“Die sondes van die vaders besoek die kinders tot in die derde en vierde geslag van die wat my haat.”
Ek haal aan, beslis nie verbatim nie, maar soos my onthou uit ‘n kindertyd dit so gereeld uitspoeg.
Deesdae borduur ek natuurlik daarop voort:
Die sondes van die vaders én die moeders besoek...
Die groot sondes en die nie so groot sondes besoek...
Die sondes en ook dit wat nie sondes is nie besoek...
En as ek dit alles wil saamvat in een hoofgedagte, is dit: Dis ‘n lang storie.
‘n Lang storie, vir my en in my idiolek, is ‘n ding wat oor geslagte kom, nie sommer twee nie, maar drie of vier. Iets soos: Grootjie het aangejaag en verbrou dit toe met haar dogter. Die dogter kom toe stukkend anderkant uit en jaag op groot skaal aan met haar dogter. En toe hierdie stomme dogter haar eie dogter verwek is die kind se lewe iets waaroor later jare ontstellende boeke van geskryf en ewe verontrustende flieks oor gemaak word.
En dan gee ek nie die grootjie die skuld nie – ek weet sy was ook maar die produk van haar omstandighede, of soos die Russe dit so mooi stel: uiteindelik word jy wat jy was.
Ek het in my onderwysloopbaan al baie keer op sulke lang stories waar dit die sondes van die voorgeslag is wat die nageslag steeds teister , afgekom.
Egter nie ‘n lang storie of vreeslike sonde wat my agter die rekenaar het nie. Trouens nie eers ‘n storie nie, net ‘n gedagte, ‘n vlietende gedagtespraak waarop ek myself by herhaling die afgelope ruk voor die yskas betrap: Judy se sonde besoek haar seun 20 jaar later.
Want kyk, as daar nou een ding is wat ek nie sal mis as ek Australië, of waarheen ook al, geëmigreer het nie, dan is dit nou Cross & Blackwell se mayonnaise.
Dis sommer net plein simpel sleg; en maak nie saak hoe jy dit probeer verbloem nie – dit spring altyd voorop op jou tong en in jou mond.
Hoe my ma haar eie slaairoom gemaak het weet ek nie, weet sy al jare nie meer nie, en is ook nou al moeg gesoek en gevra na.
Tuisgemaakte mayonnaise van olie en eier was dit beslis nie – ek het ‘n paar keer probeer om deur daardie pyn en leiding te gaan, en kon die goed na die tyd in my mond nie kry nie. (Ek vermoed my olyfolie was nie maagdelik genoeg nie, of té maagdelik; of dit nie cold genoeg ge-press nie.)
Maar my ma het in ‘n stadium ook gatvol geraak van haar eie slaairoom maak, haarself verbeel sy grand en mayonnaise in bottels begin koop.
Nie wát nie, die walglikste, ongesondste, vetterigste, olierigste goed op die mark – ek is selfs bang om dit by die naam te noem, netnou dagvaar hulle my oor ek my woorde openbaar bekend maak.
Sy was mal daaroor. Ons almal het geprotesteer, gewaarsku, vertel hoe ongesond dit is en dat dit so ryk is ‘n mens kan dit in jou lyf nie kry nie.
***
En toe is ek in 1984 uit die huis uit en self het ek dit nooit gekoop nie – dis te ryk en duur en vetterig en galsterig en geil en alles wat sleg is.
***
Maar dis 27 jaar later.
En in 27 jaar gebeur baie dinge.
Ek was lus vir ertappelslaai.
My eie sous kook, gaan ek nie.
Miracle Whip is ek al tien jaar lank aan uitgekuier.
Alle mayonnaise’e en slaaisouse en slaairome proe soos plastiek.
Cross &Blackwell is buite die kwessie.
Maar dan is dit mos nou maar hoe dit met ‘n ding soos ertappelslaai is – jy wil hom hê soos jy hom in jou ouerhuis, óf uit jou ma, óf uit jou pa se hand leer ken het.
En toe onthou ek van Ma en haar Hellman’s Mayonnaise (real mayonnaise het hulle dit genoem) uit die laat jare sewentig, vroeë jare tagtig.
En dan is dit mos ‘n snaakse ding wat tyd en afstand doen – op daardie oomblik raak ek so lus vir ertappelslaai met Hellman’s dat die week nie eers sy einde gesien nie, toe het ek vir ons drie Moolmans ‘n bak ertappelsaai aanmekaar geslaan wat genoeg is vir ‘n weermag.
En die week daarna weer.
Nou is dit seker drie maande dat ek vies is as ek by SPAR kom en hulle Hellman’s is uitverkoop, want dis nou drie maande dat my yskas net sonder Hellman’s is die kere wat SPAR nie het nie.
Ek wil eintlik in konfrontasie met die ourjies by SPAR gaan – hulle hou net die klein botteltjies aan. Toe ek spesiaal uitry CHECKERS toe om my Hellman’s te kry, toe sien ek jy ‘n kry ‘n groter verpakking wat goedkoper uitwerk neem jy die gewig/volume in ag.
Verlede week toe smeer ek en Klaradyn ons Hellman’s hoender-mayonnaise broodjies ekstra Hellman’s op die buitekant, en ek dink: “Die sondes van die moeders besoek die kinders...”
Die naweek is daar stukkie droë koue souttert en ek maak dit na iets proe met ‘n bolaag Hellman’s en ek dink: “Die sondes van die moeders...”
Vanoggend kry elke snytjie van die toebroodjie ‘n plakkie ham, die een kry dun lagie Sandwich Spread, die ander ‘n skotige happie Hellman’s en ek dink my dink...
Skool het nog nie begin nie, toe kom sit ek met my broodjie agter die rekenaar.
No comments:
Post a Comment