Met die Afri-fabels skop ek 23 April 2011 af, daar is reeds 244 bloginskrywings en ek is baie opgewonde oor die 3 116 bladlese wat ek afgelope 11 maande gehad het.
Pappa-Mamma-en-Klaars is darem ‘n maand ouer; hy sien 16 Maart van dieselfde jaar die lig. Daar is nie soveel bloginskrywings nie, slegs 153, maar uit die aard van die blog se inhoud, en omdat die mense wat in die een-en-twintigste-eeu nog oor Esopus se fabels opgewonde raak, yl gesaai is, geniet hy sowat 1000 meer bladlese: 4 085.
Ag, siestog, en dan is daar is die stiefkind, Tweedepouse, my hart se punt. Hy het net 80 inskrywings sedert 19 Mei, en dan ‘n skrale 641 bladlese. Hy het dieselfde leserspubliek as Pappa-Mamma-en-Klaars, my Facebook-kennisse en –vriende, dis die selfde aard en styl, maar bloot die feit dat dit nie vars uit die oond is nie, maak dat hy nie gelees word nie. Dit, terwyl bitter min van die huidige lesers, destyds, toe dit nog Kortpouse was, die geselsies gevolg het waar ek dit tóé gepos het.
Die suksesvolste, gemeet aan bladlese, is daarom Pappa-Mamma-en-Klaars; dit het gemiddeld 26, 7 lesers per inskrywing. Dan volg die fabels met 16,9. Heel laaste aan die kortste speen trek Tweedepouse met 7,6 lese per inskrywing.
Maar nie by Pappa-Mamma-en-Klaars nie, nie by die fabels nie, en ook nie eers by die maklike spoeg-en-plak van die Kortpouse-goedjies waarby ek so van tyd tot tyd onder Tweedepouse probeer uitkom, het ek hierdie week juis by stilgestaan nie.
En tog het enige beginner-blogger se wildste drome Dinsdag en Woensdag vir my waar geword. Ek het Dinsdagoggend ‘n nuwe blog begin, en twee ure later had hy reeds meer bladlese as die ganske Tweedepouse in 10 maande. Na slegs 10 inskrywings, in minder as ‘n week wat die blog aan die groot klok gehang is, het dit reeds 1 702 bladlese geniet – ‘n gemiddeld van 170 bladlese per inskrywing!
Ek het as blogger nog nooit so goed gevoel nie, en sal as blogger ook nooit so goed voel nie.
Die bleddie ding het darem ‘n voorsprong bo die ander drietjies wat ek so koester – elke ouer in die skool het dit Dinsdag in sy e-pos-inmandjie ontvang. Donderdag ek die skool se alumni wat funksionerende e-posadresse op die alumnikantoor se databasis het, dit ook ontvang.
Ek het geweet dis kroek, maar dit maak nie saak nie, dit was lekker.
Hierdie blog het reeds 47 lesers wat ingeteken het om van elke bloginskrywing verwittig te word. Pappa-Mamma-en-Klaars het slegs 13, Tweedepouse het 4 en die fabels, 1.
En dis hierdie nuwe blog wat my weg van die ander had hierdie week, maar ek gee nie om nie – dit was een vet lekkerte.
Hier waar ek werk is ons volgende jaar 50 jaar oud en ek het die blog vir die oudleerlinge begin. Ek gaan ook verantwoordelik wees vir ‘n been van die halfeeufeesvierings se administrasie. En omdat ons skool se e-pos-stelsel meer wisselvallig as Eskom se kragvoorsiening is, het ek besluit om alles aan die hand van die blog te kommunikeer.
En wanneer daar geen werk is om verslag van te lewer of kennis van te gee nie, krap ek maar in die skool se verlede en deel dit met die oudleerders.
En verder gaan daar in ons lewens nie veel aan nie. Ek geniet steeds elke oomblik wat ek voor ‘n klas staan en werk, en met die dat ek nou so lekker in die skool se geskiedenis kan krap, geniet ek selfs heelwat van die oomblikke by die skool waar ek nie voor ‘n klas staan nie.
Klaradyn is steeds een vet vreugde. Sy vertel toe mos iewers hierdie week dat sy en haar maatjies ook maar redelik vlugtig vir hul juffrou is. Ons lei maar af sy het lugtig met daardie vlugtig bedoel.
En Annieka gaan week 5 van die 6 weke wat rondom haar siekte voorspel is, in. As alles goed gaan, is sy binnekort weer 100% klopdisselboom.
Het ek by Pappa-Mamma-en-Klaars uitgekom hierdie week, sou ek tien teen een van die lekker kos vertel het – heel skaapnek, murgsag. En toe draai die weer en die koue tong wat ek beplan het, om net nog een keer darem nog lekker koue tong te kan eet, word toe warm tong.
En dan moet julle weet, ek het nog nooit my eie warm tong gemaak nie. Ek hou mos nie eintlik van tong nie – suiwer ter wille van my skoonpa dat ek dit Kersfees op die spyskaart gesit het.
Maar toe kom kry ons reën en ek weet met die koue tong is dit nou neusie verby.
Ek krap in my kookboeke, op soek na “skoonma se tong” wat my ma altyd gemaak het. Ek kry niks onder daardie naam nie, baie soortgelyke resepte, maar niks onder daardie naam nie.
En ek soek “skoonma se tong,” niks anders nie.
Ek is selfs op die internet op soek na die resep.
Judy het dertig jaar terug en later te vertelle gehad dat die resep skoonma se tong heet, omdat dit so ‘n skerp smaak het. Maar ek dink dis apokrief, sy het tien-teen-een gaan leen by die plant met die naam “skoonma-se-tong” – dit het mos sulke lekker skerp tweesnydende swaard-tongvormige blare.
Want, nie waar nie, maar aan huis van my eie skoonma, dat ek toe nou die “skoonma se tong”-tongresep waarna ek so op soek was, by die naam opspoor. In die eerste Huisgenoot-Wenresepte van 1982.
En toe ek die resep so lees, toe besef ek dat ek enige van die ander mosterdtong-resepte wat ek opgespoor het, kon gebruik het, hulle is almal eintlik maar ligte variasies op een en dieselfde resep.
Maar vir my sou dit nie dieselfde gewees het nie, en ek sou nie gerus het voor ek nie regtige egtige “skoonma se tong” opgespoor het nie.
En die vrou wat die resep destyds Huisgenoot toe gestuur het, verklap toe waar die naam vandaan kom – dis die naam wat haar skoondogter die resep gegee het.
Dit beteken natuurlik nie dat Judy destyds en oor jare heen gejok het oor waar die resep aan sy naam kom nie – sy had die eerste Wenresepte beslis nie, dis maar eers hier van die tweede een af dat sy dit begin koop het; sy sou die resep met die hand geskryf iewers by ‘n vriendin of damestee of vrouevereniging-vergadering gekry het.
Dis duidelik ‘n laat sewentigs, vroeg tagtigs resep – dit kry ‘n volle koppie mayonnaise in.
Maar dit het goed afgegaan en as ‘n nostalgie my weer oorval, sal ek dit beslis weer maak.
Ek wens my broer was hier om saam met my ons ou mammie se hartskos te kon geniet.
Ai, en toe braai ek gisteraand die lekkerste boerewors wat ek in ‘n lang tyd by die Boeremark gekoop het. En ek maak pap, nie soos die aangetroude en aangebore familie daarvan hou nie – dis nou Annieka en Klaradyn, maar soos ek daarvan hou.
Daar waar ek smiddaes na skool gebly het, terwyl my ma gewerk het, kon ons kinders altyd op die laaste dag van die kwartaal kies wat ons vir middagete wil geniet. En ons keuse was kwartaal vir kwartaal, jaar na jaar, presies dieselfde: pap en wors en sous.
Maar nie krummelpap nie (dit het my skoonfamilie my jare later voor lief gemaak), nie stywe pap nie, maar iets so tussen stywe en slap pap.
En daar eet ons Saterdagaand toe so lekker pap en sous en wors, dat ons Sondag weer pap en sous en wors eet. Woolies se wors hierdie keer, maar dit was net so lekker.
Tot later dan.
En hopelik hou die skoolblog my nie so besig dat ek nie sommer gou weer by Pappa, Mamma en Klaars se Pappa-Mamma-en-Klaars kan uitkom nie.
No comments:
Post a Comment