Die stomme kind!
Twee weke gelede is dit of die huiswerk in alle opsigte 'n ander
vorm begin aanneem: daar is nie al die
baie inkleurwerk nie, hulle moet sinne skryf en op getallelyne werk.
Daar is selfs sprake van 'n “speltoets” teen Vrydag.
Die enigste manier met spelwoorde is dan seker maar die
skryf daarvan. So Maandagmiddag kry Klaradyn, wat my betref 17 uit 20 vir die
20 spelwoorde.
Teen Dinsdag kom ek agter dat ek haar op Maandag, die
spelwoorde van Maandag, Dinsdag, Woensdag en Donderdag gevra het; dis nie 20
per dag nie, maar 5 wat oor 4 middae heen opbou na 20 vir Vrydag toe.
Maar soos Langenhoven ons geleer het: “Die mooiweer sal jou nie beskadig omdat jy
jou reënjas
en sambreel verniet saamgeneem het nie.”
Woensdag trek ek my beste Uitkomsgebaseerde Onderwys-skoene
aan. Ek onthou vaagweg iets uit die gebrekkige opleiding wat hulle ons destyds
gegee het, wat ons daarop wys dat die kinders nooit die werk in isolasie nie,
maar in die een of ander konteks, moet doen.
So, in plaas daarvan om met “knip” weg te trek en dan
dadelik oor te gaan na “pappa”, val ek toe nou nie met 'n deur by die huis in
nie, maar met 'n sin in die toets: “George die houtkapper kap die kameeldoringboom op vir vuurmaakhout. Kap.”
En daar is ek op die punt om my te vererg oor dit die kind
nou skielik so lank sit op 'n drieletterwoord wat die vorige dag sommer
tjoef-tjaf kafgedraf is.
Ek moet haar 'n tweede keer aanjaag.
Maar toe ek kyk, toe sien ek sy sukkel met iets gans onontsyferbaar
soos djo die hoitka...
Dit sal help as Pappa verduidelik.
Maar Donderdag kry sy 'n lieflike 100%. Dis weliswaar by ons
by die huis. Wat in die klas gebeur het, weet ek nog nie.
Dan is daar sigwoorde. Ek verstaan daaronder dat hulle die
woord moet sien, en dadelik herken, sonder om dit te veel te wil klank.
Supercalefragenisticexpialidocious, in plaas van s-u-p-e-r-c-a-l-a-f-r-a-g-a-n-i-s-t-i-c-e-x-p-i-a-l-i-d-o-t-i-o-u-s,
by wyse van spreke.
In 'n stadium kom die boodskap dat die kinders nou daaroor
geassesseer gaan word en ons moet dit elke dag oefen. Ek tik die goed oor in PowerPoint en stop by so ongeveer 90
woorde, maar dit gaan nie te goed met die nuutste van die vier velle nie, en ek
sit hierdie woorde aan die begin en weer aan die einde.
Na twee weke sal ek steeds nie sê
die kind herken elkeen met eerste oogopslag nie, maar hoe vinnig hulle dit nou
op sig moet kan eien weet ek ook nie. Ons het nou die punt bereik waar Klaradyn
nie meer die woorde vir my sê nie, maar dit mimiek, uitbeeld of in
die geval van werkwoorde, doen.
Ingrypendste egter die feit dat die hele week se huiswerk
nie meer op 'n Maandag afgerol uitgedeel word nie, maar dat dit daagliks, deur
die parrabeentjies self, in die huiswerkboekie neergeskryf word.
Hierdie huiswerkboekie het my in twee weke siek van
bekommernis en Klaradyn op die voorstoep van terapie en 'n reeks gehoortoetse gehad
– die kind los aldag en heeldag die eerste letters van woorde uit. Elke keer
hier teen die begin van 'n sin, en ek weet nie of my kind nie kan hoor nie, en
of sy sit en gesels en dan nie seker is wat sy moet skryf nie.
Dan kom kyk die Juffrou blykbaar of hulle reg geskryf het.
Dan help sy Klaradyn reg. Maar die volgende dag is dit maar weer so.
Ek bel amper die Juffrou om uit te vind wat ons nou te doen
staan oor die kind so sukkel met die skryf. Dikteer sy vir hulle? Skryf hulle
van die bord af?
Gister, na amper twee weke, is toe die eerste keer dat ons
darem net twee van die drie sinnetjies het wat korrigeer moes word, die laaste,
onderste sinnetjie is genadiglik in plek:
Lees Lin se vin p. 11 en 12.
Doen twee sinne.
Lees Mossie bl. 17 en 18.
Toe Klaradyn in die bad speel, stap ek op Annieka af met die
huiswerkboekie en deel my bekommernis oor die kind se werk met haar.
En wat sê sy?
Die kind maak nie foute nie – die juffrou maak telkens die
beginletter sodat die kinders kan weet waar om te begin!
Nou of dit so is, sal ek nie weet nie.
Maar dis beslis 100 maal meer gerusstellend as die gedagte
dat jou kind nie kan hoor of skryf nie.
Ons het genadiglik darem al 5 van die 144 (as alles goed
gaan) agter die rug – dis nou 5 van 144 maande in die onderwys, as ons nie
iewers langs die pad 'n jaar of wat herhaal nie, en sy wel besluit om tot
matriek vas te byt.
Nie dat ek dit omwens nie; as dit van my afhang, het ek lankal
'n klip op haar kop gesit.
Dat ek reikhalsend daarna uitsien om te kan begin chill, is en bly egter 'n feit.
NS: Intussen het ek
terugvoer oor die speltoets gekry. Volgens Klaradyn het hulle wel toets geskryf
en sy het een verkeerd, iets met 'n –p.
Maar of dit 20 of 10 of 5 woorde is wat hulle moes skryf,
weet ek nie – aanvanklik het sy gesê dit was 100 woorde en sy het 3. (Sy
doen sulke goed as sy moeg is vir my uitvra en enige iets antwoord net om my
stil te kry – sy jok darem nie, maar gee duidelik te kenne dat sy net speel.
Egter verniet of ek meer uit haar kan kry.
No comments:
Post a Comment