Pa en Dogter het gister, vanuit Pa se perspektief, ‘n lieflike dag saam gehad. Vanuit Dogter se perspektief was dit nie lekker nie, maar soos sy dit stel: “lekkerder as lekker.”
Dit was vroeg in die week al duidelik dat ek en sy Saterdagoggend vir onsself gaan hê, terwyl Ma takies en dingetjies (wat eintlik nie takies en dingetjies nie maar TAKE en DINGE is) by die skool aan het. Ons het gelukkig eers 15:45 nodig om by haar aansluit.
Die Boeremark, vroegoggend, sal lekker wees – en vandaar af beweeg ons na die Hazelwood kosmark, ‘n katspoegie van die skool af.
Maar dit sal net vir Pa lekker wees – watse plesier sal dit nou vir ‘n sewejarige inhou.
Hugo, sal dit dan wees. Na ons die eerste keer al die voorprent gesien het, het ek geweet dit sal nie ‘n Pappa-Mamma-en-Klaars fliek kan wees nie – Pappa wil dit kyk; vir Mamma lyk dit donker.
Toe lees ek iewers langs die pad dat die ding het pryse en Oscars en toekennings gekry het, die akkolades het glo ingestroom. Selfs Ma noem haar haarkapster het te vertelle dat dit ‘n lieflike fliek is. My barometer wie se oordeel ek te alle tye vertoue is ‘n vriend met drie kinders, die jongste so bietjie jonger as Klaradyn, die oudste se bietjie ouer.
Hy oortuig my net verder.
Maar toe ek Vrydagaand wil kyk hoe laat en waar die fliek orals wys, is die teleurstelling baie groot: aldus Ster Kinekor en NuMetro se webwerwe wys die fliek, wat Gauteng betref, nog net in Johannesburg, in Sandton en Rosebank.
Nou, kyk, daar is nie ‘n manier nie – as jong verliefdes en selfs as pasgetroudes het ek en Annieka gereeld deurgeskiet Johannesburg toe vir ‘n fliek, selfs op weeksaande in die middel van die skooltermyn, maar dit was baie jare gelede.
Dis egter ook net tot ek tot die besef kom dat ék nie noodwendig hoef te ry nie, die masjinis (of deesdae seker bloot die operateur) van die Gautrein kan mos die bestuurwerk doen.
Klaradyn, klein snip wat sy is, wil nog haar ma se woorde wat dié haar twee maande gelede voorgepraat het, die van die fliek wat kwansuis “donker” is, eggo (sy wil-wil nie net nie; sy doen dit trouens) maar toe sy eers die moontlikheid van ‘n treinrit hoor, is dit so goed soos ek proe klaar die volgende oggend se springmielies in my mond.
En toe is dit vroegoggend (vroegoggend want ek wil 07:30 reeds op die trein wees) duidelik dat Klaradyn hiervan uit en uit ‘n Pappa-en-Dogtertjie-dag gaan maak. Ek het my Mad Dogs-hemp aan, en skielik dring sy daarop aan om ook een van haar twee Mad Dogs-hempies (wat sy, tot my en Annieka se spyt) nóóit wil dra nie, aan te trek. Maar ons sukkel met ‘n gepaste broek en daar is selfs trane in die verband.
Ma is self nou lank nie meer haar sprankelende selwers nie – ons dag weeg darem nou aansienlik lekkerder op teen haar oggend wat soos ‘n berg voor haar uitgestrek lê.
Ek oorweeg dit selfs in ‘n stadium om die hele oggend te kelder, maar gelukkig het my Engelse skoonsus my toe, ek sommer nog baie klein was, bekend gestel aan die Engelse spreekwoord wat lui don’t cut off your nose to spite your face.
Ons is inderdaad betyds vir die O7:00-trein en toe Annieka knap na O8:00 bel om te hoor of ons darem al op ‘n trein is, stap ek en Sussie al in Sandton City rond. Ons is trouens pas verby die Häagen Dazs-roomyswinkel en ek wat vir haar sê dat ons vandag net één ding móét doen. Maar voor ek nog kan uitbrei en sê dat ons voor huistoegaantyd daar ‘n roomys móét koop, trek sy, immer aan my hand as ons vreemde waters betree, los met: “Ja, Pappa, ons móét net een ding doen, en dis om die hele dag lank alles te geniet.”
Ons kon ‘n uur of ‘n halfuur voor die aanvang van die fliek op die stasie wees; ek het doelbewus gekies om dit veiligheidhalwe maar ‘n uur te maak – netnou “verdwaal” ons, of is daar iewers ‘n iets in die drinkwater en is ons nie betyds nie.
Toe gaan ontbyt ons maar en beland in ‘n plek wat buffet-ontbyt aanbied. Nou dis die ander baie spesiale Pa-en-Dogter-lekkerte: Ma sal altyd iets a’la carte bestel, terwyl ek en sussie die avontuur beleef van by herhaling opstaan en buffet toe stap om ons daar aan talle klein porsies van die interessantste goedjies te help.
Ek het geweet my kind het ‘n lekker ervaring toe sy halfpad deur die ete opmerk: “Pappa, wanneer ek eendag trou, wil ek hê dit moet hier wees – alles is só mooi.”
Nou, Hugo draai al langer as ‘n maand, dis Sandton City, 09:00 op ‘n Saterdag-oggend: diegene wat nog nie die fliek gekyk het nie maar wel wil kom, slaap almal nog – dis net ek en Klaradyn en een ander man in die grootste fliek waarin ek en Klaradyn nog ooit saam was.
Ek en sy sit in/op een van die vrybankies waarvan ek nog net gehoor het – dis twee sitplekke langs mekaar, maar die armleuning tussen die twee is verwyder en die skerm waar jy bespreek, verduidelik dit is intended for couples.
En omdat ons regtig net een ander mens in die fliek het – ons het trouens eers aan die einde toe die ligte aan gaan en ons uitstap, van hom bewus geword – doen Klaradyn toe iets wat enige kind altyd in 3D-fliek wil doen, maar nie kan doen nie omdat daar te veel mense is en Ma sal raas: sy probeer die balletjies en brokkies en wat-ook-al die regisseur van verskillende 3D-advertensies op die kyker laat afpyl, vang. En ook nie lank nie, toe is dit twee kinders wat onbevange sit en goeterstes in die donker sitplek sit en vang. Te lekker. En as ons nie vang nie, dan koes ons met net soveel oorgawe.
As ons nie vandag (Sondag) ‘n maatjie se verjaarsdagpartytjie aan gehad het nie, het ek en Klaradyn én Mamma vandag weer deurgeskiet Johannesburg toe om die fliek te gaan kyk – hierdie keer sodat Mamma dit ook kan sien en geniet soos dit geniet moet word. Ek weet Annieka sal dit geniet, baie geniet en dis ‘n jammerte dat sy nou vir die video-ervaring in die sitkamer, in plaas van3D op ‘n regtige egtige baie groot grootskerm, sal moet wag.
Die voorprent kan misleidend wees en by sommige mense die indruk wek dat die fliek “donker” kan wees, maar dit is glad nie die geval nie. Die tema word duidelik op nie minder nie as vier maniere aan kinders uitgespel: Dit is nie, soos ons almal so lief is om te sê, net flieks wat gekenmerk word aan gelukkige eindes nie; in die werklike lewe leer ken ons ook gelukkige eindes, baie, gelukkige eindes (meer as een) én baie gelukkige eindes (geluk in oormaat).
O, en Martin Scorsese speel lekker met sy gehoor: in ‘n stadium neem hy ons deur ‘n toneel wat dan gelukkig net ‘n droom blyk te wees; die hoofkarakter skrik natgesweet wakker. Maar dan skrik hy nie wakker nie, dis net ‘n droom – hy droom in sy droom hy skrik wakker, maar droom verder; dis eers as hy die tweede keer, hierdie keer regtig, uit sy droom wakker skrik, dat ons besef hy het netnou net gedroom hy word wakker uit ‘n droom.
En dan is elke raampie ‘n skildery, ‘n visuele meesterstuk, op sy eie en in eie reg. Die fliek is mooi, nie mooi nie, lieflik, maar elke toneel, elke skoot, bykans letterlik elke raam, is esteties, vir die oog, mooi, trouens mooi verby.
En Klaradyn het dit ook geniet. Dis sy wat my toe weer vang, toe ons uitstap, met: “Nee, Pappa, ek het nie van die fliek gehou nie... ek het sommer báie van die fliek gehou.” Te wyte aan haar daarom dat ek die leser nou al twee keer met iets soortgelyks konfronteer het.
Toe ons twee uur later uitstap, toe lééf daardie sentrum, dis ‘n miernes. Ons kry ons Häagen Dazs (ek het letterlik laas in 1994 iewers in Europa regte egte Häagen Dazs geëet) en gaan geniet dit soos twee wafferse toeriste op die trappe langs die voormalige staatspresident se bronsbeeld op die plein.
En so amper is my kind toe kind-alleen gestrand in die vreemde. Want toe ek vir die 6 bolletjietjies roomys betaal, toe slaan die man my toe R165-00 vir die twee kleine bakkietjies met drie skeppietjietjies elk in, aan. Maar ek slaan nie op die plek morsdood nie, ek bly staande en gee baie subtiel met my lyftaal te kenne dat dit tog sekerlik nie die prys van 6 bolletjies roomys in twee palmgrootte bakkies kan wees nie. Maar nou is dit Sandton, nou is dit Häagen Dazs. Die man kom toe gelukkig sy fout agter en in plaas daarvan dat die ses skeppies roomys my R165-00 uit die sak jaag, kos dit my, ‘n tweede herberekening op die kasregister later, net R120-00 rand.
Dis hoekom ons nie regtig soos wafferse toeriste op die trappe langs Meneer Mandela gaan sit het nie – ek het eintlik daar neergeval, uitgepaas soos die kinders dit in hul opstelle spel.
Na ek my lewenskrag herwin het (my beursie was daarna nog nooit weer dieselfde nie) is ons seker vir twee ure boekwinkels toe – eers na die een Exclucive Books op die plein, en toe die ander een in die sentrum self.
Daar was baie waarvoor ek sou kon en sou wou swig, maar bly daar dan nou vir jou oor as jy die dag alles wat jy jou oë op lê kan koop?
Ons is betyds terug by ma gewees, het lekker hokkie gekyk, en heerlik vroeg gaan slaap.
Soos Sheila Cussons dit so mooi in een van haar gedigte stel: “te goed is hierdie dag om net aan my te gee”
Daarom dat ek ook nie anders kan as om dit te deel nie.
No comments:
Post a Comment