Pages

31.8.14

Klaars verjaar (1)

Klaradyn het tien geword, gister, en ek wil vertel van haar partytjie.

Maar ʼn mens se kind word tien, en jy staan stil en bewonder die hier en die nou met weggeslane asem.

Dan word jy stil en jy kyk terug, jy kyk tien jaar terug. En dan loop jy eers weer die pad van mylpaal tot mylpaal – tot gister toe sy, sy maar ook óns, ons al drie, tot hiér, hier by tien stil gekom staan het.

En dan word jy nóg stiller, want skielik kyk jy vorentoe, ʼn skrale tien jaar vorentoe, en die mylpale, oorgangsrites, stopstrate, T-aansluitings en moontlike doodloopstrate is skielik soveel meer, soveel groter.

Ek vergeet sommer skoon van die partytjie – teen tienerwees, storm en drang, matriek, sweet sixteen, uitgaan, opbreek en al daardie dinge, word ʼn tienjarige se partytjie ʼn stukkie studentikoosvermakerige trivialiteit.

Dan stap ek maar eerder terug.

Die aand voor Klaradyn se geboorte was al ʼn mylpaal in my en Annieka se huwelik – dit was die eerste nag in ons getroude lewe dat ons nie saam onder die selfde dak, in dieselfde kamer, op dieselfde bed geslaap het nie.

Ek sou dit vir jare so wou hou. Veral na ek ʼn kollega en haar man leer ken het wat al twintig jaar getroud was en nog steeds nie ʼn enkele nag van mekaar geskei, deurgebring het nie.

En toe die ironie – die grootse oomblik in my en Annieka se lewens saam breek aan – ons eerste- (en toe enigste-) –ling se geboorte breek aan – en sy moet vir ʼn induksie gaan. Sy moet die nag voor die tyd hospitaal toe. Ek moet alleen agterbly.

Gelukkig net vir een nag, want ek het vir ons ʼn familiekamer by die hospitaal bespreek.

Ek was gister gereeld weer daar.

Eers toe Tannie Marieta SMS om geluk te wens. Sy het vir Pappa ʼn bier hospitaal toe gebring. En toe nooi ons haar op. Toe maak sy ons touwys met die eerste omruil van ons eie Klaradyn se heel eerste poefdoek. (Dis ʼn poefdoek met ʼn spesiale naam, ek het die naam vergeet, maar dis so swart en vernoem na die dokter/doktor wat dit die eerste keer in wetenskaplike terme beskryf het. Ja, ek was ʼn pa wat baie voorafleeswerk gedoen het.)

In daardie stadium was Klaradyn ʼn paar ure oud, maar vir my toe ook maar eers ʼn paar ure lank “Klaradyn”.

Ek het nie geweet of ons lewens met ʼn Klaradyn of ʼn Klein Hansie verryk gaan word nie. Ek wóú nie weet nie.

As die Here wou gehad het dat ons vooraf weet wat op ʼn mens wag, dan sou ons al van vroegste tye af geweet het. Hierdie gier om te weet het saam met buskruit en die splitsing van die atoom gekom – reguit uit die hand van die satan.

Toe bel Tannie Pat gister om geluk te sê, ons tweede besoekers van destyds, Tannie Pat en Tannie Ina. En ek sien weer met hoeveel liefde en vrymoedigheid Tannie Pat die bondeltjie liefde vas hou. En met dieselfde hoeveelheid liefde en vrymoedigheid waarmee Pat vashou en oplig en speel, met presies dieselfde hoeveelheid versigtigheid, amperse lugtigheid – te bang om seer te maak – staan  Ina nader, naby.

Toe sluit Oom Erik-hulle by ons aan vir die partytjie. En dadelik is ek nóg ʼn verdere nege maande terug, agtertoe, nege maande vroeër nog as die oggend in die hospitaal.

Ons het die Vrydag voor hulle troue van die volgende oggend, gehoor dat Annieka swanger is; in die woorde van die ginekoloog: “Jy is nie net swanger nie, nie eers báie swanger nie  – jy is sommer fókken swanger.” En daar wil ons nie die glorie van hul troue steel nie en moet ons wag tot hulle veilig op hul wittebrood afgesien is, voor ons die wonderlike nuus van die nuwe lewetjie met die res van die familie kan deel.

Toe kom skoonma en skoonpa inloer by die partytjie. En presies soos ek hulle sien staan het, eers toe ek in die hospitaalgang by hulle verby is teater toe vir die geboorte, toe later die aand toe hulle vir die eerste keer kom kuier het, het ek die twee oues sien staan toe hulle gister naderstaan om die verjaarsdagkoek met die tien kersies, tien jaar later. Tien jaar ouer.

En dit bring trane in my oë. Soveel om voor dankbaar te wees, soveel wat as niks anders nie as louter seën en genade beleef en beskryf kan word.

Ek onthou Ouma Nooi se eerste kuier. Ook ons laaste kuier. Hoeka tussen my en Klaradyn se verjaarsdae.

En toe ander oom en tannie, Oom Jac en Tannie Bev, spesiaal opgevlieg het van die Kaap af, om die nuweling te kom ontmoet. Tien jaar later het ʼn lieflike presentepakkie en hope liefde al die pad spesiaal van die Kaap af opgevlieg na die klein meisietjie toe.

En eintlik wil ʼn mens nie ophou om dankbaar te huil as jy eers begin tjank het nie – geen mens kan nié ontroer en tot trane beweeg wees, as tien jaar se opgehoopte stof tot dankbaarheid skielik weer oor jou spoel nie.

Na die hospitaal was dit die rit deur Pretoria se strate huis toe. 30km/uur. Niks meer nie.

Ek en Annieka was van die ou soort – ons het tot op sewe weke gewag voor ons die eerste keer met haar uit is – Dros toe, in Hatfield, onder die bome in die lieflike tuin.

Toe moet Mamma terug werk toe. Vir nege en jaar en nege maande dat Klaarskind soggens by Ouma-hulle afgelaai word – sommer so in haar pajamies, want ons stap soggens 07:00 al by die werk in.

Klaradyn was 2, op pad 3 toe, of was dit 3 op pad 4 toe, toe ons haar smiddaes by Tannie Karina begin optel het – eers twee middae ʼn week, toe meer. Wat ʼn mylpaal was dit nie vir ons gewees nie – ek en Annieka was seker by 20 kleuterskole gewees, nie net in die omgewing nie, maar in ʼn moewiese radius om die huis. En toe ons by Tannie Karina instap, toe weet ons, hier by hierdie vrou sal dit wees. En ons was nog nie een dag spyt nie.

En tussenin dit alles was daar nog die eerste probeer met vastekos, die eerste vastekos (ʼn goeie twee of drie maande later), die eerste kruip (saam met Pat en Ina by ʼn vakansieoord), die eerste treetjies (knap na die meisiekind se eerste verjaarsdag). Die eerste tand. Die eerste wisseltand.

Die ontdekking van die rooi Kersfeesvaderpak in ʼn boks.

Noodgedwonge die eerste jaar daarna toe Pappa nie meer nodig had om Kersvader se helpertjie te wees nie, maar Klaradyn nou vir hom kan instaan.

Die ontdekking van twee briefies die laaste 12 maande wat Klaradyn kleintyd vir die tandemuis geskryf het. (Grootword is nie maklik nie!)

Ek wil nie daaraan herinner word nie, maar ek onthou ook die mangeloperasie. Hoe oud was sy? Drie? Vier of vyf? Ek kan nie eers saam gaan tot waar hulle my kind narkose gee nie! Ek moet haar en haar brose gemoed vingeralleen los toe hulle haar wegstoot. Ék wat by was met haar geboorte en saam met haar ma by die hospitaal ingeboek was!

Ek onthou gelukkig ook die klein operasietjie saam met Dokter George. Hý het my saam met haar laat gaan, die narkotiseur het my selfs die maskertjie laat vashou. Dis mos hoe dit hoort met ʼn pappa se enigste dogtertjie!

Graad R. Graad 1. Graad 2. Graad 3. Die eerste eksamen, graad 4.

Die eerste seuntjie wat vir haar blomme gegee het, omdat hy wou.

Die eerste soveel baie ander.

En dan onthou ek my kind self. Klaradyn self. Nie die ander en die mylpale nie, Klaradyn en die liefde en geluk, die lekker en wonderlike voorreg wat iets soos kommer kan wees.

Wat ek onthou is te veel. En wat ek onthou, is nie wat saak maak nie, dis wat ek nié onthou nie wat saak maak:  Ek, en ek weet ek onthou en praat saam met Annieka, onthou nie een enkele teleurstelling nie. Een of twee skrikke, ja – maar nie ʼn enkele teleurstelling nie.

Dit was Hedwig wat ons destyds daarvan bewus gemaak het dat die dag op ons wag dat ons gaan agterkom ons kind is nie lelieblank nie, nie ʼn engelkind sonder foute is nie, en dat ons ook dit in die gesig sal moet staar, tromp-op, vierkantig.

Hoogstens enkele spatseltjies slightly off-white, far and in between. Ja. Miskien. Maar nie ʼn enkele teleurstelling nie. Nie in 10 jaar nie.

Mamma en Pappa is voorwaar geseën.

Ek wens ons kind, ek wens ons twee ouers self, ek wens ons al drie, Pappa-Mamma-en-Klaars, Pappa en Mamma en Klaars, nie ‘n soortgelyke 10 jaar toe nie, maar diesélfde 10 jaar as die pas afgelope 10 jaar.

Ons sê ook nie net geluk nie. Voor ons geluk sê, se ons dankie. En dankie en dankie en nogmaals dankie. Dankie.


No comments: