2011 minus 1989 is gelyk aan 22. Teen gemiddel 3 oueraande per jaar staan ek op my 66ste oueraand.
Van my eerste oueraand onthou ek dat dit in die skoolsaal was. Die onnies het agter bankies teen die kant van die saalmure gesit. Daar was daardie jaar 54 onderwysers op die personeel, so daar was nie veel meer as ‘n armlengte of wat tussen ons twee rye onnies, die een ry links, die ander regs, nie. Dan was daar ‘n ry stoele voor jou tafel tot amper in die middel van die saal uitgepak waar die ouers gesit en wag het.
Hierdie klas van gesprek het die lieflike voordeel dat die ouers nie hoef te soek en hul bene stompies te loop agter die onderwysers aan nie. Jy as ouer kan ook sien watter ry is lank en watter kort, so jy weet waar dit die beste is om in te val. En as dit jy en jou vrou is, des te beter en vinniger.
Ons had ons punteboeke by ons en het van agter die punteboek gesprek gevoer.
Ek het daardie aand een ongelukkige ouer gehad – Cathy (standerd 9) se pa. Hy was moeilik. Ek onthou egter net dat hy moeilik was, baie moeilik, maar waaroor dit gegaan het, sal ek nie weet nie.
Ek weet ook dat ek teen matriek al meer as een keer op vriendelike uitnodiging by Cathy-hulle aan huis was en heerlik gekuier het. Na matriek het Cathy en ek nog kontak gehad en het sy my lank op hoogte gehou van wat van haar word.
Dit was dan ook die eerste en laaste moeilike ouer wat ek ooit gehad het.
Daar was dalk meer, baie meer, maar hulle het net nooit by my uitgekom nie – ek praat nou twee en twintig jaar doelbewus so lank, dat die tou so onmenslik lank raak, dat meer as die helfte van die ouers voor hulle by my uitkom opgee en elders gaan kers opsteek. Dit werk, glo my.
Oueraande “werk” natuurlik al vir jare nie meer nie: dit gebeur met die hoogste uitsondering, miskien so een keer in tien jaar ás jy gelukkig is, dat een van die tientalle ouers wat jy dolgraag by jou in die klas wil sien, opdaag.
Ook al amper tien jaar dat jy met die hand uitgesoek, per hand, skriftelik, uitnodigings rig – maar verniet of hulle ooit opdaag.
En dit maak sin: teen selfs graad 8 al (wat nog te sê graad 10 tot 12) was die ouers van die kinders wat die onderwysers graag daar wil hê, al op soveel oueraande gewees dat hulle presies weet wat die onderwysers vir hulle gaan sê. Hulle het dit al oor en oor gehoor, so waarom in die aand uitgaan om te hoor wat jy weet jy gaan hoor en al tot vervelens toe gehoor hét?
Ek glo dis vir geen ouer lekker om te hoor hoe sy kind sukkel en geensins presteer nie. So hoekom sal uitgaan en gaan luister na dit wat ek nie wíl hoor nie, dit wat my dag, en belangriker nog, my verhouding met my kind, benadeel en deurmekaar krap. Dan bly ek miskien ook liewer tuis.
Ja, en dan het die munt seker ‘n ander kant ook: as jy van die begin af betrokke ouer was wat die skool en jou kind ondersteun het, was die kind teen hoërskool nie die klas van kind waarvan die onderwysers die ouers bittergraag sou wou spreek nie.
My bek is groot en ek praat wyd – die koring op my land is nie net groen nie, dis sommer nog grasgroen.
Maar sonder die leerders wat jou hoofbrekens besorg se ouers daar, is oueraande in die reël ‘n aangename ervaring vanuit die perspektief van ‘n huistaalonderwyser.
Nie alle oueraande is egter lentebriesies nie. Die moeilikste oueraand van my lewe was vanaand presies 10 jaar gelede – die eerste oueraand van 2001.
Dit was die eerste jaar dat die hoërskool sy graad 8’s aan die regering se nuwe onderwysstelsel moes uitlewer. Dit was vir ons hoërskoolonnies ‘n nuutjie, maar nie vir die stomme kinders nie, hulle (en hul ouers) is op laerskool al, vir ‘n paar jaar reeds, daaraan uitgelewer gewees.
Ons was soos resiesperde in die wegspringhokke maar die ouers teen daardie tyd al gatvol ge- OU-BEE-EE, gatvol vir groepwerk en nog gatter-voller uitgewerk aan take wat húlle, en nie die kinders nie, besig gehou het.
Ek was daardie jaar graadvoog van die graad 8’s (en hul baie bekommerde ouers). Die gevolg is, toe die oueraand om is, en die ander onderwysers sluit toe en gaan huis toe, toe sit ek nog ‘n goeie uur met ‘n agt of nege stuks ouers om my tafel.
Ek is daardie aand uitgemergel huis toe.
Maar ons het die pad vir vyf jaar en langer saamgestap. Dit het gou geblyk die ouers was nie moeilike, pruttelrige, foutvinderige ouers nie, nee, dit was betrokke en besorgde ouers wat die skool én hul kinders se belange op die hart gedra het.
Vanaand is rustig. En lekker. En realtief stil - ek kry tyd om hier te klets met rustige orrelmusiek in die agtergrond - Ockie Vermeulen, hoeka 'n oudleerling van 22 jaar gelede, se nuutste CD is in die rekenaar.
Ja, oueraande het verander. Maar dit is immers 22 jaar later.
Ek het in meer as tien jaar nie meer ‘n punteboek nie. En ook nou al vyf jaar dat ek nie eers meer uitdrukke hoef te maak van die Excel-dokumente nie. Die punteboek word op die skerm projekteer, en daarmee saam die daaglikse register en huiswerkkontrole.
En om seker te maak die ouers hou nie hul babavarkie as ‘n leeuwelpie aan my voor nie, begin ek die gesprek deur die kind se hele rapport op die silwerdoek te gooi. Dis verbasend hoe ongelukkig ouers kan wees oor ‘n 59% vir Afrikaans as dit net die Afrikaans is wat op die tafel is, maar hoe goed hulle daaroor kan voel as die skerm hulle herinner aan die 38% vir Wiskunde en 42% vir Engels, om van die Wetenskap en Biologie nie te praat nie.
Hierdie “babavarkie” en “leeuwelpie” kom straks effe vreemd voor. Ek roep die fabel wat ek vandag hier gepos het in die herinnering. Die konteks vanaand sluit nie by die fabel aan nie, maar as jou gedagtes vanoggend al daar was, is dit logies dat jou gedagtes daarheen sal terugkeer as jy metafoor soek vir skrander kinders aan die een kant, en prestasie-gedepriveerde kinders aan die anderkant.
Hier is dit ook al 20:10, daar sal nie nog ouers kom nie.
Tot more dan.
No comments:
Post a Comment