Hier in my beginjare van
onderwys het ek skoolgehou vir ‘n kind wat in sy matriekrekordeksamen uitgevind
het dat sy sussie eintlik sy ma is en sy ma toe al die jare sy ouma was.
‘n Mens moenie opsien na jou
kind se matriekjaar en -eksamens nie, en dit sal vir my ‘n wonderlike voorreg
wees as ek en Annieka en Klaradyn eendag vir mekaar gespaar kan bly om elkander
deur die kind se matriekjaar te sien, maar ek sidder nou al by die blote gedagte
daaraan.
As ek gruwelik veralgemeen het
in my taksering van leerders wat middel van die jaar van vreemde skole inkom,
gaan die volgende twee stellings dalk ook soos veralgemenings klink, maar dit
is nie, glo my vry – dis feite soos koeie en kan deur jare se ondervinding
konstateer word:
‘n Kind, seun of dogter, wat in
elf en ‘n half jaar van onderwys en opleiding nooit eers malvalekker- ligte
pienk rooskleurige hakskeentjies gehad het nie, ‘n kind wat in al die jare nie
eers van ‘n onderdeur bewus was om oor te loer nie, slaan in ‘n matriekjaar sulke
bloedrooi, vuurrooi hakskene uit dat al die water in die see dit nie kan blus
nie – en dan spring hulle nie net oor die onderdeur nie, hulle torpedo sommer
dwars deur die deur, en as daar nie ‘n deur is nie, gaan hulle sommer nog deur
die muur ook en skep hul eie deur.
Nie wanneer nie, slegs op een
van hoogstens twee geleenthede in hul matriekjaar: voor of in die rekordeksamen, en knap duskant
of midde die eindeksamen.
As jy ‘n ouer is, is die kanse
49% dat jy sal beaam. En as jy nog nie ‘n matriekouer is nie, is die kanse 100%
dat jy deel van die 49% gaan wees wat wel teen daardie tyd beaam.
Die teendeel is ook waar – nie
alle kinders is immers dieselfde nie: as jou kind deel van die ander 49% is wat
al op laerskool oorle’ ouma se voetstoeltjie nadergesleep het om voortydig bo
die onderdeur uit te toring, as jou kind se rooier as rooi hakskene al hier
teen standerd 6 uithang, op die grond sleep en vir die hele dorp (nie net vir
jou en jou gesin en jou ganske voorgeslag nie) ‘n verleentheid is, kan jy maar
weet – teen die einde matriek is dit oor en verby, asof dit nooit was nie en as
jy wil keer dat jou ysblokkies smelt, gee jy dit net vir jou kind om vas te
hou.
Natuurlik ook nie wanneer nie,
maar in of rondom die rekord- of eindeksamens. Dit kan mos nou nie anders nie.
En of jou kind dan nou tydens
daardie eksamen in rat skop, of uitskop, maak nie saak watter kant toe nie –
dit gaan vir hom of haar uitklop, so uitklop dat die hele eksamen een van die
onaangenaamste ervarings van julle hele skoolloopbaan is.
En dan het ek nog nie die moeite
gedoen om die statistiek uit te werk nie, maar soos ek dit het, oorval die
liefde (of val dit nie óór nie, maar onherstelbaar úit) die stomme kinders
klokslag, altyd, net voor die belangrikste vraestel van die belangrikste vak –
daardie vak waarvan die universiteitstoelating afhang. Dis nooit iets soos
Engelse opstelle nie, maar Wiskunde se derde vraestel of Skeinat se Fisika
(behalwe nou as dit die Chemie is wat hy of sy tot in die rekordeksamen nog
gedruip het).
En dis nag.
My ouma het graag gesê
dat die liefde jou soos ‘n groot poef oorval.
Dis natuurlik wat my ouma gesê
het nie, maar dis die woorde wat ek veiligheidshalwe gebruik as ek met die
leerders werk.
Ons kan dit ook Bybels
stel: “Die liefde oorval jou soos ‘n
dief in die nag en daar is niks wat jy kan doen om dit te keer nie.”
Self weet ek nie watter een van
die twee die ergste is nie: die hallo
of die tatta nie, beide is immers ewe
ontwrigtend en maak dat jou tiener se kamer en gemoed amptelik tot rampgebied
verklaar word.
49% en 49% is 98%; wat het van
die ander 2% geword?
Nee, daar is uitsonderings en
hierdie uitsonderings is meer bekend – die uitsonderings is immer so dankbaar
oor hul uitsonderings dat hulle hul uitsonderlikhede aan die groot klok hang.
En ek het so tussen twee skole
heen eers vir drie van ‘n gesin se vyf by die een skool skoolgehou, en toe die
jongste twee by die ander skool so twee jaar uit mekaar in my klas gehad.
Nie die oudste drie nie, maar
die oudste vier is ongeskonde deur de leste matriekeksamen, ongedeerd van die
grootste vraestel tot die kleinste, ligste toets, die hele matriekjaar lank. En
toe word hulle teen die grond geklap met die jongste telg. Maar so geklap dat
ek nie hier daarvan kan vertel nie.
Maar daar is 2% wat nie deel van
die ander 98% deel vorm nie. Die helfte van hulle trou nooit nie (of bly nie
saam nie) en die ander helfte is daai outjies wat op skool al kys en uitgaan en
iewers na skool in die huweliksbootjie klim en die lewensreis voortsit...
Maar dit was basies ook maar al – ek het net ‘n uur agter die rekenaar
gehad terwyl ek vir Klaradyn in die motor gewag het. Dié
stukkie gesels was eintlik maar net om die tyd om te kry – dit sou in ‘n oorvol
legger van onvoltooide bloginskrywings op my rekenaar beland het. Soos iemand
anders toonlere sit en oefen, het ek vingeroefening agter die rekenaar gedoen.
Twee het verby my gestap, ek was nie seker of dit ma en dogter, of
sussie en ousus is nie.
Toe onthou ek die kind uit my beginnerjare in die onderwys en die skok rondom sy ma en
sussie wat toe nie sy ma of sussie was nie.
En toe is dit nie lank nie, of ek is by my eie lappie groen koring op
die land, en ek sien daai koring op pad na geel toe in ‘n matriekjaar.
Maar met die klim die einste korreltjie koring toe nou ‘n rukkie later
terug in my kar.
Sy het die naweek ‘n CD van
Laurika Rauch gesoek en oor ek weet hy is in die motor, het ek hom vir haar in
die gereedheidshouding gekry. Maar toe wil my kind nie die Bobbejaanliedjie
waarvan sy die naweek gepraat het, hoor nie, nee, sy soek die een van die twee
wat nie by mekaar uitgekom het nie.
Ek het natuurlik nie ‘n idee waarvan sy praat nie, (twee wat nie by
mekaar uitkom nie, Skat, wat vir ‘n lirdjie is dit?”) en spring rond van snit
tot snit.
En toe die regte akkoorde inskop en die eerste note opklink, toe sê sy dis die liedjie wat sy soek en sy
begin summier saamsing.
O, ma swak hart, my korreltjie koring, skaars nog ontkiem...
Jasper onthou jy ons belofte gemaak
Dat ons mekaar sou liefhê – ons was agt
Ek in my groen skooljurk
En jy smart in krieketgoed
Met die duiwe as ons dom’nee
Ons getuie was ‘n hoed
Jasper onthou jy ek het eenkeer verdwaal
In daai bangmaak populierbos – ons was tien
Ek het stil gaan sit en sag gebid
Geweet jy sou my kry
Jy sou soek en soek want niemand
Was al ooit so lief vir my gewees nie
Refrein:
Maar ons stofpad saam het teer geword
Jou spoor kon ek nie sny nie
Ek het weer verdwaal en verdwaal gebly
En gehoop jy sou kom soek na my
Maar jou seunskind hart het aanbeweeg
Jy’t nou die oë van ‘n man
Jasper onthou ons kleintyd saam
Onthou my gou weer – as jy kan
Jasper onthou jy ek was nerf-af geval
Toe daai lang ou my gestamp het -
Ons was twaalf
Jy’t my opgetel en weggedra
Die pleister self geplak
En daai boelie sommer vreesloos
In die fietsloods kaalvuis aan gaan vat
Jasper onthou jy toe jy weg moes gaan
Na daai ver dorp innie vreemde
Ons was groot -
Groot genoeg om seer te kry
Te jonk om te kan keer
Better loved and lost than never loved
Dit sou die tyd ons hard-hard leer
Refrein
Brug:
Ek bly nou op ‘n anner plek
Het nie lank na jou daar weggetrek
Het jou nommer nou die dag by navrae opgesproor
As ek jou sou bel en sou vertel
Dat ek steeds van ons twee droom
Sou jy sê jy droom ook steeds van my
Of is ek lankal reeds verloën
Refrein
(Woorde en musiek: Mariki de Villiers-Knop - Uitgewer: Ms Samro)
Ag, en toe (my kind is 7 op pad na 8, die
stem in die liriek was 8) op daardie punt zirr dit toe in my kop van lyne en
verbande en aanknopingspunte en groot word en liefde.
En ek weet dit maak nie sin nie.
Maar tog ook so bietjie.
So toe kom maak ek dit maar klaar.
En die begin en die einde is nie aaneenskakelend
nie, ek weet. Dis beslis darem ook nie teenstellend nie. Eerder verbandhoudend,
dan.
Op ‘n Maandagmiddag na Voortrekkers was dit
vir ‘n ruk lank egter so verbandhoudend dat dit vir my direk aaneenskakelend
was en ek daarom nie anders kon as om dit aan te teken nie. Miskien weet ek
eendag hoekom ek dit moes doen.
Laat daardie eendag asseblief tog net nie in
my kind se matriekjaar wees nie.
No comments:
Post a Comment