Pages

6.8.14

Oor sosaties en sambokke

Ons het ons een jaar lelik vasgeloop rondom ʼn uitruilstudent uit een van die Europese lande waar rooivleis ʼn rariteit is – nie omdat almal vegetariërs of geloofsbeswaardes is nie, bloot oor dit so duur is.

Die kind toer toe vir drie weke met ons vleisvreters deur Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe.

Saans beplan ons niks anders as braaivleis nie – ons het bees en bees en bees, en vir afwisseling nogmaals ʼn bietjie bees. Daar is die lekkerste sosaties en ʼn rits ander snitte en bewerkings – alles lugdig verpak en en vir duisende kilometers gevries.

En al waarteen ons gewaarsku word, is dit Mejuffrou nie rooivleis eet nie. Twee dae voor ons vertrek vaar ons die winkels in en koop drie weke se geblikte vis. Jy kan ook nou nie vir die mens 21 blikkies tuna koop nie, stomme mens. So ons foeter by al wat delikatessen in op soek na Duitse, Deense en dure Dietse blikkies haring en forel en makriel. Ag, siestog, en dan kan ons nie van die kind verwag om haar vis met mieliepap te eet nie – so daar is ʼn ander spul blikkies en pakkies en langlewe rogbrode en dinge óók in ʼn trommel in.

Eerste aand slaan ons nog diékant van die grens tent op. Daar word groot vuur gemaak en toe ons vra wat ons vir Mejuffrou moet uitkry, moet ons hoor sy sien kan vir een van die sosaties waarvan haar gasgesin-sussie haar so baie vertel het.

En daar ontwikkel die kind, in die bestek van een buitelugaandete onder die suidersterre ʼn sinnigheid in braaivleis.

Aand twee noem sy dat dag drie haar “visdag” sal wees (teen dié tyd praat sy al mooi Afrikaans). Dag drie het gekom en gegaan en dit was asof die laaste gevoel wat sy moontlik vir vis kon gehad het, weggeraap is die ewigheid in.

So ook dag vier en vyf en ses en sewe...

Week twee het ons agtermiddag begin vra watter vleis sy vanaand voor lus het, dat ons kan weet wat om uit te haal. En teen die einde van daardie week was ál die sosaties op.

Begin week drie, iewers in Zim, knoop ons toe ʼn spul ruiltransaksies aan en raak só van al die blikkies en goed ontslae.

En van toe af steur ek my nie veel aan ʼn uitlandse kos-geit of –gier nie – dis suiwer fiemies en basta met enige spesiale versoeke.

Maar net soos ons ons vasgeloop het deur ons te veel te steur, is die teendeel ook waar – jy kan die geite van jou laat afloop soos water van ʼn eend se rug. Maar wees gewaarsku daar ís iets soos die blinde sambok.

So ontvang ʼn kollega van my die kind saam met wie haar eie kind tydens haar studiejare oorsee studenteverblyf gedeel het.

Van allergieë en geite was daar, daar oorkant, vir vier jaar lank geen sprake nie. Die kind het ʼn kerngesonde eetlus en eetpatroon daarby.

Maar toe Mejuffrou na vyf jaar (beide van hulle het nou al amper ʼn jaar se werk agter die rug) in sonnige Suid-Afrika waar die leeus en die olifante in die strate rondloop, kom kuier, het sy ʼn skielike ding met gluten.

Nee, sy kom niks daarvan oor nie, sy het geen allergie of iéts nie, sy eet uit die bloute net geen styselrigheid of greintjie gluten onder die son nie. Nie brood, pasta, ertappels, pasteie, koeksisters of enige sousie wat met mielieblom of so iets verdik is nie.

O, aarde, en sy kom neem haar intrek in ʼn no-nonsense huis. Besige mense waar laat ingekom en kos gemaak moet word.

En nou met special needs. Na ʼn week weet die ma  nie meer wát om te maak nie – uithang gaan sy waaragtig nie die hele duur van die besoek nie, maar afsteek gaan sy waaragtig ook nie.

Week twee is sy in ʼn nuwe roetine – in plaas daarvan om na skool te bly en haar werk eers af te handel, jaag sy saam klokslag 14:00 saam met die klok en die kinders hier uit.

Nie hieroor of daaroor nie – om te gaan kosmaak terwyl die twee maats nog nie by die huis is nie. Op dié manier is daar nie helpende hande en nuuskierige ogies in die kombuis as sy roer met die aandete nie. Só kan haar hand ook plek-plek gly-gly met ʼn glutentjie hier, ʼn verbloemde styseltjie of gekamoefleerde granerigheidjie daar.

Volgende oomblik storm sy benoud by my in:  “Het jy dan nie iewers vir my ʼn pampoenkiekieresep sonder meel nie!”

Kom dit uit dat sy die naweek terwyl hulle die oggend strate toe was, gou ʼn baksel outydse, Boerse, pampoenkoekies saamgeslaan het.

En daar is die kind gaande daaroor. Dis nog nie eers weer halfpad naweek toe nie en sy moes intussen, op spesiale versoek, nou al weer twéé keer van daardie lekker pumpkin fritters maak.

En nou soek die kind die resep – nie met bobotie of enige van die ander Suid-Afrikaanse dissse wat haar gasvrou so glutenvry opgetoor het, dat sy haar mense daar oorkant wil beïndruk nie. Nee – met die pampoenkoekies, bruinsuiker en kaneel.

Sy soek nie net die resep nie, om seker te maak dat dinge daar oorkant flatervry verloop as sý dit die dag vir haar mense maak,  soek sy ʼn oefenlopie, hier ter plaatse voor sy eersdaags op die vliegtuig klim en koers kry huis toe.

Nou kan ek my geensins ʼn pampoenkoekie sonder meel voorstel nie; aan die anderkant laat ek my nie vertel dat die Amerikaners wat so verbeeldingryk met ʼn nederige pampoen kan omgaan, nog nie ʼn meelvrye iets uit sou gedink het nie.

Ons google daar en dan, “gluten free pumpkin fritters” en “flourless pumpkin ietsie-anders-wat-ek-nie-nou-onthou-nie.”

Kortvoorlank sit ons met iets wat ʼn sterk Suid-Afrikaanse geur en gevoel sal kry as jy net eers die kaneelsuiker deeglik ingespan het.

Maar lees ek die ingrediënte so, weet ek nie so mooi nie. Ek kan so op sigwaarde sê dit soos plaatkoekies gaan uitkom. Ás hulle gelukkig is en die hele spul nie die ganse bodem van die pan eerder soos ʼn pannekoek betrek nie.

En daar;s nie veel wat jy kan doen nie – dis óf minder pampoen (wat nie sal deug nie) óf meer eier (wat net so min, indien nie minder nie, sal deug).

Resep in die hand is sy daar uit, maar ek hoor hoe sy haar dogter bel en dié die dood voor die oë sweer as hulle agtermiddag daar opdaag voordat sy nie klaar het met die pampoenkoekies nie. Daar is nie ʼn manier dat hulle dit saam in ʼn toetskombuis gaan maak nie. Iets moet voorval dat ons tuiskok en haar leerling nie saam in die huis is nie.

Hulle moet dan maar so uit die kombuise Skype as die kind net eers weer daar anderkant is. Wie, weet, dan kry hulle aan hierdie kant dan nog straks die meel  ingewerk sónder dat die buitelandse oë enigsins snuf in die neus kry.

Ai, siestog, die hele storie sou seker snaaks kon wees, ás dit nie was dat die stomme kind so opgewonde was oor dié ellendige pampoenkoekies waaraan sy haar hier by ons so kaduks geëet het nie. Maar die passievolle jong kind, wat alles wat sy aanpak met oorgawe en ongekende entoesiasme doen, het nou al twee keer daar oorkant pampoenkoekies gebak.

En nie om te oefen en te kyk hoe dit werk voor sy dit vir mense voorsit nie, nee, elke keer met ʼn huis vol mense wat die verrigtinge met honger oë dophou en volg.

Vra ons maar, want ons weet – elke keer is dit selfone en kameras waar jy kyk – om die groot spog af te neem.

Ag, siestog, elke keer is dit natuurlik ʼn klaaglike mislukking – elke plaatkoekierige kwasi-pannekoek-floppie word omtrent uit ses hoeke afgeneem en dadelik deurgestuur Suid-Afrika toe dat die kenners hier kan kyk wat dan met Ouma se beproefde resep verkeerd kon geloop het en sommer dadelik weer raad stuur.

Twee keer het sy nou al teleurgesteld gevra of hulle seker is dat sy die regte resep het, want haar goedjies herinner geensins aan die poffertjies in die verre suide nie.

En twee keer antwoord hierdie kant heel instemmend.

Dit help ook nie hulle ontdek ʼn ingrediënt wat per toeval – kan jy glo – op die resep uitgelaat is nie, want al wat dit kan wees, is meel.

Of is daar dalk iemand wat kan help met iets anders as meel, of kapokertappel, of rysmeel, want nie een van dié drie sal deug nie.


No comments: