As dit nie was dat haar brein haar grotendeels vooruitgegaan en voortydig ontval het nie, sou my ma tot ‘n week voor haar afsterwe nog van my kon sê: “As sekere dinge nie aan jou lyf vas was nie, het jy dít ook al lankal iewers vergeet of verlê.”
Die eerste keer toe sy dit kwyt geraak het, was ek nog so klein dat ek geensins die speelse strekking van haar woorde gesnap nie – ek was nog hopeloos te jonk.
Nie dat dit vandag, hier, enigsins oor enige een van “daardie dínge” (of goeterstes) gaan nie – hierdie is immers ‘n openbare platform – eerder die vergeet en verlê en die verloor.
Sien, ek het dit vandag weer gedoen:
Dis meer as ‘n halfuur se ry, deur ‘n poort tot anderkant die Magaliesberg om Klaradyn by haar drama-speelgroep uit te kry.
En dan is ek nou nie iemand wat stil in ‘n kar in die son kan sit en wag nie.
Vanmiddag gaan koop ek toe haaskos en kokketielsaad oor ek Saterdag te lekker in die bed gelê het toe ek op moes gespring het en deurgeskiet het Boeremark toe.
En vandaar moet ek deur Sinnoville-slaghuis toe, ook nie “moet” nie, maar “wil”: hulle beestonge is altyd lekker klein en kook lieflik sag uit om koue tong vir ete te kan geniet. En dan soek ek twee skaapnekkies wat ek oornag murgsag in die prutpot gaar wil kry – na so ‘n nag “skil” jy die vleis van die been af soos jy ‘n turksvy se skil van die vrug afskil.
Ek en die dame agter die vleis gesels heerlik en ruil resepte uit – ek loer bykans weekliks daar in, juis omdat dit vir my so lekker is om by die betrokke slaghuis en sy dames in te loer – dis die naaste wat ek ooit in SA aan een van die gemoedelike klein Duitse metzgerei gaan kom.
En toe moet ek gaan kos kop vir vanaand – die nek moet immers oornag in en die tong is vir koud saam met slaai.
Ek het nie die wêreld se tyd meer oor nie, maar ek is Pick & Pay se gange kruis en dwars op en af sonder om iets te kry wat ek my kan voorstel lekker vir aandete gaan wees.
Op die ou einde is ek terug slaghuis toe – kouevleis en slaai sal dit dan wees.
Ek betaal vir die paar Pick & Pay-goedjies en gaan groet vir ‘n tweede keer die dames in die slaghuis.
Ons praat die praatjie rondom Annieka se gordelroos en Klaradyn se waterpokkies klaar – ronde 1 het die telefoon gelui en ek kon nie wag nie, ek is toe maar uit.
Hierdie slaghuis maak nog sy eie kouevleise soos ek kleintyd op die plaas leer ken het, so ek is in my noppies toe ek met my pakkies uitstap.
Gelukkig is ek nie berede nie, anders was dit ‘n dagreis te perd oor die berg en huis toe, maar vyf en veertig minute later dra ek en Klaradyn die pakkies in kombuis toe.
En toe ek die tong en die nek (eerste inkopies van drie betaalpunte) wil bêre, toe is dit net mooi nêrens nie: nie reeds in die yskas nie, nie steeds in die motor nie, nie in die kombuis nie en ook nie in enige een van die drie honde se pense nie.
Ek maak ‘n hooflynoproep na ‘n vriend anderkant die berg om te kyk of hy die slaghuis se nommer vir my het. En dis nie 10 minute later nie, toe bel ek hulle.
En dit is toe ook so – ja, my twee sakkies vleis wag vir my. Nee, ek het dit nie by hulle vergeet nie, maar in die Pick & Pay-trollie. (Ek was haastig.)
‘n Dagreis te perd terug? Geensins. Die een dame bly hierdie kant van die berg (ook net ‘n Pretorianer wat van die Magaliesberge se voetheuwels wat hier deur die Moot loop, as ‘n berg sal praat) ‘n katspoegie van my af – ek kan dit sommer by haar kom optel as sy na werk tuis kom.
So gesê, so gedaan.
Toe vertel ek haar van die keer, so vyf jaar gelede, toe ek, ook anderkant die berg by Kollonade, vir my ‘n nuwe rekenaar gaan koop het. Maar ook nie net ‘n nuwe rekenaar nie (kas en skerm en sleutelbord en luidsprekers), ook ‘n drukker en ‘n aftaster.
Dit was donker toe ek na ses uit die winkel stap; my motor was eenkant en alleen.
En toe ek ounag die drukker wil koppel, toe kyk ek selfs onder die motor se karmatjies, maar kry niks nie.
Ek bel toe die volgende oggend die winkelbestuur se kantore.
Hulle sit my deur na veiligheid en sekuriteit.
En ja, so waaragtig, ‘n motorwag het op die trollie afgekom, en daar onder, waar ‘n mens gewoonlik die sak lemoene of groot sak hondekos bêre, daar het hy my aftaster opgespoor en gaan ingee, soos dit hoort.
Bid jou dit aan!
En as iemand ooit gewonder het hoekom ek en Annieka net een kind het... moenie vra nie, dis ‘n lang storie. Oor goeterstes wat kan afskroef, en laat lê en vergeet word, en so voort, miskien ook.
Maar darem nie regtig nie.
Stel jou voor.
Dit sóú met my kon gebeur het.
No comments:
Post a Comment