Pages

28.5.11

Oor los geselsies en sop, onder andere

Op skool, daarna, en sommer tot nou die anderdag nog, kon my ma my altyd vreeslik verleë kry as sy allerhande los geselsies met wildvreemdelinge aangeknoop het.

Iewers in Januarie ’84 sit ek regs van haar in die PUK se ouditorium. Die volgende oomblik sink ek weg in die stoel (berge val op my, heuwels bedek my, die aarde sluk my in) toe sy met die tannie links van haar aan het gesels gaan. Toe moet ek drie stoele links van my oor 'n afstand oogkontak maak met 'n ander ewe verleë dogter – ons het glo dieselfde een of ander vak saam.

Die tannie op die stoel langs my ma het haar vooruitgegaan; ek en die ongemaklike gesiggie twee stoele verder het die beste van vriende geword, en is dit 27 jaar later steeds...

Maar, nee, ek knoop uit die aard van my inkennige en ongeskikte aard en natuur nie sommer graag geselsies met wildvreemdelinge aan nie.

Behalwe nou in die Spar of Pick & Pay, staan ek tussen die kosrakke en weet ek nie waar die kant toe nie, dan steek ek my kwansuise  skaamheid vinnig in my sak en klop enige een met die grootste vrymoedigheid op die skouer.

Soos verlede week weer:

Annieka had lus vir tamatieroomsop, maar ek het dit in my ganske lewe nog nooit gemaak nie. Die eerste resepteboek wat ek oopslaan vra vir skaapbene én gewone sopbene en ek besef 'n tamatiesop is nié iets wat ek die betrokke aand vinnig aanmekaar gaan slaan nie.

Ek is eintlik vanuit die staanspoor negatief want ek weet ek gaan nergens 'n die ganske Gauteng 'n enkele ryp tamatie te koop kan kry nie, wat nog te sê enige iets tussen 500 g en 1 kg. Tamaties, ja, baie, 'n hele paar honderd morg se ZCC grasgroen hopeloos te vroeg geplukte tamaties binne 10 km radius van my huis; maar rooiryp, vet uitgeswelde blink, plomp tamaties, sommer nog so aan die rank en stingel soos dit eintlik hoort – beslis nie.

Nietemin sit ek maar af Spar toe om te kyk wat ek kan uitrig.

Jare gelede, toe ek nog op laerskool was, het jy 'n geblikte tamatieroomsop gekry wat 'n mens met vrymoedigheid kon gebruik. Die naam het ek nou vergeet; ek verbeel my dit was van Royco toe hulle nog met vloeistof in plaas van poeiers gewerk het, of Oxo of Knorr. My ma het gereeld die heerlikste rooi hoender met hierdie blikkies roomsop gemaak, maar toe gaan dit van die mark af. Die ander roomsoppe op die mark was nie dieselfde nie, die rooi hoender nooit weer dieselfde nie, en iewers teen standerd 4 of 5 het sy net opgehou op dit te maak. (Ek, my broer en sy vrou smag vandag nog na Judy se rooi hoender uit die jare sewentig, maar verniet.)

So my hand aan 'n blikkie roomsop slaan, sal ek ook nie.

Maar Annieka dreig my af met 'n sakkie Royco –poeiersop wat jy sommer so met kookwater in 'n koppie aanmaak. Oor my dooie liggaam.

Ons plaaslike Spar het toe, soos verwag, tussen die honderde sakkies, nie 'n enkele ryp tamatie in 'n enkele van daardie sakkies nie.

Maar, glo dit of te not – in Woolworths-styl, 'n plastiekhouer klaar bereide tamatieroomsop!

Natuurlik oorweeg ek dit nie, allermins nie teen 'n prys waarmee ek 'n hele weermag vir dieselfde bedrag voed nie.

Nietemin draai ek die etiket na die fynskrif om te lees wat alles daarin is en sit af om daarvan in my mandjie te kry.

Toe ek terugkom om te bevestig dat ek alles het, tref ek 'n ander tannie voor die soppe aan.

Ek, op my beurt, het nou wel die bestanddele, maar hoogstens 'n vermoede oor die metode, en hierdie tannie lyk soos 'n kosmakertjie van formaat.

Maar hoeveel vrouens, wat die vooraf bereide soppe in 'n winkel se yskas uitkyk, is nou die tipe voorslagvrou wat hul eie tamatieroomsop berei!

Nietemin waag ek dit:  “Het jy al jou eie tamatieroomsop gemaak?”

En ek het die boerpot geslaan – sy begin dadelik gesels en deel sommer twee reseppe.

Ek gesels saam en toe wys sy my die blomkool, waarvan sy die betrokke aand 'n sop aanmekaar gaan slaan, in haar mandjie.

En dis met hierdie blomkoolsopresep ook in my kop, dat ek daar weg is.

En dit is wat ons gisteraand geëet het – 'n onbekende in Spar se blomkoolroomsop.

Ook daar waarby ek wil uitkom.

Dit kom neer op 'n blomkooltjie, hoenderekstrak en water, en 'n halwe blokkie blou skimmelkaas. Sout en peper.

Nee, oortuig sy my, beslis nie nodig vir melk nie.

Toe maak ek dit gisteraand.

Ek gebruik selfs die laaste van Ina Paarman se vloeistof-hoenderekstrak.

En dis heerlik. Heerlik geurig.

Maar soos ek vir Annieka sê: “Die sop is lekker, maar dit sou heerlik wees met melk en 'n kannetjie room. Dis al.”

En dis al wat ontbreek. Room en melk.

Maar oor die room en melk ontbreek, is juis die enigste rede waarom ek die sop gemaak het.

En vandaar ook al die om- en afdraaipaaie wat ek tot hier geloop het.

Een maal 'n jaar, dan maak ek my arm oop vir die vrou en as sy gelukkig is, kry sy met die eerste steek 'n aar.

Maar nog nooit, in hoeveel jaar nou al, is ek 'n paar dae later teruggebel nie.

Dis nou tot hierdie jaar, verlede week:  “Meneer Moolman, dis Suster van Staden hier by doktor Gothe se kamers. Hy het jou bloedtoetse se resultate gekry en wil jou graag sien.”

So op pad terug van hierdie man, dat ek stop vir die waterige blomkoolroomsop.

Op pad uit sê hy mos vir my dat ek, wanneer ek daar verby gaan, by die susters se stasie moet vra vir die cholesterol-eetplan.

Hy het 'n pilletjie voorgeskryf, maar ek weet ek kan baie help met anders eet: biltong kan wat my betref 'n repie vleis aanhê as dit moet, maar eintlik is dit opsioneel; enige iets smaak beter in room en met room, room kan enige water of melk in bykans enige resep met groot sukses vervang; brood saam met botter is nie te onaardig nie, solank die sny brood net nie te dik is nie, want dan oorheers dit die smaak.

Die suster vertel toe ook van knoffel, aalwynsap, vlassaadolie en nog iets wat haar pa se telling laag hou.

Ek sal nog sien – ek verwerk nog die inligting.

Die suiker is ook bo die perk en ek moet vir 'n opvolgtoets gaan – een van daai waarvoor jy vooraf 'n afspraak moet maak omdat hulle jou suikerstroop voer.

Een van die dae sal die man seker allerhande plastiek handskoentjies ook wil aantrek op my jaarlikse roetine-ondersoek!

Was Klaradyn klaar met skool en ek nie meer lief vir Annieka nie, het ek die nuus straks gevier met 'n vetterige biltong van my gunsteling biltongverskaffer, afgerond met die Skotse roompoeding, die Boere-weergawe wat wegtrek met 'n liter room, en dan is hy nog nie uit die oond uit en aangeklam met vla en room nie!

Maar nou is die kind in graad 1 en ek nog lief vir my wederhelf.

Ek sal maar kyk of ek dit so kan kry dat ek hul siele vir nog 'n hele paar jaar kan versondig.

Lekker, in besonder lekker op die tong, lyk my gaan dit beslis nie wees nie.


No comments: