Vanjaar
Dis vreeslik maar ek en Annieka slaan party dae amper vuis
om Klaradyn se broodjies vir skool wat sy nie geëet het nie, te eet.
Soos vanmiddag toe ek nie kon wag om by die kattebak met
haar boektas in, uit te kom nie.
En ja, die merrieperd het weer nie haar kos opgeëet
nie!
Maar dis nou al meer as 'n jaar dat ek nie meer my bek en
stem daaroor rek en verhef nie – ek geniet daarvan in stille dankbaarheid. Ek
voel trouens smiddags na skool nie eers meer skaam as ek eers op my kind se tas
afstorm en daarin krap, nog voor ek op my kind afgestap het om haar te
soengroet nie.
Die oorskiet broodjies in haar tas is aan drie dinge te
danke (seker “te wyte” uit 'n meer normale en algemene vertellerperspektief).
Drie dinge wat, vermoed ek, min of meer ewe swaar weeg in die feit dat die
kosblik nie tot op die bodem leeg, met hoogstens slegs enkele krummeltjies of
van tyd tot tyd miskien 'n papiertjie, skilletjie of sakkie in, terugkom huis
toe nie.
Ten eerste is die kind soos haar ma. Annieka sal nie eet as
sy nie verplig word om te eet nie. Sy sal honger wees, ja, rasend honger selfs,
maar dit sal nie maak dat sy dit waarmee sy besig is, los om iets te kry om te
eet nie. En saam met al die ander wonderlike gene wat sy van haar ma het, het
Klaradyn daardie een ook geërf.
As sy speel, kom kos tweede. As sy werk, kom kos tweede. As
haar aandag trouens enige ander plek as saam met haar neus in die bord kos is,
kom kos tweede.
Ons sal in 'n skoolkwartaal miskien een keer 'n maand voor
die televisie eet, en dis ook maar goed dat ons nie televisiekykers en
sitkamerbank-skooteters is nie, want voor 'n televisie kry Klaradyn ook nie 'n
enkele happie in nie. Die kere wat ons haar, op sés, nie voer nie, is die kere
wat ons die DVD moet vries, selfs afsit, sodat sy eers kan eet en ons dan
verder gaan.
Tweedens gee ek vir die kind hopeloos te veel kos in haar
pienk kosblikkie saam skool toe; sy het in graad 1 meer daarin as wat selfs 'n
graad 9 seun op 'n dag kan baasraak.
En nie hieroor of daaroor nie, bloot omdat dit na drie jaar
steeds vir my lekker is om vir my kind haar kosblik vir skool voor te berei.
Elke oggend is omtrent 'n liefdesdiens aan my kind en eerbetoon en huldiging
aan my ma wat my die voorbeeld van lekker kospakkies vir jou kind gestel het.
Soos Judy, glo ek daar moet variasie wees – en daarby bedoel
ken elke dag iets anders nie, nee, ek bedoel daar moet in elke kosblik meer as
een, liefs drie of vier, geure en teksture wees. Daar is vir my min dinge so
lekker soos 'n katjiebotter-en-appelkooskonfyt-broodjie, maar mag die dag nooit
aanbreek dat ek my kind skool toe stuur met slegs maar 'n
katjiebotter-en-appelkooskonfyt-broodjie in haar tassie nie – iets souts, ter
wille van afwisseling, of sommer net blote balans, is nodig.
En dan is dit met aversie dat ek 'n toebroodjie twee keer
oordwars in kwarte of klein driehoekies sny. Ons het 'n blik vol koekiedrukkers
en dié
word elke oggend uitgekry om broodjies te vorm wat 'n kind se aandag sal trek.
Ons het hartjies, beertjies, mannetjies, sirkeltjies, sneeuvlokkies en selfs
bokkies om van te kies.
Dis 'n ding wat sy ontstaan in graad R had – met die dat kos
by ons kind so maklik tweede kom, het ek moeite moes doen om dit so aantreklik
moontlik te maak; die koekiedrukkers was 'n treffer, en toe graad 1 kom, toe
hou ek daarmee voort. (Ek glo ek sal haar oor drie, vier jaar nog steeds elke dan en wan verras met 'n
kindertjiebroodjie in die vorm van die een of ander iets.)
Die brood wat afval, werk ek met vorms, skeel my nie, maar
vleis kan ek nie so mors nie; die gevolg is dat dit omtrent net die
kouevleis-en-sandwich-spread/mayonaise-broodjies
is, wat oorlangs in driehoekies gesny, in haar blik beland. (Maar dan sny ek
die kante en korsies, gedagtig aan Judy se liefdevolle manier van doen, eers af
voor ek dit inpak.)
Ek is op my gelukkigste as ek 'n kosblik in die tas pak
waarvan die twee toebroodjies se vier snytjies brood verwerk is in ses klein
toebroodjies met ses verskillende interessante vorms én ses verskillende smake
tussen die plakkies brood.
En dit kan gedoen word, ek kry dit van tyd tot reg, maar dit
vat tyd – en nou verstaan 'n mens hoekom hierdie pappa wat smiddaes sy kind se
kosblik teister nie soggens vir homself en sy vrou ook broodjies maak nie. Daar
is bloot nie tyd nie - die kind se kosblik neem party dae goed 20 minute van
die oggendroetine ('n roetine waarin jy die dag laat is as jy moet afbuk om 'n
tandepastabuisie se prop wat geval het, op te tel) in beslag.
Klaradyn hou nie katjiebotter en konfyt nie, sy hou van
katjiebotter en stroop. Maar stroop loop – so nou meng ek die twee vooraf in 'n
bakkie. Ook die botter word gegeur, veral as daar 'n provita, ter wille van
tekstuur, saam gaan. Of met Marmite, vissmeer, of met fyn biltongtjies
liefderyk deurgemeng.
Die derde rede, naas die min eet en baie kos, is die feit
dat sy so deel en uitruil met die kos.
Ek het vroeër die week konkoksies uit my kinderdae
onthou. Iewers het die tannies die idee gekry om botter en Marmite te meng en
daarby dan fyn biltong in te roer. Hierdie botter-biltong-en-Marmite-smeer is
dan óm
die happie-grootte blokkie brood gesmeer, voor die hele heerlikheid in die
biltong gerol is – dan lyk dit soos 'n krimpvarkie/lamington, net sout en nie
soet nie.
Ek verbeel my amper hulle het die brood op 'n kol in dik
snye gesny, dit rond uitgedruk, so groot soos 'n ronde soutbeskuitjie. Dié
broodjie is dan op die beskuitjie vasgemessel- en dán het die gegeurde smeer en
biltong buitelaag bo-op en om die kante gekom. Maar miskien verbeel ek my.
Ek slaan toe vir Klaradyn so tipe southappie saam – en moet
die middag toe hoor hoe die seuntjiemaatjies haar broodjies geniet het. “En
weet Pappa wat het Rosh my geruil – sy Nik-naks!”
Die volgende oggend was daar nie tyd vir biltongblokkies nie
– ek vat kortpad: twee mannetjies van bo gesmeer met my mengsel, en toé,
op hulle se gesigte, in die biltong gedompel.
Maar oor ons toe nou hier met 'n tema of 'n motief sit, moet
ek daarop uitbrei. Twee vroutjies word toe uitgedruk en met sjokoladesmeer
bedek. Hierdie tannies beland toe in die sjokoladevermicelli waarvoor die
Hollanders so lief op hulle brood is.
Daardie aand moet ek hoor ek die volgende dag sewe sulke
broodjies maak. En sy noem die name:
Jacques, Kosie, Tyron, Rosh, Emma, Maryna en Rilea.
En haar eie naam, wat dit agt broodjies sou maak, noem sy
nie eers nie.
Daar is min enigste kinders wat kan deel soos Klaradyn.
Maar dan maak haar pa dit vir haar maklik om te kan deel –
deur bloot te veel saam te stuur.
En as sy die dag nie deel nie, gee hy nie om nie – dan is
daar vir hom ook.
Kindersgrootmaak bly daarom ook 'n lekker ding.
Twee jaar
gelede: Iets oor toebroodjies
Vroutjie, wat ek net op foto’s ken (omdat sy my ouma, gebore 1901,
se ma was) het volgens oorlede Ouma van ‘n “sêwietjie” gepraat.
Ons het op skool van “samies” gepraat, maar of die woord nog in
gebruik is, weet ek nie.
By die huis, en vir my ouers, was dit doodgewoon “pousebroodjie”.
Ek moet vanaand vir die derde keer in my lewe vir Klaradyn ‘n
pousebroodjie maak. (Hulle neem net Vrydae, vir die lekker, ‘n kospakkie
kleuterskool toe en dit het eers twee weke gelede gebruik geword.)
‘n Mens wens regtig seker nie jou kinders groot nie, maar ek kan
nie wag dat sy graad 0 toe gaan nie. Doodeenvoudig sodat ek vir haar kan
pousebroodjies maak.
Dit maak seker nie sin nie, en ek sal die woorde seker nog een vir
een sluk, maar as jy ‘n ma soos ek gehad het, wat die allerlekkerste
pousebroodjies vir haar kinders gemaak het, dan is dit vir jou ‘n uitdaging om
die familiegebruik en –naam hoog te hou.
Ek onthou goed, sou iemand my op hoërskool vra wat op my brood is,
dat my standaardantwoord “knoffelvis” was.
Standaardantwoord het dit geword nadat ek een keer regtig die
lekkerste knoffelvis op my broodjie gehad het, en dit die een wat by my wou ops* so afgesit het, dat ek dit daarna
elke keer gebruik het as ek nie my kos wou deel nie.
Ek onthou die knoffelvis, hoender mayonaise, spek en eier,
wonderwerke met left overs, en selfs
‘n klassieke gunsteling, peanut butter
& jam, was net strate lekkerder uit my ma se hand. Gee my geblinddoek
happies van drie ma’s se peanut butter
& jam-broodjies, en ek sal jou sê watter een het my ma gemaak. Dit gaan oor die verhouding grondboontjiebotter teenoor konfyt wat vir
die regte kombinasie sorg. Enige een kan peanut
butter en jam op ‘n brood plak en
in waspapier toedraai; slegs ‘n uitgelese paar wat uit dieselfde potjies en
botteltjies ‘n meesterstuk skep.
Ek kon tamatie op my broodjies ook hê, sonder om pouse met ‘n
ongedefinieerde smudgy spul te sit.
Ma Judy het gesorg dat geen skyfie tamatie dit sou waag om water af te gee aan
‘n maagdelike snytjie witbrood nie. Óf die brood is liefderyk verseël met ‘n
lagie onderdringbare botter (margarien is ghries en geen broodsmeer nie), óf ‘n
plakkie kaas moes dien as buffer na onder en ‘n blaartjie slaai as buffer na
bo.
En dan was sy ‘n vrou met trots:
geen sandwich spread (wat hier
iewers in my skooljare vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse rakke verskyn
het) op haar seun se brood nie. Dis vir lui huisvrouens. (Sy was ‘n werkende
enkelma, ses dae ‘n week .)
O, en ek was so lief vir sandwich
spread. (Kinders kan darem walglik wees — ons het dit kameelperdkots genoem.)
Miskien was ek nie so lief daarvoor nie. Seker maar net omdat ek
nie kon kry nie, dat ek dit so graag wou hê.
Sal vandag self nie eers oorwéég om eendag vir mý kind sandwich spread op haar brood te gee nie.
Utopia was dit darem ook nou nie van die more tot die aand nie.
Dit het my lank gevat voordat ek hier teen standerd sewe geleer het om nooit,
NOOIT OOIT, op ‘n Maandagaand te noem dat vandag se broodjies darem heerlik was
nie. O, Boetie, dan kry jy daai selfde met jou brood Dinsdag, Woensdag,
Donderdag, en as jy nie pasop nie, Vrydag ook.
En daar het ek nou nie uitgekom waar ek wou begin nie: die graad 8-seuntjie op die trap vroeër die
week tydens my terreindiens.
Daar sit hierdie mannetjie, netjies ge-collar en ge-tie, pouse op die trap, met Sjinese
eetsokkies in die hand, heel behendig en eet hom knuppeldik aan sy sushi, afgerond met wasabi en sojasous.
Dit herinner my aan die ander graad 8’ie wat hier in die eerste
kwartaal tydens pouse op die departementshoof:
Engels afstap (dit het my, as mededepartementshoof ‘n goeie drie jaar
gevat voordat ek dit gewaag het om met haar in gesprek te tree)met iets soos:
“Julle personeel het mos seker ‘n mikrogolfoond in daardie kombuis
by die personeelkamer? Kan Juffrou hierdie asseblief vir my gaan opwarm.
Dankie.”
Sy het dit gedoen.
*Ops en nix-ops
hoor ek ook nie meer nie. Ons het
ge-ops as jy ‘n happie van iemand se
pousebroodjie wou hê, en ge-nix-ops
as jy met ‘n heerlike broodjie in die hand by die pelle aangesluit het en nie
wou hê hulle moet jou kos.
En sommer
vir die lekker 'n greep uit iets van verlede jaar toe ek die onderwerp iewers
ingespeep het:
Hier heel in
die begin van my klets in die kuberruim het ek dit een oggend gehad rondom
pouse se samies vir skool. Ek het tien teen een genoem dat ek nie kan wag vir
die dag waarop ek op gereelde basis vir Klaradyn skoolbroodjies begin maak nie.
Ek sou miskien selfs die woord reikhalsend
gebruik het.
Wel, dit het
dan nou amptelik gister begin.
En ek verwys
eerder nóú daarna as oor vier of vyf jaar verder, want teen daardie tyd sing ek
seker ‘n gans ander deuntjie.
Maar hierdie
nuwe besem vee nog skoon. Of is dit eerder skerp nuwe messe wat smaakvol smeer?
Ek het die
toets wat ek myself gestel het, met vlieënde vaandels geslaag: In antwoord op
my heel eerste vraag, nee, nie “Hoe was eerste dag van regte grootskool? of
“Hou jy van jou juffrou?” nie, maar “Hoe was jou broodjies?” was haar antwoord,
“Die kouevleisie-broodjie was baie lekker.”
Natuurlik
was dit lekker my kind, ek het dit met liefde gemaak. En ‘n stukkie ham tussen
twee broodjies ís nie lekker nie. Dit moet twee of drie plakkies wees.
En wat
eintlik die verskil gemaak het, is die dun lagie kindertjie-mosterd wat Pappa
ingewerk het, so min dat jy dit nie agterkom en doelbewus registreer nie; maar
laat jy dit weg, dan proe dit nou maar eenmaal anders en nie dieselfde nie.
No comments:
Post a Comment