Sommer twee foto’s van my ma en pa op die strand, as ek moet
raai (op grond van my broer op ander foto’s hierdie dag geneem) so agt jaar
voor my geboorte.
Nee, wag, hier is my broer (die onderste een):
Nou daardie seun was 16 toe ek
gebore is.
Ons kan seker die model van die motor agter my broer-hulle in die pad gebruik om met redelike sekerheid uit te werk min of meer wanneer hierdie drie foto's geneem is.
Nie dat dit nodig is nie, die presiese ouderdom is nie ter sprake nie – dit gaan om daardie rooi
vierkantige blikkie regs van my pa in die sand. (Regs van my pa, maar links van die mandjie.)
Kom ons veronderstel dat die foto’s in 1956 geneem is (8
jaar voor my geboorte) dan is daardie blik vanjaar, minstens 55 jaar reeds in
Moolman-hande.
Ja, ek bêre Klaradyn se speelklei daarin, seker 6 jaar nou al.
Ek het een keer die blik uit die asblik moes haal, sewe jaar
gelede.
Alleen maar geluk of deur die genade dat ek daarop afgekom het toe ek kos of iets in dier voege gaan uitkrap het.
Maar so iets sal nie sommer weer gebeur nie.
Nie met daardie blikkie of enige ander soortgelyke blikkie nie.
Ek vermoed soortgelyke dinge gebeur van tyd tot tyd nog met sommige van my klere. Maar daaraan is ek al jare gewoond - my ma moes op skool al, en daarna, van my klere laat verdwyn, bloot omdat ek nie van gunsteling klere ontslae raak nie.
Wie kan byvoorbeeld spog dat hy steeds die T-hemde en sweaters waarmee hy in 1994 oorsee was, in sy kas het, EN dit steeds dra?
Maar ek dwaal af; el was by die blikkie wat ek gelukkig genoeg was om vir Klaradyn se kleinkinders te red (Klaradyn is ongelukkig, wat dit betref, haar pa uitgeknip.)
Oor hoe die blikkie in die asblik beland het, en wie hom daar gegooi het, gaan ek nie nou uitwei nie. Dis 'n lang storie, en nie sommer vir die
openbare oor in die publieke domein nie.
Die punt wat ek wil illustreer is egter hopelik duidelik
tuisgebring: ek raak nie sommer van iets
ontslae nie, veral nie as ek sentimentele waarde daaraan heg nie.
En dan is ek twee maande seker nou al bewus van twee goed
wat onherstelbaar, onvervangbaar, onmisbaar, op pad uit is.
Ek kan daar niks aan doen nie. En dit maak my
hartseer.
Ek kan dit ook nie probeer red soos ons met Ouma van Wyk se
donskomberse gedoen het nie:
Die oomblik toe lakens en komberse uit gaan (iewers rondom
standerd 5 of 6) en duvets die in-ding word, toe word Ouma van Wyk se
donskombers my duvet. En hy het my duvet gebly tot ek die dag getrou het. (Wintermaande het ek sommer onder twee van hulle geslaap.)
Toe soek ons, seker so 5 jaar in die huwelik in, vir maklik 3 jaar na iemand wat Ouma van Wyk
se twee donskomberse en al 8 Ouma Moolman se dons-kussings (op die familieplaas
gepluk) in een mega-donskombers kan stop.
Die down-proofing materiaal het van jare se gebruik sommer begin stukkend val.
Ons kry toe iemand, iewers ‘n dagreis uit Pretoria uit. Ons maak
daarvan ‘n uitstappie en drie weke later lewer hulle die donskombers by ons by
die huis af.
Die goeie nuus, wat ons slegte nuus is, is dat hulle 90% van
die dons verby hul tyd geag het – hulle het sowat 10% behou en die res is
piksplinternuwe gansdons van hul plaas. Ek skuld hulle 'n aardige bedraggie, KBA asseblief.
Dis nie wat ons wou gehad het nie – daar was selfs dons uit
Annieka se familieverlede – ons wou ‘n hartskombers met jare se opgegaarde
herinneringe hê, en nou sit ons met ‘n volksvreemde donskombers wat almal
skielik hooikoors gee.
Nou is dit twee kampeerstoele – die raamwerk is nog so
stewig soos die dag toe ons hulle in 1997 gekoop het. En dit sal oor 14 jaar
nog net so stewig wees. Maar die lap, die seil, is lank verby hul fleur,
trouens aan flarde en hoogstens Klaradyn wat miskien nog daarop sal kan sit.
Ek en Annieka het nog op die grond geslaap – geen opblaasmatras
of kampbedjie nie – toe het ons al die twee kampstoele. Ons het nie by kerslig
opgesit nie, ek en my vrou nie, ons het by sterlig opgesit, die twee van ons.
Kruger Wildtuin. Pilanesberg. Nie een keer ‘n jaar wilduin toe nie, twee keer.
Jy moet die veld nie net asvaal in die winter sien nie, maar grasgroen
hoogsomer ook.
Vir minstens 14 jaar pak ek hierdie twee stoele elke keer in as ons gaan kamp.
Ons was een keer dislojaal en het twee ander stoele saamgevat. Dag vier toe sit ek die eerste een stukkend. Die tweede een het ook stukkend agtergebly toe ons opgepak het.
Moenie vir my sê ek moet afsit Jeka toe, of Tentatoria
toe (die twee plekke in Pretoria wat my sal kan help) nie – dit sal tweede beste
wees, nie meer dieselfde wees nie.
Ai, en dan is daar my
bruin gordel – ek het op 36 getrou met my matriekafskeid-gordel om my middel –
wat ek en Annieka gekies het, en my ma teen haar sin betaal het.
My gordel van destyds was aan flarde – soos die kampstoele
se seil deesdae.
Judy het haar voet neergesit, wat moet die kinders van my
dink.
Net so moeilik soos dit vir my is om van ou klere ontslae te raak, net so haat ek dit om nuwe klere te koop.
Maar my ma was sommer propperlie omgekrap toe sy in Pretoria kom en sien hoe slordig ek skool toe gaan. Dit was nog voor ek en Annieka getroud was en sy na die beste van haar vermoë na my probeer begin omsien het. En ons het afgesit dorp toe en vir my (Oubaas) die mooiste gordel denkbaar
uitgekies.
My ma was haar lewe lank spaarsamig, nooit suinig nie, maar ek het geweet,
destyds, dat ‘n buitensporige R80-00 (miskien was dit ‘n meer buitensporige R120-00)
buite haar verwysingsraamwerk (maar gelukkig en soos altyd steeds binne haar
liefdesreikwydte) is.
Maar daar, om die gespe, waar geen leerwerker of skoenmaker
iets aan sal kan doen nie, skeur die leer los. Ek weet dit al 'n hele rukkie.
Die gespe doktor ek lankal reg. Waar die leer om die gespe
gerek het en maak dat die hakie losskiet, het ek ‘n 2”-bout in om alles om my
lyf te hou waar dit moet wees.
Maar aan dit wat, op grond van ouderdom, nou besig is om te
gebeur, kan ek niks doen nie.
En soos met die seilstoele, en die donskombers, is en bly
dit nie aangenaam nie, weet ek dat ek eintlik lank en uitgerek afskeid neem.
Grootword, so lyk dit my, op 47 , is steeds nie lekker en
iets waaraan ‘n mens gewoond raak nie.
Maar eendag, as ek eers die dag groot is, sal dit makliker
gaan, ek weet.
Dan gaan ons nie meer kampeer nie maar in gastehuise en
hotelle tuisgaan. (Pa se skip het ingekom!)
En teen daardie tyd het ek nog ‘n verdere 15 kilogram
afgeskud en het ek in elk geval ‘n nuwe gordel nodig.
Tot dan moet ek miskien maar die geskeurde seil van die stoele met die leer van die geskeurde
gordel lap.
Dink net hoe trots my vrou nie op my sal wees nie!
No comments:
Post a Comment