Aristoteles was heel eerste om die mens, by geboorte, met ‘n
leë
kleitablet waarop nog niks geskryf staan nie, te vergelyk. Meer as 1000 jaar
later sou dit bekend word as die tabula
rasa waarop elke gebeurtenis, belewenis en ervaring sy merk laat.
Diego Velazquez (1599 -b 1660) se Sybil met tabula rasa |
Dit was spottendergewys, maar daarna het ek myself al
telkemale in Klaarsie se grootwordproses hieraan herinner.
Destyds het dit gegaan rondom Klaradyn wat ons nie aan die
slaap kon kry nie – daar moes met haar gery word, somtyds om die blok, somtyds
Timboektoe toe en weer terug.
Nee ‘n pretrit in die stootwaentjie het dit glad nie vir
haar gedoen nie – ek sou doodmoeg en ontwater ses dagreise te perd by ‘n
vriendin in ‘n gans ander tydsone as Pretoria aangestap kom, dan sit onse
juffertjie steeds pikwakker en kiertsregop en kraai van die lag vir die
verbygangers...
Vir goed drie jaar van ons lewens het ons petrolverbruik en
die slytasie op ons motors die hoogte ingeskiet. En so sou dit seker vir nog
twee jaar kon aangaan, as dit nie was dat ons op drie vir die eerste keer met
die kind Kruger Wildtuin toe is nie – daar leer sy toe oornag om nie in ‘n
motor weg te dommel nie, maar met akute konsentrasie en afwagting diertjies en
tekens van lewe buite die kar te soek.
En dit was die einde van ons aan-die-slaap-ry van Sussie.
Maar voor dié hartseer dag uiteindelik aangebreek
het, spog ek by die skool op ons relatief maklike (weliswaar petrolrowende)
manier om die kind in ‘n oggend- of middagslapie in te kry.
En dis op daardie punt dat my vriend my daarop wys dat die
sielkunde al by herhaling bewys het dat sulke klas van goed nou maar een maal
die geneigdheid het om jare later, wanneer dit die minste verwag word, in die
vorm van ‘n letsel sy kop uitsteek. Ek moet byvoorbeeld nie verbaas wees as my
kind strakkies eendag haar wittebrood, nie op ‘n plesierboot nie, maar op die
agtersitplek van ‘n Cadilac, wil deurbring nie. Of skielik eendag net weier om
self motor te bestuur nie.
Ek is hierdie week weer daaraan herinner – nie ‘n
irrasionele kwessie rondom motors nie, maar die idee dat alles sy merk laat,
partykeer ‘n letsel.
Klaradyn is nou maar een maal die produk van haar ma en pa,
en die idee dat teenoorgestelde pole mekaar aantrek, was nog nooit so waar soos
in die geval van Johanna Catherina en Hans Jurgens nie.
So is ek versot op bordspeletjies (van Krabbel tot
Monopoly), kaartspeletjies (al is die 37 variasies van Solitaire die enigste
waarby ek die afgelope 12 jaar uitkom) en dobbelstene wat uit bekertjies gegooi
word (Poker en Yachtzee).
Annieka doen nie nie een van dit nie, en die rede is
eenvoudig – kompetisiegees laat ‘n monster van ongekende proporsies in my
andersins vredeliewende vrou opstaan. Winning
is not an option, it is the only thing. Dis óf alles óf
niks.
‘n Gemoedelike aand van speletjies is net ‘n gemoedelike
aand van speletjies solank Annieka of haar span, aan die wenkant is.
Ek is lynreg die teenoorgestelde, ‘n speletjie is speletjie,
dis vermaaklike tydverwyl, niks meer nie – ek kan maar wen of verloor, dit maak
nie saak nie – die proses, en nie die eindresultaat nie, is waarin die geniet lê.
En daar gaan Klaradyn mos vir vir sewe uur en dertien minute
in ‘n histeriese tranedal in, die tweede keer dat ons destyds Slangetjies en
Leertjies speel.
En daar moet toe agtien maande en twaalf dae verloop
alvorens sy dit weer oorweeg het om Slangetjies en Leertjies te speel, en nog
‘n verdere drie maande, enkele dae alvorens sy uiteindelik so ver gekom het om
inderdaad aan die speel te kom en dit nie net te oorweeg nie.
Die rede? Sy het een en twintig maande van te vore, ronde
twee verlóór,
nie gewen nie!
Sy was histeries. (Oor sy verloor het.)
Ek was histeries. (Oor haar heftige reaksie en die monster
wat in haar opgestaan het.)
En van toe af werk ek nou al vyf jaar daaraan om haar te
leer dat ‘n mens maar kan verloor, dis dooddollies om uit te val, wen is nie
alles nie – jy moenie omgee om te verloor nie.
As haar tablet nie van klei is nie, maar van marmer, dan
beitel ek die gedagte in die klip uit en giet gesmelte goud in die voortjies
dat dit helder en duidelik afgeëts staan in haar hele siel en wese.
Dis okey om te verloor. Jy hoef nie altyd te wen nie. Geniet
net die speletjie enduit, selfs al is dit van die kantlyn af.
Ag liewe hemel – gró-ó-ó-ó-ót fout!
En ons het nie nodig om te wag tot die storm- en drangjare
van tienderskap om slegte vrugte daarvan te pluk nie – die eerste oes kom maand
twee van graad twee.
Hulle speel ‘n lawwe speletjie in die klas. ‘n Lawwe
speletjie wat ek baie bly is hulle in my kind se klas speel, want dit getuig
uit en uit dat die Juffrou presies weet wat sy doen, en dat sy dit dit wat sy
doen, baie goed doen.
Juffrou roep lukraak getalle uit – is dit ‘n ewe getal doen
jy niks, is dit ‘n onewe getal spring jy op. Of klap jy. (Is dit nie wonderlik
nie – die kindertjies is 110% gefokus, hulle konsentreer so dat die rookwolke
by hulle ore en neusgate uitkom, én hulle dril en leer en oefen nie net
in die proses nie – hulle geniet elke oomblik daarvan!)
Ag, hemel, en daar hop of spring of klap my kind, toe sy nie
moes hop, spring of klap nie, óf sy vries toe sy die ritteltits moet
kry. En sy val uit.
En wat sê my kind, presies soos haar pa haar
ingedril het? “Ag, ek gee buitendien nie om om te verloor of uit te val nie.”
En omdat haar reaksie op ronde twee van Slangetjies en
Leertjies bewys het sy is haar ma se kind, is dit eintlik, natuurlik, glad nie
vir haar lekker om aan die kortste ent te trek nie, so ek kan my net voorstel
hoe snotty en vermakerig sy klink
terwyl sy dit sê.
En toe is die gort gaar, want nou moet die juffrou (en ek
sou dieselfde gedoen het) ‘n kind wat so ‘n traak-my-nie-agtige houding teenoor
haar skoolwerk inneem, en dit nogal op so ‘n uitdagende wyse, teregwys. En
omdat die kind, vanuit die juffrou se beperkte perspektief, haar uitgedaag het
om iets te sê
wat sy liefs nie moes gesê het nie, is dit tit
for tat, butter for fat en moet die een woord op die ander nóg
‘n ander troef.
En teen die middag toe het die muisie van klap (of nie klap
nie) toe jy nie moes geklap het nie (of moes geklap het) ‘n berg gebaar.
En na ons (Mamma, Pappa, Ouma, Klaradyn en Juffrou) die berg
tree vir tree uitgeklim en na die beste van ons gebrekkige vermoë
glad probeer stryk het, bly die lááste wat ek vir my kind kan sê,
presiés
dit wat ek vir haar wíl sê (maar nie mág nie):
“Pappa is bly dat jy geleer het dat dit okey is om te verloor. Hou dit asseblief
net volgende keer vir jouself en moet dit nie so helder en duidelik aan die
groot klok hang nie.”
No comments:
Post a Comment