Dan sal daar na die oopgooi van my wortels in die foto’s
hier bo, seker, ten spyte van die duidelike uitspel daarvan, steeds diegene
wees wat nie kan verstaan dat ek beslis nie langs die pad by ‘n Golden Egg, Steers, Wimpy, One Stop, Ultra
City of selfs ‘n plattelandse dorpie se handelshuis of tuisnywerheid wil
aftrek nie.
En dan is dit nie dat ek ‘n probleem het met die vernuftige
vermenging van gemaalde hart, long, poephol en tong wat hierdie plekke jou
olierig gaargemaak en in cholesterol deurdrenk as hamburger-pattie aanbied nie – daar is immers niks wat die
talle giftig en verbode middels in die allerhande souse wat elkeen van hierdie
plekke bied, nie kan verdoesel nie.
My enigste probleem met die meeste van hierdie kitskosplekke
is die negatiewe effekte wat hul bereidings- en enkele ander ongesiene prosesse
op die behoud van die groen gordel reënwoude om die aarde en die osoonlaag
het. Maar dit gooi ek, ook maar net ‘n mens, maklik ‘n blinde oog as ek weg byt
in een van hul broodjies of burgers wat met niks anders nie as ewe menslike
spoeg aanmekaar geplak is nie.
Ek is, soos die meeste van ons, deeglik bewus van die
samewerkingsooreenkoms tussen motorwerktuigkundiges en die kistkosbedryf rondom
die herwinning van duidende liter afgetapte motorolie vir die gaar maak van
ertappelskyfies, maar omdat beide partye dit aan die ontvanger van inkomste
verklaar is daar seker niks onwettigs in hierdie verband nie.
So na sommige landsburgers ‘n jaar of wat gelede so ontstel
was oor die toevoeging en inspuiting van allerhande vloeistowwe om die land se
hoenders so uitgedy te kry, verwonder ek my nie meer hoe die outjies wat so
goed daarin slaag om die land se stedelike hadeda-plaag onder beheer te kry,
dit regkry om die pluim- en ander geveerde vee wat hulle aanbied, so lekker
sappig te kry nie – ek eet lustig saam.
Maar nie op die lang pad nie, op geen lang pad nie. (En dan
is lang pad, enige iets verder as die afstand tussen Pretoria en Johannesburg.)
Vir die lang pad, enige lang pad, sorg jy dat alles laat agtermiddag reeds
gepak en die motor as het ware in die gereedshouding staan vir die volgende
oggend se vertrek. En dan maak jy die aand voor die tyd jou padkos vir die
volgende dag se reis.
Ek bel selfs vir Annieka en sê sy moet vir ons ‘n wegneemete
van die naaste Golden Egg, Steers, Wimpy,
Chicken Licken of KFC bring – ek het
nie nog tyd en krag vir aandete maak óók nie; my krag en tyd en energie as
gefokus afgestem op die lekkerste van alle lekkerstes: padkos!
En moenie vir my sê jy het ‘n probleem met die geur van
afgedopte hardgekookte eiers in ‘n motor nie. Ek het in my lewe al meer
hardgekookte eiers in die binneruim van ‘n motor geniet, as daar buite, en ek
kan in alle eerlikheid nie noem dat die reuk van die eiers, in welke
hoedanigheid aangebied, my al ooit opgeval het nie.
Koue wors is eintlik ook ononderhandelbaar, maar noudat wors
ook nie meer is wat dit was nie, gebeur dit helaas al hoe meer en meer gereeld
dat ek nie die aand voor die tyd ‘n parmantige spiraal boerewors in die
gereedheid bring nie.
‘n Lekker koue hoenderboudjie of twee dan.
Maar dan moet ek bieg, dis ook al jare sedert ek laas die
lekkerte van ‘n hoendertjie van my vingers afgelek het.
En miskien het ek sleg geword; hopelik net gemaksugtig, maar
ek het al bekendheid verwerf vir my eersteklas toebroodjies. My toebroodjies
kry party mosterd, ander peperwortelsous, nog ander kruisementjellie, en die
laastes óf
swartbessiejellie óf appeljellie op. Dan is daar nog die sonder souse ook. En
jy kan nie sonder ‘n konfytbroodjie op die pad gaan nie – my gunsteling is
skyfies groenvyekonfyt saam met Duitse Swartwoudham, brie en ‘n groenerige
blaartjie met ‘n sterk geur – iets soos rocket.
Ek sal nog kussings (Annieka het dit tog so oor haar eie
spul kussings) en storieboeke (Mamma s’n, Pappa s’n en Klaradyn s’n) en selfs
‘n driewiel of groot en belangrike speelding tuis los, maar die etlike kubieke
meter tupperbakke en warmflesse, koue flesse, jammerlappies en tafelkleedjie
(wat ook kan instaan vir ‘n piekniekkombers as dit moet) moet saam.
En dan is dit nie vir ontbyt of middagete nie, dis vir
heeldag se eet – ons is uit Pretoria nog nie eers die tweede keer oor die
Jukskei-rivier nie, dis nog ‘n goeie uur voor die son opkom, die motor se enjin
moet nog begin warm word, dan het ek al my eerste broodjie(s) agter die blad.
En, te oordeel ook aan – trouens duidelik bewys deur – die foto’s,
is dit nie ek nie – dis my ouers se skuld. Dis hulle wat my so geleer het.
Enige ander man neem foto’s van die kinders op die strand, of met die visstokke
in die hand; nie Hans Moolman nie. Ja, dit ook, die strandballe, babers of
leeus (hou ons vakansie in die NKW) maar heel eerste neem hy ook die
vyfgangmaaltyd wat hy en my ma vir langs die pad beplan het, af.
Partykeer het daardie vyfgangmaal egter oornag in ‘n
viergangmaal verander.
My pa het mos nog die hebbelikheid gehad om in die middel
van die nag wakker te word, op te staan, en onder die kerriefrikkadelle, wat my
ma met soveel sorg voorberei en gepak het, in te spring.
Haai, en dan kon niemand hom dit verkwalik of blameer nie –
enige iemand wat my ma se kos geken het, sou – uit vrees dat hulle nie in die
middel van die nag wakker word nie – die wekker stel en iewers knap na
middernag inspring en skelm begin eet.
Ek weet (en toe is my pa al jare dood en ek op universiteit –
en pas daarna) van meer as een jaar dat ons met twee (een jaar selfs met drie)
motors af is Kaap toe – en dan ry ons via Judy-hulle se huis op Alberton, want sy
het onderneem om vir ons te sorg vir padkos.
O, en dan het Judy dit in styl gedoen – nie in Tupper nie –
sy het na die Griek van die bakhuis gegaan en vir elkeen ‘n wit kartonboksie
gekry. Dis soos vir ’n kinderpartytjie – elke kind kry sy eie pakkie. Net nie
elke kind nie, maar elke reisiger – ‘n keurige pakkie waarvan jy nie weet
presies wat dit is wat die meeste in die oortreffende trap is nie: die verpakking, die voorsit, die smaak, die
verskeidenheid geure en teksture, of die meesterlike kombinasie van bestanddele
nie.
Hoe sy dit reg gekry het, sal ek nooit weet of haar dit kan
nadoen nie – sy is met daardie vaardigheid en kennis in haar graf in, maar Judy
Moolman kon Donderdagaand in Alberton ‘n tamatietoebroodjie voorberei, en stop
jy Vrydagagtermiddag by die Hendrik Verwoerd dam (‘n dagreis was destyds nie so
ver soos vandag se dae nie – die paaie en die motors en die spoed wat ons
daardie jare gehandhaaf het, was anders) dan is Judy se tamatietoebroodjies nog
steeds die soggy nie (pap en deurdrenk sou seker net so goed
gewerk het, maar soggy klínk
net so pap en deurdrenk dat ek nie ander kan as om dié Engelse woord eerder in te
span nie.)
Nie dat jy agtermiddag nodigheid had vir ‘n
tamatietoebroodjie nie – my ouers het geweet, kom jy doodmoeg van heeldag se ry
en eet eers daar anderkant aan, het jy nie krag en lus vir kosmaak nie – en wie
eet nou oorskiet van die padkos – nee, hulle het gesorg vir ‘n klaar bereide
ietsie vir aandete.
En ons doen dit vandag nog – dis so ietsie spesiaals, so
ongekende luuksheid, om in die vreemde, of die vertroudheid van jou tent,
steeds iets van die huis by jou te hê op aand een.
En nou is die komende Aprilvakansie vanjaar net een week
lank. Ek het selfs my bespreking by die see prysgegee vir dierbare en jarelange
vriende. Wie doen nou moeite om al die pad af te ry see toe, en dit vir net ‘n
week? Nee, as iets die moeite werd is te doen, dan is dit die moeite werd om
dit goed en deeglik te doen. Geen mens kan goed of deeglik vakansie hou in ‘n
week nie. Dan gaan ek eerder daar sonder.
Maar nou is ek lus en pak die kar en ry al die pad Noordkaap
of Weskaap toe net om langs die pad te kan uitspan. Hier by ons in Gauteng is
jare al nie meer bankies en tafeltjies langs die pad om by uit te span nie – en
as daar is, is daar struikrowers en verkragters, sluipmoordenaars en
sakkerollers om enige vorm van afsaal onmoontlik te maak.
Miskien moet ek dit doen.
Ja, af in Teewaterskloof, of miskien die halte in die lieflike
Seweweekspoort, en ek hoop die tafeltjie en bankies is nog daar, is waar ek met
Annieka en Klaradyn rusplek vir ons gees wil gaan vind.
As my bankbalans, of ‘n dierbare bankbestuurder, so iets tog
net moontlik kon maak.
No comments:
Post a Comment