Snaaks hoe ‘n mens party goed, hoe klein of gering of laf en
verspot dit ook al mag wees, nooit vergeet nie.
‘n Driemanskap waarin ek op universiteit was, het die
einde, die aller-einde se eindste laaste, met koek en melkskommel by Philippa
aan huis gevier.
Dit was die laaste keer dat ons drie, ek en Ian en Philippa,
saam as studente gekuier het – ‘n dag of wat later het ons elkeen ‘n eie, ander
rigting ingespat.
Die wortelkoek (in liefdevolle en tere herinnering aan die
lekker wortelkoek wat ons telkemale saam in ‘n koffiewinkel tydens ‘n Grahamstad-kunstefees
geniet het) het die leunende toring op Pisa na die loodregte Brixton-toring
laat lyk – so krom en skeef het die ding uit die oond gekom.
Meer nog – die koek was nog nie 100% afgekoel toe Philippie
die versiersuiker opgeplak het nie. Nee, kom ons wees nou maar eerlik: die koek was nog nie 5% afgekoel toe Phlippie
die koek versier het nie.
So toe sy met die koek een warm middag vroeg in November
1986 in die sitkamer aankom, toe het die versiersuiker soos stollende lawa teen
die ysingwekkende skuinstes van die koek begin afkruip.
Hoe meer ek die koek, nou, 28 jaar later, oproep, hoe
duideliker word dit vir my dat dit vandag as die een of ander eietydse
aardrykskunde taak oor geologiese landvorme deur sou kon gaan.
Maar die koek is nie die laf en verspotte ding van ons
plegtige afskeidsfunksie wat ek nog onthou en seker nooit sal vergeet nie – dis die
melkskommels waarmee ons vriendin daar opgedaag het, wat ek nog so helder soos
gister onthou.
Dis omdat daar iets soos sinestesie in was. Maar heeltemal
sinestesie was dit ook nie. Sinestesie is immers iets wat jy in die lettere en
nie op somersmiddag in ‘n glas opspoor nie.
Sinestesie, vir die wat vergeet het, of dit nooit geleer het nie (die sillabus het baie verander) is ‘n stylfiguur in die letterkunde waarin daar ‘n vermenging van die
sintuie plaasvind. ‘n Vermenging in dié sin dat iets wat gewoonlik met een
betrokke sintuig waargeneem word, nou aan die hand van ‘n ander sintuig
deurdring.
So het Sheila Cussons die geur van peper (iets wat jy ruik)
in een van haar gedigte aan die hand van pizzicato (om klanke uit ‘n viool
voort te bring deur die snare te pluk in plaas daarvan om dit te bestryk – iets
wat gehoor word) beskryf.
Nou daardie middag het die twee van ons wat in die sitkamer
bly wag het om te kyk hoe die versiersuiker teen die hange van Vesuvius afkruip,
terwyl Phlippie die melkskommel gaan maak het, iets van ‘n sinestetiese
ervaring gehad toe sy met die goed daar aankom.
In die kombuis aangekom had Philippa ‘n probleem: tussen die
botteltjies in die kas was daar aarbeigeursel, maar geen pienk of rooi
voedselkleursel nie; daar was groen voedselkleursel, maar geen kruisement- of
lemmetjiegeursel nie.
Die gevolg is dat ons elkeen met ‘n groot glas lime
milkshake in die hand staan. Dis nou as ons na oë luister – en sien is glo, onthou.
Maar toe ons sluk, en ons leen ons ore uit aan ons tong, toe is dit die ene aarbei.
Maar toe ons sluk, en ons leen ons ore uit aan ons tong, toe is dit die ene aarbei.
Dit was die vreemdste ervaring, die vreemdste gewaarwording.
Philippa het niks vooraf gesê nie, so ons het onverhoeds daarin getrap. Jy
verwag een iets, en kry dan iets gans anders.
Jare later, sowat vyf of ses jaar gelede, had ek ‘n
soortgelyke kulinêre ervaring wat my ook altyd sal bybly.
Ek kuier aan huis van Judit Tamata, ‘n Portugees-Angolese
oudleerling van 1988. Self kook sy lankal nie meer nie. En as sy vir baie
onthaal, kook nie een van die drie huisbediendes nie – sy kry die dienste van
‘n spysenier.
Tussen die skottels en skottels vol vleis- en toekosse op
die tafel dié aand, is ‘n reuselasagne. Dis asof ek hom na my hoor roep van die
oorkant van die reusetafel af. Dit lyk, op die oog af, na die lekkerste dis op
die tafel – en daar was vis en hoender en twee ander wit- én nog ‘n verdere
drie rooivleise op die tafel.
Daar is dit, op die oog af, toe ‘n eg-Italiaanse lasagne,
maar op die tong af, gans iets anders. Dis die suiwerste vorm van sinsbedrog,
soos Philippa se melkskommel: jou oog vertel jou een ding, maar jou tong en
neus ‘n ander.
Dis wat die ervaring so vreemd maak, daar sal mense wees wat
doktorsgrade daaroor doen. As jy in die lasagne in byt en iets heeltemal anders
kry, dan weet jy nie dadelik wat jy kry nie. Dis asof jou oë jou so oortuig het
dat dit lasagne gaan wees, is, móét wees, dat jou brein nie die ander sintuie
wil laat inskop om jou te vertel wat dit is wat jy toe op die ou einde proe en
ruik nie.
Soos met Philippa se melkskommel, het dit my ‘n hele ruk
geneem om te snap presies wat die heerlike dis is wat ek eet, wat ek ruik en
proe. En wat ‘n deurkruisde, byna kosmopolitaanse, ervaring was dit nie: tussen
‘n stuk of dertig swart Angolese vlugtelinge uit die sewentigerjare van die
vorige eeu, eet ek toe nié Angolees-Portugese hoender nie, ook nie, soos ek
vermoed het, Italiaanse lasagne nie, maar iets wat proe soos Kaaps-Maleise
bobotie.
En as ek sê Kaaps-Maleis, dan bedoel ek so Kaaps-Maleis as
wat Kaaps-Maleis vandag kan kom. Ek het die spysenier ontmoet toe ek en Annieka
so bobotie-lasgane-dis vir Annieka se verjaarsdag bestel het – die vrou was toe
nog nie ‘n jaar in Pretoria vanaf Kaapstad nie, en of sy ‘n Kaapse Moslem is,
sal ek nie kan sê nie, maar dat haar wortels enige dag in die Bo-Kaap kan lê,
is ‘n feit.
Twee keer aan huis van Judit, het ek dit geniet, en een keer
hier by ons met die verjaarsdag, maar nie weer nie. Die smaak en die geur en
die lekkerte van die ervaring, bly my egter by. Soos (vandag ook al “oorléde”-)
Philippa”, se melkskommel van destyds.
No comments:
Post a Comment