Pages

11.2.12

Valentynsdag 2012

My ma en haar suster het jare lank hul eie rokkewinkel besit. Eendag in die laat sewentigs stap daar ‘n aster in op soek na ‘n inklimrok. Nou kyk, rokke was my ma se lewe, letterlik haar figuurlike brood en botter – daar was nie snit of ‘n styl of ‘n tendens, modegier of –neiging nie, of my ma het dit geken nie. Maar van ‘n inklimrok het my ma in haar dag des lewens nog nooit gehoor nie.
Maar hierdie kliënt praat van ‘n inklimrok asof dit ‘n alledaagse ding soos ‘n halternek, empire line, body suit of body skirt (dit wás die sewentigs!) is.
Toe die derde of vierde pakkie wat my ma uithaal en wys, steeds nie eers naastenby aan die regte ding herinner nie, vra sy toe ten einde laas wat vir ‘n rok ‘n inklimrok dan nou is.
 “Dis ‘n rok waar úit my boyfriend my vinnig kan laat klim, maar ek nog vinniger weer ín kan klim, as ons by die drive in vry, tannie.”
Met waarvan ek egter wil vertel, behalwe nou vir die feit dat dit oor die aankoop van klere gaan, hou hierdie herinnering geensins verband nie, ek weet trouens nie eers wanneer en hoekom en op watter punt dit nou vanmiddag skielik weer uit my verlede en onderbewussyn vorentoe gespring het nie. En dan nog só sterk aangemeld het, dat ek daarmee wegval nie.
Annieka hét genoem dat sy en Klaradyn na skool die Valentynsdag-ding gaan doen. Al waarby dít my egter by uitgebring het, is die gedagte dat my kind darem nou groot word – vir vier of vyf jaar het ons van Liefiedag gepraat, maar vandat sy grootskool toe is, het dit sommer oornag Valentynsdag geword.
Toe ek op skool was, was Valentynsdag die minste van al hierdie baie dae in die greep van die geldmag vasgewurg gewees. Al wat ons op laerskool gedoen het, was om kaartjies, wat ons self geteken of saamgeslaan het, te onderteken met woorde soos van jou geheime bewonderaar. Om jou identiteit bekend te maak, is nie oorweeg nie – Valentynsdag gaan dan juis oor daardie meisies waarop jy in die geheim ‘n ogie het, maar daar onder die son niks van sal kom nie omdat hulle tien teen een elkeen vyftien sulke kaartjies uit ‘n klas met sewentien seuns gaan kry.
Later kom CNA toe met gekoopte kaartjies. En toe begin daar Cardies-takke soos kosmos of opslag sonneblomme langs die pad, dwars oor die land en in elke dorp opskiet. En van toe af is dit verby – van die opwinding van ‘n kaartjie maak en skryf in ‘n handskrif wat jy doelbewus wil hê sy moet herken (of een wat jy doelbewus nie wil hê sy moet herken nie), van ‘n kaartjie wat jy onderteken met ‘n ondeursigtige skuilnaam, of een wat die voorletters as jou eie naam en van gebruik, of selfs die letters van jou naam geskommel uitspel, het niks oorgebly nie.
En is ons dan nou vandag waar ons vandag is – tussen einde Desember, begin Januarie se Terug Skool Toe-aanbiedings en promosies, is einde Desember, begin Januarie al skelrooi rakke en uitstallings met Valentine’s Day-crap. Dis om van siek te word.
Ek en Klaradyn is hier in die eerste week van skool winkel toe om brood te koop – en daar sien sy toe iets op die plaaslike Valentynsrak wat sy dan nou so graag vir Mamma wil koop. Eintlik is dit iets wat sy vreeslik graag eerder vir haarself sal wil hê, maar weet daar nie ‘n manier is dat ek dit nou, op daardie punt, vir haar sal koop nie. Toe vry sy maar daarna onder die voorwendsel dat dit vir Mamma is, maar in die hoop dat Mamma dit teen die einde van die veertiende na haar kant toe sal laat val. Nou dít was so lank terug dat ek letterlik nou al van verlede week af nie ‘n idee het waar in hierdie kleine huisie van ons ek en sy daardie aand Mamma se Liefiedag-pakkietjie weg kom steek het nie.
Verlede jaar, in graad 1, het daar prefekte omgekom en allerhande beertjies en ander kitch poef onder die kinders bemark – lankal nie meer bestellings vir rose wat by hulle geplaas word nie. En die heel kleintjies bestel dan mos die goeters vir hulself. Maar Klaradyn het geslaap, en toe sy uiteindelik haar geldjie uit ons het, toe is dit te laat – die prefekte is klaar met hul bestellings. Ons is toe inderdaad Cardies toe en ek het ten duurste ‘n onooglike rooi en wit ding wat iewers in Sjina bedink (gepleeg?) is, moes aankoop.
So toe ek, naïewe Pappa wat ek is, die oggend hoor dat die girls die middag die Valentynsdag-ding gaan doen, dag ek hulle gaan Cardies toe om ‘n geldjie op iets sinneloos te mors. Ek aanvaar toe net voor 14:00 die uitnodiging om saam met hulle winkels toe te gaan.
Maar ek het die pot mis gesit, ek het die pot ver mis gesit. Ek het vergeet dis nie net die klein-, medium- en groothandel wat goue ponde uit Valentynsdag maak nie – dis die skool self ook. Ja, dis lankal nie meer net op Lentedag dat jy ‘n geldjie betaal om in gewone klere skool toe te kan kom nie – die skoolfonds kan nie wag tot September nie; middel Februarie nou al gee die kinders se ouers ‘n arm en ‘n been prys om die kinders tog net in gewone klere by die skool te kry.
Ja, daardie arm en been lê nie in die vyf randjie wat jy skool toe stuur opgesluit nie, dit word opgeslurp in die uitgee van dit wat oor is na die water-en-ligte en versekering af is, en dit vir ‘n piksplinternuwe rooi of pienk uitrustinkie.
Dit voel soos gister dat ons ‘n jaar gelede inkopiesentrum toe is vir ‘n dolle gejaag agter ‘n rokkie aan. Ek verbeel my ons is daar weg met twee pakkies – vir ingeval dit, soos met elke lentedag die geval is, skielik koud of winderig of nat is as die son die oggend van die veertiende Februarie opkom. En hier is dit al weer sulke tyd.
Ek het natuurlik ‘n lewensgroot lewensbeswaarlikheid teen hierdie klas van klere aankoop – ek kry die kind se stomme man van eendag by voorbaat so jammer. Nou word sy opgevoed en grootgemaak met die nosie dat daar vir elke bakatel spesiaal ‘n nuwe rok voor gekoop moet word.
Ons sit hoeka met drie of vier rooi of pienk pakkies wat Desembermaand aangekoop is. Sy het nog nie een van hulle skool toe aangehad nie, maar nee – dis ou klere, ons moet iets nuuts vir Valentynsdag koop. Arme man! Hy gaan ook, soos ek, maar eers later moet uitvind dat hy nie ‘n idee had waarvoor hy hom ingelaat het nie.
Die Valentynsdag-ding waarna Mamma so eufemisties verwys het, word toe die Valentynsdag-draak en –monster wat Pappa soos ‘n wafferse hoofse minnaar van ouds moet onthoof om te bewys dat sy liefde die damsel in distress waardig is.
Ek het genoem dat ek die uitnodiging voor 14:00 aanvaar het – 13:30 toe die skool uitgekom het, om presies te wees? Laat ek dan meld dat ons na 17:30, nader aan 18:00, die parkeergeld by die outomaat betaal het.
Met die uitsondering van Fochini’s, Truworths en Miladies was ons by elke denkbare winkel en kettinggroep wat enige vorm van kleding verkoop. Ek het nie geweet dat ‘n sentrum so baie winkels kan hê wat kinderklere verkoop nie – trouens in kinderklere spesialiseer en suiwer op kinderklere afgestem is nie.
Ons was in net een van hulle nie in nie – dis die een waarvan Mamma gesê het dat dit nie help ons gaan daar in nie – “dis die een waarin jy jou verlede jaar so vererg en sleg gedra het oor die goed se belaglike pryse.”
En ek het my middag hoeka begin om vir ‘n winkelassistente te sê dat haar 50% afslag op ‘n klein boksie kersversierings wat na naeltjies en kaneel ruik steeds belaglik is en dat ek kan verstaan waarom, en geensins verbaas is nie dat hulle Februarie steeds met Desember se Kersfeesvoorraad sit nie. Die boksie goedjies (dennebolletjies en so) wat Desember ‘n belaglike R860-00 gekos het, is twee maande later steeds ‘n ewe belaglike R430-00. Ek sou Desembermaand al hoogstens R50-00 daarvoor betaal het, en dan suiwer ook net omdat ek deur die gees van Kersfees weggevoer is.
Maar dit daar gelaat. Mamma kry by die eerste winkel iets wat volgens haar perfek sal werk, maar die kind nie welgeval nie. Mamma kry in die tweede winkel iets wat net so goed kan werk, maar die kind ruk uit met iets wat gevaarlik baie klink soos “over my dead body”. (Waar sy daaraan kom weet ek nie.)
Iewers, Mamma was missing in action, stuur ek haar agter die gordyne in met ‘n lieflike gestroopte slooprokkie en die opdrag dat sy móét uitkom om my te wys hoe dit lyk. En al wat uitkom is Klaradyn. Net toe ek op die punt is om ‘n vreemde vrou in te stuur om na haar te gaan roep, kom Klaradyn uit – in haar gewone klere. Ek wil sommer raas, maar Klaradyn vertel onderlangs:  “Daar is nie ‘n manier dat ek in daardie rokkie kon uitkom nie, my tieties het uitgesteek toe ek hom aan het.” Ag siestog, die arme kind – ek het haar toe al die tyd op 7 met ‘n 14-jarige se bloes ingestuur, denkende dat wat sy in haar hand het ‘n lieflike gestroopte understatement van ‘n slooprokkie is!
Teen die twaalfde winkel kry nie een van ons iets waarvan een van ons kan hou nie. Die kind is in ‘n stadium amper in ‘n swart spanbroek in wat soos ‘n tweede vel pas, maar daarvan kon ek hulle gelukkig laat afsien. Op pad uit hierdie winkel uit, en dit was ses dagreise te perd na die uitgang toe, tref die oog iets wat ons nog nie aangepas het nie. Ek het gehoop dis iets wat ‘n rok is, maar toe die prinses uit die aanpashokkie kom, is dit duidelik, hierdie is nie ‘n mini nie, dis ‘n bloesie – ons sal iets vir die onderste helfte moet kry. Maar, soos Mamma tereg opgemerk het, “dit help nie eers ons kyk hier nie, hier is nie, ons sal elders moet gaan krap.”
Toe sien ek die prys! Ek betaal nie eers soveel ‘n hele uitrusting (skoene, hoed en handsak ingesluit) nie – nou wil hulle dít vir ‘n lap bloesie hê, daar is nie ‘n manier nie! En al wat Ma sê is dat ons nie nou kleinkoppie kan trek, noudat ons die kind se hart op die ding gesit het  nie.
Ons val in die tou, betaal en gaan soek ‘n onderste helfte.
So stap hulle toe verby ‘n eksklusiewe winkeltjie waar ek my in die verbygaan verbeel ek ‘n iets sien wat lyk of dit miskien net sal kan werk. Ek roep hulle terug – in hierdie stadium is Mamma al vir twee ure bereid om tog net more of oormore terug te kom solank sy net nie nóg verder moet soek nie – en ek was reg, daar ís iets.
Terwyl hulle aanpas, val my oog egter op die pienkste perfekste ander pakkie wat ek deur die deur aangee. En toe is dit verby – die kind raak verlief daarop, Pappa dink klaar dis die mooiste wat daar is, en Mamma moet bieg dat sy saamstem.
Om ‘n baie lang storie kort te maak – Klaradyn gaan Valentynsdag die mooiste dogtertjie in die ganske skool wees.
Dis so ‘n pikante pienk John-Boy-Walton-pretpakkie, soos ‘n Dirndl van bo met lederhosen van onder maar alles in een gesny – te lieflik.
Toe sy dit aanpas sê sy glo vir haar ma:  “Ek hou daarvan Mamma, want dit is so plaserig.”
Nou kyk, ek stuur my kind honderdmaal eerder soos ‘n onopgesmukte plaasmeisie skool toe, as opgetert in ‘n stadspakkie. En ek weet sy gaan lekkerder speel, want dis ‘n broekerigheid en ‘n rokkie nie.
Die bloesie is natuurlik nou nog steeds sonder ‘n onderstel, maar dit maak nie saak nie, almal is gelukkig – die bankbestuurder natuurlik die meeste van ons almal; nou kan hy nóg meer rente uit die Moolmans verdien.

Naskrif:  Daar onthou ek ook nou waar ek aan die inklimrok-herinnering kom. Ek het gewonder wat my kind gaan doen as sy wil gaan kamerverlaat. Gaan sy uit en weer in hierdie eenstukpakkie kom.

No comments: