Pages

18.5.14

Moedersdag 2014

Ek hang onlangs my frustrasie rondom Klaradyn wat nie noodwendig altyd die toebroodjies wat ek vir haar vir skool maak, eet nie, aan die groot klok. 

Die reaksie was heelwat, en uiteenlopend.

ʼn Pa van vier oudleerlinge vertel dat die oplossing meer kinders is:  "Ons  4, het altyd mekaar s'n vasgelê en - oud of vars - verorber, soos ‘n honger kat ‘ n vars muis - want ons het altyd NET 3 pakkies gemaak... "

ʼn Ander mamma vertel dat die manne in haar huis (en ek vermoed amper sy bedoel nie net die twee seuns nie, maar Pappa ook)  weet as hulle nie hul brood by die skool eet of weggee nie, hulle dit na skool by die huis sal moet eet. ʼn Sessie waartydens sy hulle met kwaai oog sal dophou want mors sal hulle nie en die honde-uitweg is daar nie.

Ek dink onwillekeurig aan ʼn oudmatrikulant, jare gelede toe ek nog ʼn beginneronderwyser was, wat elke dag die broodjies wat haar ma vir haar gemaak het, by die skool weggegee het. Nie onder haar maats nie, maar vir haar meneer. Dit was later nie eers meer ʼn geheim nie, selfs die ma (ʼn kollega van my by ʼn buurskool) het geweet ek kry elke dag haar stukkie liefdesdiens van elke oggend. En tog het sy aangehou. Ek vermoed as jy oor soveel jare heen (sy het meer as een kind groot gemaak, en die eerste was al klaar met skool) soggens broodjies maak, dit iets is wat jy sommer maklik afsterf nie. Straks het haar moedersinstink (nie om mý te mother nie, maar die hoop en wete dat sóú haar dogter wel die dag honger  hê, sy as ma darem vir haar kind gesorg het) haar gedryf.

Van oorkant die water vertel ʼn ander vriendin iets wat perfekte sin maak. Sy het nooit vir enige van haar drie kinders kospakkies gemaak nie. Nes jy oud genoeg is om ʼn mes en vurk vas te kan hou, is jy oud genoeg om brood te kan smeer. Sy noem dat seker wreed is, maar getuig dat hulle elkeen se oorlewingsvaardighede merkwaardig ontwikkel is.

Ek is dit onmiddellik met haar eens, en weet sommer dadelik dat haar drie maters soggens voor skool hul eie beddens ook opgemaak het.

Maar al is ek dit ook hóé met haar eens, kán ek my dit nie self sien doen nie. Nie oor my dooie liggaam nie. Selfs al weet ek dis uit en uit in die kind se belang.

En toe, ʼn uur of wat later, kom ‘n opmerking van ʼn skoolvriendin, en sy sluit aan by ek wat genoem het dat ek kinders wat op skool by my om ʼn broodjie geskimp het, afgeskrik het met die woorde dat hulle nie van my broodjie sal hou nie – dit het kwansuis knoffelvis op. Sy noem:  “Ek vermoed ek weet wie dit was wat jou broodjies ge-aas het... Ek onthou spesifiek die maaskaas en pynappel wonders! dit was die hoogtepunt van haute cuisine...”

En toe onthou ek, vir die eerste keer in meer as 30 jaar, weer my ma se “maaskaas en pynappel wonders” en sommer baie van haar ander daaglikse haute cuisine wonders.

Toe wéét ek, en verstáán ek ook, eensklaps, waarom ek nie sommer nié vir Klaradyn sal broodjies maak vir skool nie.

Toe weet ook presies wat ek bedoel het, destyds met Judy se afsterwe, toe ek genoem het dat ons ma nie dood is nie, sy leef voort in haar kinders, én in haar kleinkinders, in elkeen wat die voorreg had om van naby deur haar aangeraak te wees.

Dis nie ek wat toebroodjies vir skool maak nie, dis Judy wat in my ʼn verlengstuk gekry en soggens met soveel liefde Klaradyn se broodjies maak.

Ek is so gemaak en gelaat staan.

Maar ook in haar kleinkinders dat sy voortleef.

Verlede Sondag toe ek en Klaradyn Mamma se skinkbord in gereedheid bring, kruip my kind op haar knieë deur die honde se deurtjie in die kombuisdeur na buite. 

Ek weet dadelik waarom.

Sy kom minder as ʼn minuut later terug met blomme uit die tuin vir Mamma se skinkbord.

Dis die tweede jaar dat sy dit self doen, en ek weet klaar ek sal dit nooit weer vir Klaradyn voor hoef te doen nie – Judy se reikwydte strek nou, deur my, tot by Klaradyn.

Ja, ek weet, duisende kinders het verlede Sondag vir hul ma’s blomme in die tuin gepluk en op die Moedersdagskinkbord staan gemaak.

Maar Klaradyn sou dit nie so verbete gedoen het as ek dit nie haar eerste sewe lewensjare so getrou gedoen het nie, en ék sou dit nie gedoen het, as dit nie was hoe Judy ons geleer het nie.

Ander kere weer sal Klaradyn skielik tafel dek, sommer net vir ons drie, met kerslig.

Ek het as laerskoolkind, en Judy het my daaroor gespot, gesê ons moet “romanties” eet. Een keer, baie klein nog, het ek dit glo ge-moranties, en dit het sy my, glimlaggend, nooit laat vergeet nie.

Judy, op haar beurt weer, het nooit gaste saans om die tafel gehad, sonder die atmosfeer van kerslig nie.

En so is dit nie net die sondes van die vaders en die moeders wat die kinders besoek tot in die hoeveelste en soveelste geslag nie, maar ook die deugde en liefde en navolgenswaardige.

Gelukkige Moedersdag, Ma.

En nee, ek is nie laat nie. Ek het ook nie vergeet nie.

Ek weet jy sou wou terugstaan, verlede Sondag, dat Klaradyn en Annieka, die kalklig van die dag kan geniet. En hulle het.

Seker in elk geval ook nie “Gelukkige Moedersdag nie, Ma” maar “Dankie, Ma.”

Dankie, Ma. Dankie dat jy daar wás om vandag steeds hier te kan wéés.

Naskrif/Aanhangsel

Hierdie gedagtes het eers ʼn ander pad, ʼn ompad, ingeslaan. Maar die ompad het doodgeloop. Ek las dit hier aan, ter wille van die foto’s waarby ek ter verduideliking en bewys wil uitkom. Én ter wille van die skakel na dit wat ek 2008 kwytgeraak het toe ons begin het om vir Klaradyn broodjies vir skool, toe nog kleuterskool, te maak.

Die knapie in die rooi moes tot Standerd 8 wag voor hy ‘n boetie, ekke, gekry het.

Die rooi blik met wit strepe
se maatjie is steeds in ons
huis.

Dit lyk dalk nie soos stop vir padkos nie, maar dit is.

Waar is die dae! Beslis nie 'n middagete-stop, 10:00 of
agtermiddag straks

Die eerste poging, dan:

Ek is ‘n skoolbroodjie-mens. En ek het al daarby uitgekom. Hier. Maar vandag wil ek ‘n ander invalshoek, met ‘n ander doel voor oë, met ‘n ompad daarby uitkom.

Miskien oor dit Moedersdag was en ons Moedersdag rondom Klaradyn en Annieka gevier het en die dooies met rus gelaat het.

Miskien omdat Klaradyn nie haar broodjie vir skool geëet het nie. (Die vissmeer wat sý wou gehad het.) En toe die volgende dag weer eerste ding, dadelik, toe ek haar optel, opgemerk het hoe heerlik haar broodjie was. (Baie bros gebraaide – nie so baie  nie, maar so bros – spekvleissnippers met kaas.)

Miskien omdat Sondagoggend, die tweede een in Mei, vroeg iewers weer Judy se begrafnisbrief gelees het.

Sien ek is nie net ʼn skoolbroodjiemens nie, ek is eerder ʼn padkosmens – en wat is skoolbroodjie nou anders as kos vir die lang pad skool toe en terug.

Hoekom ʼn padkosmens? Dis eenvoudig – die antwoord lê opgesluit in die foto’s wat elk voor my geboorte geneem is.

Dis hoe ek groot geword het, ek is opgevoed, letterlik – soos Klaradyn sal sê,  op-ge-vóéd – om van padkos te hou. Dis wat ek ken, Dis hoe ek gevorm is.

Ek het nie een enkele herinnering aan ʼn gekookte eier of koue wors langs die pad nie – nie uit Judy se hand nie. Maar toebroodjies, heerlike toebroodjies – daarvan onthou ek baie.

Ek was al groot, het al skoolgehou, dan sit ons af Kaap toe – twee motors – dan ry ons ʼn draai Alberton toe. Om by Ma te stop vir padkos – ʼn keurige padpiekniekpakkie vir elkeen wat afskiet Kaap toe.

En volgende jaar maak ons weer so.

Ons gaan Bloemfontein toe, vyf ure, dan maak ek padkos.

Net die gedagte aan Kaap toe, maak my deliries – drie vleise, minstens. Peperwortelsous by die een bief, soet Duitse mosterd by die ham, blatjang, uie, blaarslaai, twee kase, tamatie, dun skyfies agurkie, blaarslaai, noem maar op.

Warm flesse koffie. Genoeg warm flesse met koffie.

En as ons die eerste tolhek deur is, dis nog na en lank na sonop toe, dan kan jy maar my eerste broodjie aangee. Nie omdat ek honger is nie, omdat ons op die langpad is, Kaap toe en deel van die lekker padkos is.

Het ek nagelaat om te noem dat die eerste tolhek, soos die kraai vlieg, nie ʼn kilometer van die huis is nie?

En dan is ons nog nie eens oor die Jukskeirivier tussen Pretoria en Johannesburg nie, dan vra ek ʼn volgende broodjie.

Om van padkos, by skoolpadkos uit te kom, om uiteindelik by Judy wat nie dood is nie maar elke dag voortleef, uit te kom, was net te lank.

Dankie ook aan Pa, wat my soveel Moedersdae Springbok-apteek toe geneem het dat ek vir Ma 'n ietsie kon uitsoek vir Moedersdag. Ek doen dieselfde met Klaradyn. Soos jy my geleer het.

No comments: