Pages

1.7.14

Ai, die honde darem

Ek het die volgende ʼn rapsie meer as ʼn maand gelede geskryf:

En dan is daar nou Jasper ook.

Die naam, Jasper, is gekies uit ʼn kortlys van seker sowat 30 seunsname wat Klaradyn maande gelede in een van haar notaboekies neergepen het.

Ook nie seunsname nie, eerder reunsname. Sy het gedink aan name vir mannetjieshonde.

Maar ek sit my voet neer. Elke keer. Lag-lag vyf jaar lank nou al.

“Ons het klaar drie honde op die erf!”

“Die jongste een gaan jaloers raak as Klaradyn ʼn skoothond in die kamer by haar het, terwyl hulle ander in die kombuis moet slaap.”

“Klaradyn hét haar eie hond.”

Klaradyn het inderdaad haar eie hond. Snuffels. Die jongste, die jaloerse, een. Die een waarmee ek en Annieka sewe jaar gelede die fout mee gemaak het . Om vir ʼn driejarige haar eie hond te koop.

Klaradyn was hopeloos te jonk. 

En die hond het binne die eerste maand uitgedraai om ʼn monster te wees. 

Sewe jaar later is sy niks minder van ʼn monster as destyds nie.

Toe kry ons drie jaar later vir Klaars ʼn kat.

Groter fout as hond.

Klaradyn het ʼn allergiese reaksie op die kat. Ses maande in graad R in, stel die juffrou dit duidelik:  “Klaradyn is nie die helfte van wat sy maand 1 was nie, sy is trouens nie eers ʼn skaduwee van wat sy was toe sy die begin van die jaar haar skoolloopbaan afgeskop het nie.”

Ons was teen daardie tyd elke vier weke by Dr. Smit met die kind. En ons het geweet (maar wou nie weet nie) dis die kat. Die kat moet gaan.

En Sokkies (drie witte pootjies aan ʼn swarte lyfie) was nie drie dae by die nuwe mense nie, toe gaan sy in kraam.

Vandag weet ek dat ek en sy reageer op ʼn ensiem in die kat se speeksel. Die ensiem bly agter as die katte hulself poets. 

Selfs die haarlose katte het daardie ensiem.

Maar die Siberiese kat nie.

Siberiese katte, lieflike goed, het destyds vir R5 000-00 gegaan. En dan moet hulle nog van die Kaap afvlieg Johannesburg toe. Dit was in graad R. Ons is nou in graad 4. 

Ek wil nie weet hoeveel kos hulle nou nie.

Ek het groot geword met Happies, Annieka met Ogies.

Happies was my beste maatjie. Ook gedurende die egskeiding. Hy het saam met my en Ma uit die huis getrek woonstel toe.

Annieka kry nog trane in haar oë as sy net aan Ogies dink.

Moet my kind dan nou sonder ʼn kleintjie van haar eie van haar kinderdae afskeid neem.

Sonder dat sy ooit die tere gevoel van ʼn hond se hartjie leer ken het, verdrink het in  ʼn welpie se asempie?

Ek het nie ʼn hond gesoek nie. Ek het nie.

Ek is weer daaraan herinner dat ʼn kat ongelukkig buite die kwessie is.

Toe gaan koop ek voëlsaad. In die uur wat Klaradyn dramaklas het.

En toe stap ek uit met voëlsaad en ʼn hond.

Ek het nie die hond gekies nie. Die hond het my gekies.

En hy het lank gewag voor hy sy keuse gemaak het.

Die laaste van sy drie sussies is al vier weke gelede verkoop.

Hy het agtergebly. Alleen.

Die odd one out. Ek verbeel die Engelse praat van ʼn runt.

Die uitskot-welpie. Die afvlerkspreeu. Die swakkeling. Loser!

En toe kom ek verby met R90-00 se voëlsaad.

Ek stel my voor dat hy geweet het, nog voor ek geweet het – daardie man gaan my koop. Daardie man en sy gesin gaan ʼn groot verskil in my lewe maak.
Hy het op sy agterpote teen die tralies gaan staan en bewe van opwinding.

Ek het in sy jakkalsgesiggie vasgekyk en met eerste oogopslag verlief geraak.

Toe breek my hart:  hy is afgemerk! Hulle het die hond op ʼn uitverkoping gesit. Sale Price.

Hoe min moet jy ʼn hond wil hê, hoe graag moet jy van ʼn hond ontslae wil raak as jy hom afmerk!

Dit kan nie! Dit mag nie!

Ek het Annieka gebel. Sy was te oorbluf om weerstand te bied. Terwyl ek met die een hand aflui, het ek die debietkaart met die ander hand in gereedheid gebring.

Klaradyn is soos haar ma en pa, lief vir honde. Dis ʼn week en haar oorgawe het nog geensins begin taan nie. Dit sal ook nie.

Sit jy die hond langs ʼn groot vet rietrot, dink ek die rietrot staan hoër en groter. Maar die dingetjie is destyds juis geteel om rotte te vang.

Die hondmalles praat van Min Pin, of “The king of the toys” (dalk is dit “prince” ek kan nie onthou nie.)

Leke praat sommer van Miniatuur Doberman Pinchers. Maar dis totaal verkeerd. Doberman Pinchers (Magnum PI se honde) is eers in 1880 geteel. Teen daardie tyd was die Miniatuur Pinchers al ʼn lank gevestigde ras in Europa wat gedoen het wat die rottevanger van Hamelyn hulle nie kon nadoen nie.

Gewone outjies soos ek praat, miskien verkeerdelik, sommer van tant Mien se hondjie, die swart keffertjie wat tant Mien van Ben, Babsie en familie hier in die vyftigerjare so onder die arm vasgeklem het.

Tot hier het ek ʼn maand gelede gekom, maar dit nie gepos nie. Ek het skuldig gevoel oor vier honde op die werf, die onverantwoordelikheid, die impulsiwiteit.

Miskien was dit nie onverantwoordelikheid of impulsiwiteit nie, eerder ʼn onbewuste gereedmaak vir wat in die nabye toekoms voorlê. Want ons is vanoggend, bietjie meer as ʼn maand later,  weer net drie hondeasems op die werf. Boeta, gebore en gedoop as Patat, is gisternag na 11 mooi jare en ʼn baie kort siekbed van minder as 24 uur oorlede.

No comments: