Pages

1.7.14

Wat 'n voorreg

Patroon en Patat het sommer gou-gou Boeta en Sussa geword.

Boeta het met verloop van tyd ook Boets geword. Maar met ʼn lang en liefdevolle –oe, soos in die Engelse “boots”.

En Pa-se-seun, of Pa-se-groot-seun. (En dan het ek my stem so diep, bas en laag as moontlik gemaak – dié liefdesnaampie is immers net in oomblikke van onbevange male bonding gebruik.)

Ook Ouman, Ou-man en Ou man.

Nie dat hy ooit soos ʼn ou man begin lyk het nie. Sussa het vroeg tekens van ouderdom begin toon – fyn grys strepies al om die bek. En op die voete om die tone langs.

Tog was Boeta al Ouman, lank voor ek Sussa smiddae met ʼn hoezit Ou Girl begin groet het. Want sien,  hy het hom op relatiewe jong leeftyd al soos ʼn befoeterde ou man begin gedra – een wat altyd van beter geweet het, sy eie kop gevolg het, sy eie rigting ingeslaan het. Obsternaat. Dik, dom en difficult.

Vir lank het hy soggens voor ons uitgehardloop motorhuis toe. En dan het hy daar gaan sit. Tussen die twee karre. Vasgeslaan soos ʼn vasgesteekte donkie. Dat ons oor hom klim om verby te kom. Hy weet ons kan mos nie ry met hom in die motorhuis nie – hulle bly agter in die agterste deel van die erf, ons ry voor uit.

Boeta het sulke oggende sommer vinnig-vinnig net HÓNT geword. O, en dan het hy probeer om jou met sulke puppy eyes te laat swymel.  Verbeel jou – ʼn groot volgroeide brak wat jou met die hemelwaarts slaan van sy oë wil vermurwe.

Én dit reg sou kon gekry het, ás dit nie was dat ʼn skoolklok nie op hom laat wag het nie.

Toe ek en Annieka destyds uitgery het om na die patryshondbabas waarvan iemand ons vertel het, te gaan kyk, het ons op ʼn spesiale bendetaal besluit. Praat ek voor die verkopers met haar en ek spreek haar aan as “Ankie”, is ek positief oor die honde; noem ek haar “Annieka”, moet sy weet dis ʼn nee-nee. Dieselfde van haar kant af met die gebruik van onderskeidelik “Hans” of “Hansie”.

En daar neem die ganse werpsel en hul ouers die wind so uit ons seile, dat ons skoon van allerhande bende- en kodenaampies vergeet. Ons sou met vier honde daar uitgestap het, sou ons net kon.

Ek het daardie middag huis toe bestuur soos ʼn pa wat sy eersgeborene van die kraaminrigting huis toe neem.

Presies soos ek minder as ʼn jaar later bestuur het, toe ons met Klaradyn uit die Moedersbond of Mary Font (of wat ook al dit was) se parkade wegry.

Ek is vroeër die oggend eers huis toe met ʼn poefdoek, ʼn baby-grow, babapoeier en nog wat – vir Boeta en Sussa om aan te ruik, en gewoond te raak, vóór die nuwe baba huis toe kom. Baba-Klaradyn het dan ook ʼn deegliker bekendstelling aan die honde by die huis gehad, as aan enige van die vriende en familie wat ons in die hospitaal kom besoek het.

O, en die honde het op die pienkvoet ingekoop. Boeta meer as Sussa. Miskien was dit omdat Annieka en Boeta voor Klaradyn se geboorte so lekker op Steve Hoffmeyer se “Papmpoen”-liedjie gedans het. Ek sien Annieka weer voor my – hoogswanger en met ʼn lieflike boepie , aan die dans met Boeta.

Boeta en Annieka was saam op kraamverlof. Waar Mamma en baba gaan, daar was Boeta saam.

Later, met Annieka terug in die tuig, ook. Dis waar Boeta maar altyd was – by Klaradyn. Swaai Klaradyn, dan gaan lê hy onder die swaai. Slaap sy, dan gaan lê hy by haar. Kom eet sy, dan is hy by haar voete.

In ons kamer is, lewensgroot opgeblaas op doek, ʼn foto van Klaradyn en Boeta saam op die bed toe Klaradyn ʼn kleuter was. Annieka het dit die een jaar vir my gemaak vir Vadersdag. En die volgende jaar, toe vergroot ons die ander foto, die een wat enkele sekondes ná die ander een geneem is, óók. En ons hang die twee langs mekaar. Nie agter ons, waar ons hulle nie kan sien nie, ons hang dit waar ons dit, die laaste ding in die aand, die eerste ding in die oggend, kan sien.

Annieka weet ook, gaan ons twee die dag ouetehuis toe, kan die Dykmans en Claerhouts en Buchells en ander skilderye en dinge maar bly – ék trek met Klaradyn en Boeta se twee Vadersdag-fotovergrotings. Die res kan maar gaan.

Ek en Boeta het ʼn onsigbare Eybersiaanse naelstring wat nooit breek nie, gekry, dié oujaarsnag toe ek enkele minute voor twaalf met hom deurgejaag het noodveearts toe. Hy was sterwend, bulkend soos ʼn bees. Maar die mediese wetenskap ʼn bedrewe noodveearts en meer as ʼn maand se salaris het sy lewe gered. 

Danksy ʼn slim chirurgiese prosedure is hy toe ook ʼn lang en gelukkige lewe gewaarborg.

Hy was natuurlik aanvanklik  ʼn bang hond. Dis hý wat ágteruit in die gang kon afhardloop, tot in die hoofslaapkamer. Dan spring hy (dit sal my nie verbaas hy dít óók in reverse gear gedoen het nie) by ons op die bed, en blaf aggressief vir die tuindienstemense wat by die voorhek inkom.

En omdat hy bangerig was, was hy ook gouer op die aanval en verdedig. Maar onder “aanval en verdedig” bedoel ek bloot net “grommend” – niks meer nie.

Met die jare het hy dit egter ontgroei. Grotendeels.

Behalwe sy vrees vir die vrou wat hulle kom was en dip het.

Ek het kleintyd al gedink hy kan gedagtes lees. Ek sou opstaan om koffie te gaan maak, dan sal Boeta op die bank bly lê. Ek sal opstaan om badkamer toe te gaan, dan sal Boeta op die bank bly lê. Maar laat ek nou net opstaan om die honde-haarborsel te gaan haal, om hom uit te borsel, dan is hy ʼn breukdeel van ʼn sekonde vóór my al op en onder die bank in, of weg. Ek het nog nie eers die borsel in my hand nie, ek dínk nog net aan uitborsel, dan weet Boeta dit al!

As daardie bakkie en sleepwa van die hondewas-vrou stop, dan is Boeta weg en iewers in die tuin in. Ek jok- as die vrou se SMS deurkom om te laat weet sy kom die volgende dag, dan is Boeta op en uit en weg – nog vóór ek die boodskap gelees het. Ek het later trouens al geweet – kom daar ʼn SMS deur en Boeta maak hom uit die voete, dan is dit Michelle wat wil weet of sy kan kom was-en-dip.

Kruis jy jou bene op ʼn bank of ʼn stoel, dan kom skuif Boeta voor jou in, plaas hy sy kop op jou voet en moet jy die onderkant van sy gevreet met die bokant van jou voet streel en speel. Stop jy, dan laat rus hy bloot sy kop op jou voet, en sou hy net kon, dan sal hy so aan die slaap geraak het ook.

Boeta en Sussa het twee uiteenlopende geaardhede. In al hierdie jare had ons nog nooit nodig om Boeta kaal te skeer nie. Met Sussa is dit anders, sy moet liefs drie keer ʼn jaar gestroop word. Van in die modder en reën speel. Nie Boeta nie. Hy is die stil, besadigde een wat nooit sy hare koek nie – die ore uitgesluit natuurlik. Maar dis ook bykans ál wat ons skeer, die ore en hier en daar ʼn koek, onder die maag of om die bene.

Ons is babatyd met hulle "hondeskool" toe. Nie hondeskool-hondeskool nie, maar oom-veearts se puppy school. Sussa was die modelleerling. En Boeta. Hy is nie oor 'n enkele hindernis nie, maar onder de leste een deur, reguit na die "doekesak" met treats, om daar te gaan sit en slaap.

Boeta is ook die een vir roetine. As hy soggens mooi stil gesit het om sy beskuitjie te kry, dan gaan maak hy homself lê voor sy kosbak, en dan eet hy ontbyt. En jy moet hom nie pla nie – hy éét. vanaand is dit weer so.

Ons honde kon van die tafel af, en met oorskiet, met niks anders nie as vleis bederf word nie. Boeta se maag het aanvanklik keer op keer opgeblaas as hy stysel en ander koolhidrate inkry. En as die maag opblaas, dan druk dit teen die ingewande. Die ander ingewande draai dan die maag, en met verloop van tyd knoop die dermkanaal waar die by die maag in en uit beweeg. Dan blaas hy op soos ʼn bees wat te veel lusern gevreet het.

Die veearts moes twee keer deur die buikwand ʼn snit in die maag maak, dat die gasse kan ontsnap en die stomme dier afblaas. Doen jy dit nie, sterf hulle.

Die derde keer, die Oujaarsnag, die aand toe ek Boeta die eerste keer Pa-se-seun genoem het, het die dokter bloot sy maag aan sy buikwand vasgewerk. Boeta het nog opgeblaas, maar soos hy opgeblaas het, het hy dan dadelik weer afgeblaas, sy ingewande kon nie meer knoop of soos ʼn ballon opgerol word om te keer dat die lug en gasse ontsnap nie.

Gevolglik was Boeta ʼn vreeslike poeper, ʼn onbeheersde poeper. En elke keer as hy so wind afblaas, dan is ons heimlik bly, want dan weet ons hy sou nou opgeblaas het, en ons sou met hom veearts toe moes jaag, ás dit nie vir Doktor Peck se slim operasie was nie.

Dis wat ons gister aanvanklik gedink het toe hy nie sy goeie selwers was nie – hy moes iewers iets verkeerds geëet het.

Maar na ons ʼn uur of wat terug was van die veaarts, en die fout eerder by water om die hart of op die longe gevind het, was dit duidelik, Boeta is sommer goed siek. En die gewone opblaasmaag is dit beslis nie. Allermins.

Ek kon sy roggelende asemhaling, gisteraand, met net een uur in my lewe verbind – die uur waarin my ma, in my arms, in haar eie liggaamsvog en -water verdrink het.

Ek en Annieka, en Klaradyn het geweet ons neem van Boeta afskeid. Daar in die kombuis waar ons ʼn spul van ons die lekkerste tye saam gehad het.

Ek het hom in ʼn stadium ingedra van buite. Ons het saam met hom op die vloer gesit waar ons saam op die vloer gesit het toe Klaradyn nog nie eers kon loop nie.

Ek het gewag vir die laaste roggel. Soos met Judy. Maar dit het nie gekom nie. Wou nie kom nie, kón nie kom nie. Nié met ons teenwoordig nie. Boeta is te veel van ʼn gentleman gewees om ʼn spektakel van sy heengaan te maak.

Ons al drie het ons uitgehuil, saam met hom in die kombuis. Of altans, só het ek gedink.

Na ek hom vanoggend op die plekkie wat hy vir homself gaan uitsoek het, gekry het, het ek Annieka egter beide besef dat ons in 11 jaar baie meer kosbare oomblikke en herinneringe opgebou het om oor te huil, as wat ons gisteraand ooit kon vermoed het.

Dit was ʼn voorreg om vir 11 jaar ʼn huis met Boeta te kon deel.

ʼn Huis, ʼn erf, ʼn lapa, ʼn stoep. Én ʼn swembad.

Ja, dis inderdaad wanneer ek hom seker die meeste sal mis. Boeta, my swem-en speelmaat wanneer ek en Klaradyn en Sussa en Snuffels Oktober gaan begin swem.

ʼn Voorreg, ja. ʼn Voorreg.



No comments: