Pages

16.5.11

Heeltyd speeltyd


Probeer jy 'n kind se vestibulêre stelsel opskerp, is 'n tydskrif in 'n stadium onontbeerlik – jy skeur prentjies uit waarop mense interessante liggaamshoudings en -posisies inneem. Dan moet die kind die prentjie eggo, en daarop let om dit nie in spieëlbeeld te doen nie, maar so getrou as moontlik aan die oorspronklike foto vorm aanneem – ek noem dit sommer Lot se Vrou, want jy moet 'n standbeeld word.

Jy moet natuurlik die prentjie langs die kind hou, en dit help nie jy neem 'n houding en posisie in wat die kind moet naboots nie, of vang snaakse dinge met 'n Barbie-pop aan nie - dis beter vanaf 'n tweedimensionele plat vlak tot die driedimensionele bol klei wat die kind se liggaam word.

Ek het net besluit ons gaan hierdie oefening in meer styl doen as om prentjies uit 'n Huisgenoot of Sarie te kry. Ons gaan deur die Louvre stap en figuurstudies kies wat tot ons spreek:  Rouault, Modigliani, Rubens, Velazquez...

O, en wat 'n lekkerte is dit nie!

Ons Louvre is Oumagrootjie se stel van 20 kleurplate elk oor 'n stuk of 15 kunstenaars versprei. Dit is in 1956 en verder maandeliks vanuit Johannesburg na Elias Dale, Oupagrootjie-hulle se plaas anderkant Barkley, duskant Rhodes, versend.

('n Mens besef net opnuut hoe bevoorreg ons generasie is om met die druk van internetskakels tot binne 'n kunsgalery iewers in Europa te kan gaan. Destyds moes hulle 2 pond per boek betaal en dit honderde kilometers met die pos aanstuur om die kunstenaar se werk onder oog te kan kry. En dit nadat die oplaag per skip vanaf Amerika hier aangekom het.)

Klaradyn word die fraaiste eilandmeisies as sy in Paul Gauguin se post-impressionistiese doeke klim; sy verkies natuurlik Velazquez, maar dis suiwer oor die dames se kleredrag tot haar spreek. Party van Goya se skilderye hou ons sommer 'n hele rukkie besig – sy word tereggestelde en teregsteller (en trek dan self lyne na Gauguin se Geel Christus wat ons netnou leer ken het).

Toe Picasso volgende lê en wag, toe dog ek ons gaan niks kry wat werkbaar is nie, maar ek het Pablo onderskat – hier uit die roos en blou fases van sy loopbaan, stel hy vandag nogal lekker uitdagings.

Dan is daar nog Vermeer se baie vrouens, Degas se dansers en Breughel se boere en boerinne.

Toulouse-Lautrec kry die kind om sommer, nie net met haar lyf nie, maar ook sommer haar gesig in te span en ek wonder of ons arbeidsterapie doen, of drama.

Die hele speletjie moet eintlik 'n afleier tussen kruiwastoot en ander fisieke aktiwiteite wees, maar as ons ons weer kan kry, dan het ons in een van die galery se sale vasgeval en kom daar van fisieke oefening niks.

Dit alles oor 'n vriendin, destyds voor Klaradyn graad O toe is, voorstel ons laat haar deur 'n arbeidsterapeut assesseer; sy (self 'n graad 1-juffrou) het dit met beide haar kinders gedoen en was nie een dag spyt nie.

So hoe ken jy nou vir Hans en Annieka? Ons laat die kind assesseer. En nie hoe nie, jy klok vir iets soos ses ure in waarin die tannie dan nou met die kind speel en so spelenderwys haar afleidings en gewaarwordings maak.

Hulle was seker so uur besig toe die vrou by my kom aansluit en grootoog vra waarom ons die kind hier het, sy tel geen opvallende uitvalle op nie.

Nee, daar is nie ooglopende rede nie, dis ter wille van gemoedsrus en omdat ons eerder nou sal wil uitstryk wat uitgestryk moet word, voor ons ses of sewe jaar later met bondels en hope strykwerk sit.

Dit is dan ook so soos ons gehoop het:  die terapeut het 'n heerlike sessie gehad en dit was vir haar lekker om met 'n kind te werk wat dringend terapie nodig het nie.

As sy hiper krities is, is daar twee sake waaraan sy aandag kan gee, maar dis niks in vergelyking met die tipe gevalle wat terapeute normaalweg konfronteer en uitdaag nie.

Ons laat ons afraai om opvolg te doen en graad O kom en gaan.

Eerste oueraand graad 1 is daar ook net lof.

Maar met die tweede is dit tog of die kind uitsak hier na 12:00 se kant en ons dit kan oorweeg om na spiertonus te kyk.

Toe weet ons ons het die woord al gehoor, by die arbeidsterapeut destyds, dit was een van die dinge wat aandag kon geniet het as sy fout moes soek.

So vandeesweek is dan nou die tweede week van terapie.

En soos ek my kind leer ken het, so is sy steeds – die tannie stuur so ewe 'n spogkaart saam, ter wille van ekstrinsieke motivering, maar 14 dae later het ek nog nie nodig gehad om iets daarop in te vul nie. Klaradyn geniet dit so, is so gewillig, dat ek g'n stuk nodig het om geelwortels voor haar neus uit te hang nie.

Maar partykeer kom ons gewilligheid om met oorgawe in te koop ons ook duur te staan – soms letterlik duur daarby.

So hou die tannie vir Klaradyn, terwyl sy in 'n hoogsongemaklike posisie aan 'n pyp hang, besig met 'n baie stimulerende speletjie – een van daai goed wat nóg ek nóg Annieka kan doen, maar Klaradyn soos soetkoek eet, daai speletjies wat meet en pas en ontwikkelde linkerbrein-denke noodsaak.

Toe ek verlede Saterdag, na ons so goed soos Johannesburg toe en terug was, uiteindelik by 'n winkel aankom wat die goed in voorraad het, koop ek sommer drie stelletjies wat al drie, met geringe afwyking, rondom dieselfde tema borduur.

En wat gebeur Donderdag? Ons het so lekker geoefen aan die betrokke aktiwiteit dat die vrou dit skrap en met iets heel anders vervang, iets wat beslis nie my R500-00 se intellektuele speelgoed akkommodeer nie.

En wat doen ek? Ek hou vir my so doof soos 'n soutpilaar. Klaradyn se aandag was gelukkig elders, en as sy haar maar weer kan kry, dan oefen ons die oefening met die gekoopte IK-uitdaging asof dit 'n eerste keer is.

En of dit alles help?

Nee, hoe sal ek weet? Ek weet nie eens mooi wat vestibulêre beteken nie; om van spiertonus nie te praat nie.

Ek weet wel dat sy week twee sommer baie minder gesukkel het met twee of drie goedjies wat week een maar mank gegaan het.

Die vrou kry haar in 'n stadium op 'n ding wat 'n mens seesiek maak oor dit nie plat staan nie, maar jou angsbevange rondwieg en –skommel op twee halfmane.

Ons probeer tuis met 'n blikkie onder 'n plankie, maar na Pappa die blikkie moer toe getrap het, beteken dit ook nie veel nie.

Ek teken toe maar vir Oupa en hy saag en skuur tot ons iets soortgelyks as die tannie het.

Dit sal my nie verbaas as Klaradyn volgende week pirouettes op die ding maak nie, 'n Degas-danser of Picasso-akrobaat op die ding aanneem nie.

Met Hoër Graad links en regs kan dit beter gaan, maar dis gene, ek sweer. Die stomme kind sit met 'n ouer wat nie eers weet waar bo en onder sit nie, en of jy af ry Kaap toe, of op nie, wat nog te sê van links en regs.

Maar ook hier is verbetering, meer as net te bespeur, 'n blinde sal dit met 'n stok aanvoel.

Ek is so bly ons kry die swaarkry met allerhande lekkerkry klaar – daar is mammas by die skool wat vertel hoe hul kinders die dae arbeidsterapie omgehuil het.

Klaradyn, en die beste arbeidsterapeut in Pretoria, maak dit vir ons maklik.


No comments: