Pages

11.5.11

Ek wil my chick 'n huisie bou 1,2 en 3

Ek praat voor die kinders van die Ek-wil-vir-my-chick-‘n-huisie-bou-gedigte wat ons gedoen het, en dan weet hulle presies na watter twee gedigte ek verwys: “Florauna” deur André Letoit (maar as ek hom nie Koos Kombuis noem nie, weet hulle ook nie van wie ek praat nie) en “Heimat-vers vir my Lovely” deur Theunis Engelbrecht.
En hier moet ek weer ‘n punt daarvan maak om nié voor die kinders na die man te verwys as die ou van die groep “Randy Rambo en die Rough Riders” nie – netnou moet ek vrae beantwoord wat vir my ongemaklik sal wees om te antwoord. Ek kan egter met vrymoedigheid swyg – vandag se generasie weet van dié groep niks nie. En dit help nie eens ek sê vir hulle dis die man wat verlede week so ‘n interessante artikel in Beeld se By gehad het die – hulle lees nie eens die Jip nie, wat nog te sê die By.
Maar hier dan die twee gedigte wat ons so saam doen:

FLORAUNA
Koos Kombuis
Ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in die boland van my hart
met ‘n peerboom in die tuin
en vaatjies wyn in die kombuis
en ‘n tuinhekkie met krulle
en boekrakke met sartre.
ek wil vir jou ‘n gewelhuisie bou
in my onderkaap van smart
met skepe in die hawe
en donssaad op die berg
en jy, in lewende lywe
op die stoep, in jou kombers
in die winterboland van my hart.
jy kom van ‘n groot glaskasteel
met kandelare en wolkatte
en toffies toegedraai in bordjies
en poedels op plaveisel
jy's ongewoond aan kaapse weer
jou tekkies is geparfumeer
maar ek wil vir jou my lewe gee
in die wit afdophuisie van my hart.


HEIMAT-VERS VIR MY LOVELY
ek bou vir jou ‘n huisie
van sandsteen son en skalie
ek plant vir jou ‘n wilgerboom
wat wolffluitlange skadu’s maak
ek dors vir jou ‘n riviertjie uit die aarde
waarin paddas moederlik grom
ek plaas vir jou ‘n paar vet kuikens
en cuddlesome katjies op die werf
ek brei ‘n voetmatjie om te lê
voor die riempiestoel wat ek vir jou gevleg het
ek vra die wolke
om die blou lug plek-plek melkwit af te werk
ek gooi die damme vol water
sodat ons kinderlik kaal daarin kan baljaar
ek versamel stronke vir jou stofie
sodat ons koffiewater lekker warm kan stoom
ek brei vir jou ‘n matrasveerbedjie
waarop ons nagtelank bymekaar kan doeks
ek sit sterk vensters in die mure
om tokkelossie buite te laat bly

dit alles doen ek net vir jou
omdat ek vreeslik baie van jou hou

Dis een van daardie lekker lesse: ons trap nie die gedigte tot stof nie, maar handel altwee sommer in een periode af.
Op Koos Kombuis koop die kinders nog in, veral as ek daarop wys dat hy ook hier waar hulle matriek wil skryf, skool gegaan het (hoewel hy nie sy skoolloopbaan hier afgesluit het nie.)
Behalwe dat “Florauna” ‘n baie mooi liefdesgedig is, is dit ‘n taalonderwyser se droom: die gedig verleen jou om te praat van progressie, regressie, kontras, metaforiek, simboliek, dubbelsinnigheid, en noem maar op – dis daar.
Ook “Heimat-vers” spreek tot die outjies. ‘n Vriendin van my het vir die man skoolgehou en danksy die staaltjies wat sy kan deel, kan ek die gedig dan ook lekker vir die kinders inkleur.
Dis nie vreemd dat twee gedigte so nou by mekaar aansluiting vind nie, ook nie onmoontlik dat die een digter die ander kon inspireer of aangesteek het nie – beide digters/sangers was immers destyds deel van die opspraakwekkende Voëlvry-toer.
Maar toe ek nou hierdie vakansie weer luister na die mooiste liefdesliedjie wat ooit in Afrikaans geskryf is, toe wonder ek of hierdie twee sangers nie deur die grootste onder die Afrikaanse sangers inspireer is nie? Was “Vir Jou” nie eerste nie, en toe debunk André dit met sy gedig nie? En toe het Theunis Engelbrecht net mooi genoeg gehad van die Boland wat so geromantiseer word en kom met sy Vrystaatse heimat om net weer balans te bring nie?
Seker nie? Maar dis ‘n moontlikheid en lekker om te bespiegel.
En al maak dit nie sin nie, het ek daarin geleentheid gevind om Coenie de Villiers (vir die kinders “die dude van Kwêla”) aan die nuwe generasie bekend te stel. Natuurlik spreek hy nie tot almal nie, hy het ook nie in 1984, maar iewers het ek straks net een kind die guns gedoen om hom of haar met die man en sy musiek in aanraking te bring – en wat meer kan ‘n onderwyser vra as om ‘n kind se verwysingsraamwerk uit te brei.
Ek moet miskien nie vir die kinders vertel dat ek amper derig jaar gelede op die liedjie verlief was nie, dat ek haar ‘n huisie met ‘n leiklipvloer beloof het nie – nou dink hulle dis ‘n prehistoriese liedjie.
En vandag het ek ‘n huis met ‘n leiklipvloer – deur die genade het daar niks gekom van die groot verliefdheid destyds nie.
Die een groot verandering wat ek aan ons huis wil bring, is (toevallig?) om ‘n dubbeldeur (hy hoef nie van okkerneuthout te wees nie) by die voordeur in te sit.
Hier is dit dan, die mooiste liefdesliedjie in Afrikaans:

VIR JOU
Coenie de Villiers
Vir jou wil ek 'n huis hê
'n Huis met 'n leiklipvloer
'n Witgekalkte skoorsteen
Wat deur die rietdak loer
'n Okkerneuthoutonderdeur
Wat kreun aan die skarnier
'n Donskombers om in te beur
'n Kaggel en 'n vuur
Koor:
Die dae is droef soos druiwe
Jou naam is soet soos mos
En die herfs is in die wingerd
En die son in elke tros
En die winterseer is wondbaar
As die jaar se hitte kwyn
Die seisoen word oud en waardig
Wat mos was word nou wyn
Vir jou wil ek 'n bos hê
Waar jy dennenaalde ruik
Reën wat oor die berg kom
En timmer teen die ruit
En by die hek 'n ou bloekom
Met sy takke in die wind
Hier aan die koperledekant
Jou warm bruinoog kind
Koor:
Al maak ek hierdie versie eenvoudig lief soos nou
Die wens bly tog maar net 'n wens, die werklikheid verbrou
Die wens bly tog maar net 'n wens, die werklikheid verbrou

Koor

Nou dat ek weer hierdeur lees en in my gedagtes saamsing, wil ek my selfs verbeel ek het hierdie liedjie met elke verliefderigheid “ons liedjie” gemaak.
Ek is oortuig daarvan ek het meer as een vrou ‘n huis met ‘n leiklipvloer beloof.
En dat dit toe nou Annieka (arme, stomme Annieka) moes wees wat met haar gat in die botter geval het!
Op ‘n ernstige noot egter, sit jy die drie tekste langs mekaar, is dit verbasend waarop jy afkom as jy vergelykend en kontrasterend na hulle kyk.
Om te hoor hoe die liedjie klink as Coenie dit sing, kan jy hier op youtube gaan luister – “Vir jou” skop egter eers in die middel (op 3 minute, 10 sekondes) in, want wie ook al hierdie musiek gelaai het, het twee liedjies gelaai.
Maar dis Coenie wat sing, so dit maak nie saak nie – mooi bly mooi.

1 comment:

Danel said...

My swak hart... Ai, nou laat jy my verlang na dinge wat ek al vergeet het! Baie dankie.
net so terloops: Coenie het 'n liedjie gesing oor 'n kaneelverkoper, enige idee wat die titel is en waar 'n mens kan luister?