So het stemdag, waar ek Klaradyn tot in die stemhokkie saam
met my geneem het om verkiesing deel van haar ervaringswêreld te maak, gekom en gegaan,
en ek het niks van my laat hoor nie.
Ons het selfs ons eerste Voortrekker-kentekendag, sonder dat
ek my bek hier daaroor gerek het, beleef.
Iewers het ons Klaradyn ook gevat om te sien hoe speel ons
eerstespan netbal – sy het mos nou hoeka verlede naweek haar eerste wedstryd
gehad.
Daarby, verbeel ek my, het ek uitgekom, maar by al die ander
lekker dinge nié. Want, ja, dit gaan dol en as dit nie was dat geure uit
die kombuis my vanoggend (Sondagoggend) 05:00 wakker had nie, het ek ook nie
nou hier gelê
en tik nie. Ek troos my daaraan dat ek nog sou geslaap het en dat die tyd wat
ek nou aan geselsies aanknoop spandeer dan eintlik 'n bonus is, tyd wat ek
waaragtig nie aan skoolwerk af hoef te staan nie.
Nie dat ek by skoolwerk gaan uitkom voor vanaand nie: as
alles goed gaan kry ons sommer vanuit drie windrigtings vandag jarelange baie
goeie vriende vir ete.
En dan nou ook ons poeding wat my vroegdag wakker had: pere
in rooiwyn.
Ek wou nie gisteraand nog 3 ure opwag vir dit om sag te stowe
nie, vandag wil ek ook nie daaraan tyd afstaan nie, toe onderdompel ek dit
gisteraand en oornag in die prutpot (in die volksmond beter bekend as 'n slow cooker)
Daarom dat ek seker maar so lig geslaap het – ek het die
pere nog nooit op die manier gaargemaak nie en het gisteraand met 'n woordspeling
in my kop gaan slaap: ek hoop nie ons eet more Purity/Pearity vir poeding nie. Want ja, die kanse was daar dat ek
vanoggend met vrugtemoes konfronteer kon word, en het ek laat geslaap, was dit
beslis teen 07:00 te sag; nou is dit net reg.
Maar eintlik die hoenderdis, 'n pastadis, wat ek wil deel.
Ek het altyd gewonder hoekom die betrokke pastadis vir my so
lekker is, tot ek afkom op ‘n resep van Peter Veldsman, een vir die sewentigs
se immergewilde Chicken a’la King, en
besef wat ek doen om die hoendersous te kry, is presies wat die tannies daardie
jare gedoen het om hul koninklike hoendergereg vir die witrys gereed te kry.
Ek het vir 12 reggemaak; vir 4 sou ek soos volg te werk
gaan.
Vier vet hoenderfilette. Peter Veldsman se chicken fit for a king vra dat jy hoenderborsies
in witwyn gaar stowe, met gebotterde waspapier om hulle teen die aanslag van
vars lug te beskerm. Ek het my filette gisteraand op die manier gaar gekry,
maar glo my ek het ook al, die kere wat ek nie oorskiet hoender gebruik het
nie, sommer gaar hoender by Woolworths gekoop en dit ontbeen.
So hoe jy aan sowat 350 na 375 gram gaar hoender kom is jou
eie storie.
Kry dan ook sag in 'n pan die volgende: 'n ui, 'n lekker groot rooi peper ('n rooi green pepper en nie 'n rissie nie) en 'n
250 gram pakkie sampioene wat jy opgesny het.
Ek begin met die uie, voeg dan die dun gesnyde repies rooi
peper by en as dit sag is, die sampioene.
Sodra die sampioene se water weggekook is, roer ek 40 gram
meel by die groente.
Hierdie meel verdik dan die 500/600 ml hoenderekstrak wat ek
oomblikke later byvoeg.
Iewers vra die oorspronklike resep vir iets so belaglik soos
ses eetlepels room. Ek koop nie room om ses eetlepels daarvan te gebruik nie –
teen die tyd dat ek iets met die res doen, is die room al suur. So ek maak my
hoenderekstrak met 'n kannetjie room en 'n kannetjie kookwater aan.
(Ina Paarman, sien ek gister, het nou 'n vloeibare
hoenderekstrak op die mark – ek het dit gister probeer.)
As daardie souserigheid dikkerig is, gooi jy 'n halwe koppie
droë
sjerrie in (pale dry shery).
En sout en peper tot dit vir jou lekker genoeg op jou vinger
(of teelepel) proe.
Intussen het jy jou 500 gram lintpasta (tagliatelle, verbeel ek my is wat die Italianers dit noem) gaar en
van die vuur af gekry.
Ek en Klaradyn het ons eie pasta uitgerol en jare se pret
gehad.
Nou meng jy die pasta met die gaar hoender wat jy in klein blokkies
gesny het.
Dit hang nou af hoeveel wyn jy gedrink het terwyl jy in die
kombuis doenig was. As jy matigheid voor oë wil hou, dan bere jy die kaas
wat jy gerasper het om bo oor te gooi, vir bo oor, aan die einde.
Maar as jy roekeloos wil wees, werk jy die gerasperde kaas
by die hoender en pasta in – dan rasper jy netnou die ander helfte van die blok
kaas vir bo oor.
Dan roer jy die sous by.
In 'n bak daarmee.
Bedek met 'n dun of dik lagie gerasperde kaas.
Oond toe vir 30 of 40 minute, die oond op 180 grade.
Saam met slaai is dit heerlike kuierkos, en dis waarvoor ek
lus was, kuierkos en nie noodwendig 'n tradisionele Sondag-noenmaal nie.
Vir die poeding skil jy soveel pere as wat jy mense verwag
(plus twee ekstra vir die wis en die onwis). Dit kry jy sag in 2/5 water en 3/5
rooiwyn (500 ml water en 750 ml/bottel rooiwyn vir sowat 6 pere)
Jou vloeistof geur jy met 5 of 6 of 7 naeltjies (ek verbeel
my die resep vertel oorspronklik 5, maar dit voel vir my effentjies), 1 of 2
stokkies kaneel en 'n lourierblaar of wat. Ek kyk dan wat daar nog in die rak
is wat kan in; gisteraand was dit steranys en heel pimento en 'n suurlemoenblaar.
'n Repie (repies?) suurlemoen en/of lemoenskil is net so lekker.
En dan natuurlik suiker tot dit alles vir jou soet genoeg
proe.
Jy bedien die pere koud met room.
En omdat jy gisteraand al jou room in die hoender gegooi
het, in plaas daarvan om iets so belaglik soos ses eetlepels af te meet, moet
jy dan nou vanoggend, as Klaradyn Sondagskool het, gou nog room gaan koop.
Die pere op hierdie manier is so lekker dat ek nooit net 6
of 8 pere voorberei nie – ek doen 12 of 14. Dis heerlik later, of om weg te gee
– daar is min dinge so lekker om weg te gee soos 3 of 4 pere in rooiwyn, in 'n Tupper-bakkie.
Dis trouens hoe ek myne die eerste keer geproe het – Tannie Susan
Latsky, my ma se beste vriendin en al jare in haar graf, het by ons aangekom
met so Tupper-bakkie en 2 of 3
gestoofde peertjies.
No comments:
Post a Comment