sy met hulle behandel, memoriseer en resiteer. Van die grote kinders
se kant af, selfs, is daar geen teenkanting nie, maar waardering.
Die Indiër-seuntjies en –dogtertjies (ek is nie
seker van welke geloof nie) wat smiddags kleintyd moet leer om bykans hul hele
heilige skrif uit die kop op te sê, is die res van hul landgenote ver
vooruit en baie beter toegerus as hulle ook.
Maar 'n toespraak is nie 'n gedig nie – in 'n toespraak
praat jy, na die beste van gebrekkige wete, jou gedagtes. Jy sê nie jou woorde op nie.
En jy lees dit
ook nie af nie. (Party kinders dink mos ons assesseer voorbereide lees, as ons 'n
toespraak of praatjie assesseer.)
Met Klaradyn is dit moeilik, sy kan seker al van
sleutelwoorde gebruik gemaak, maar dis net soveel lekkerder om van
sleutelprentjies of –gedagtes gebruik te maak.
Hulle moes hierdie week praat oor 'n dier van hul keuse. Haar
direkte antwoord op my vraag oor waar en hoe ons aan die inligting gaan kom, toe
ons agterkom die boek wat ons soek is by Ouma, was letterlik (en dis tog of sy so
effe ongeduldig met my was oor ek tog so dom vraag kan vra): “Nou maar ons Google dit tog net, Pappa!”
So toe google ons 'n
spul feite; sy kies nie 10 feite nie, maar 13, en toe begin die lekker – ons moet
prentjies google wat haar 13
hoofgedagtes by haar sal tuisbring.
Ek het later maar opgehou om haar van my skoot af te probeer
hou – dis ongelooflik hoe party van hulle (of is dit almal) net aldag en
heeldag op en oor jou moet wees.
Ek het 'n hele paar dinge van Komodo-drake geleer wat ek nie
voorheen geweet het nie.
Hier is my kind se geselsie (ons lees van kloksgewys van
links bo):
1.
Al is Komodo-drake reeds duisende jare met ons,
is hulle eers 100 gelede ontdek toe 'n vliegtuig tydens WO1 in die see gestort
het en die vlieënier tot die veiligheid van die naaste eiland geswem het – net
om toe op 'n spul van hierdie ongediertes af te kom.
2.
Op die Komodo-eilande leef vandag nog net sowat
5000 van hierdie diere in hul natuurlike habitat.
3.
Hierdie diere is natuurlik nie drake nie; hulle
word wel van tyd tot landkrokodille genoem.
4.
Eintlik is hulle die grootste akkedisse op aarde
en daarvoor bekend dat hulle die enigste akkedissoort is wat prooi veel groter
as hulself dood en verorber.
5.
'n Komodo-wyfie lê tot so veel as 30 eiers op 'n
slaag en daar is ongeveer vier keer meer wyfies wat uitbroei as mannetjies.
6.
Komodo-drake het 'n baie stadige metabolisme en
hoef slegs 12 keer 'n jaar te eet. (Hierdie kos wat so lank vat om te verteer,
het natuurlik tot gevolg dat die stomme goed aan akute, chroniese, baie erge,
halitose lei – maar Klaradyn wou dit nie ook oordra nie). Hulle eet bykans
enige iets (die prentjie van die ark)
7.
As hulle jou nie dadelik dood maak nie, het jy
nie rede om bly te wees nie – hul speeksel is so vol gif dat jy binne 24 uur
van vergiftiging vrek as hulle jou net gebyt het. (Hulle reuksintuig is so
sterk dat jy maar kan hardloop so ver as wat jy wil – hulle sal jou opspoor en
vreet daar waar jy gevrek het.)
8.
Hulle kan nie soos drake vlieg nie, maar is
besonders goeie swemmers – hulle swem tussen die eilande rond op soek na kos en
maatjies van die teenoorgestelde geslag.
9.
Hulle het 'n lewensverwagting van 50 jaar.
10.
Hulle weeg vier keer meer, en is drie keer
langer, as Klaradyn.
11.
Dit wil voorkom asof hulle lewenslange
bondgenootskappe (huwelikke) aangaan.
12.
Hulle besit wel die vermoë om ongeslagtelik voort te
plant. ('n Wyfie wat reeds 4 jaar in gevangenisskap was, lê
te mooitjies eendag haar eerste eiers in die dieretuin en broei haar werpsel
uit.)
13.
Omdat die gediertes ook onder mekaar vreet,
beskerm die kleintjies hulself deur in hul eie mis rond te rol en so 'n weersin
(of teensin) in die grotes te wek.
Klaradyn het dit nie wou noem nie, maar dis blykbaar so dat
die goed eerder sal aas as om te jag. Hul reuksintuig stel hul in staat om enige
ontbindende diere oor groot afstande heen, op te spoor en so aan die lewe te
bly.
Ja, ons kinders hou vir ons besig, maar dis een groot vet
voorreg.
No comments:
Post a Comment