Pages

13.5.11

Spyt kom altyd, altyd, te laat

Daar is min dinge so lekker en bevrydend soos om ouer te word.
Oud word het ek nog nie leer ken nie – dis iets wat my ma twee weke na haar sewentigste verjaarsdag getref het en hoe dit voel weet ek niks van af nie. Maar ouer word, wat ek meer en meer aan eie bas beleef, is een vet lekkerte.
En ek word bykans daagliks daaraan herinner.
Janita Claassen se musiek kon ek my hele jonger lewe lank nie uitstaan nie.
Nee, laat ek dit anders verwoord: ek kon myself, toe ek jonger was, nie toelaat om daarvan te hou nie.
Toe ek die eerste keer met haar musiek konfronteer is, was ek ‘n nat agter die ore drie-en-twintigjarige snotkop en Janita Claassen iemand na wie die weermag se staandemaglede se vrouens geluister het . Jy kry my gevolglik nie dat ek selfs met ‘n braaitang en oor ‘n afstand aan ‘n Janita Claassen plaat, kasset of CD raak nie.
Tog gebeur dit dat ek oor meer as ‘n jaar gereeld in hierdie staandemaglid se huis kom. Dit was myle van die beskawing, van radio-opvangs of ‘n luukse soos televisie was daar nie sprake nie – so my ore word gepeper met die vrou se bloody rolbosse en soene soos ballonne in die wind.
Ons lag miskien selfs vir die mense se kommin musieksmaak.
Ek hou skool en iewers 1990 of 1991 het ons ‘n heerlike taak met die standerd 8’s:  hulle moet ‘n navorsingstaak oor ‘n Afrikaanse sanger, sangeres of sanggroep maak. Een van die kinders is bevriend met Tannie Janita en ek onthou ‘n goeie taak.
Maar dit dan toe nou die laaste van Janita Claassen vir seker 20 jaar.
Iewers is Annieka, ek weet nie eers of ons toe al getroud was nie, na ‘n Junior-Burgemeester van Pretoria juniorburgemeesterstee en sy noem dat Janita Claassen die gasspreker was en dat die vrou haar aangegryp het.
En iewers kry die kanker na tien jaar die oorhand.
Maar dis dit.
Dis nou dit, tot ek myself die laaste drie of vier jaar begin betrap dat ek al meer en meer wonder wat van Sammajoor en Bessie geword het. Is hulle al afgetree? Wat sou die kinders nou doen?
En toe, nou Desember wat verby is, loop ek in ‘n CD-winkel en krap en kom af op ‘n Beste-Van-Janita-Claassen-album. Op daardie oomblik oorval ‘n verlange na Sammajoor en Bessie-hulle my so, dat ek die ding onmiddellik koop.
Die girls is saam met my in die shops, maar Annieka sê niks, sy weet van beter om nie in te meng met nostalgie, heimwee en ‘n stewige skoot gesonde melancholie nie.
En dit is ook so:  kom ons in die motor en ek sit die ding in, toe gaan ek aan het grense, nee, ek lieg – dis nie eens dat ek tjank nie, ek huil sommer snot en trane.
Maar met Samajoor, Bessie, Min Dae, Varkpanne en die laat jare tagtig as weerlose weerbare jong ma uitgelewer aan die SAW & Seuns het dit net mooi niks te doen nie – die eerste snit op die CD is die een waaroor ons destyds die meeste agteraf gelag het as Bessie so veraf kyk in haar oë kry, terwyl dit speel: iets wat begin met Vandag is jou troudag, my meisie...
Ag, en daar is dit nie Janita wat praat nie, maar Pappa. En hy praat met Klaradyn.
En ag, my hart ruk sommer net om daaroor te skryf.
En ek onthou Bessie se dogters was destyds al uit die huis en seker nie te ver van trou nie.
Behalwe vir die Ballonne in die wind en die rolbos wat ook ‘n tolbos is, herken ek niks anders (naas nou ook die ma wat haar kind in ‘n trourok vir die wolf uitgooi) nie; dis duidelik die vrou het nog ‘n goeie vyftien jaar lank musiek gemaak, musiek waarop ek uitgemis het, ouer geword het.
April-vakansie toe luister ek weer.
En nou, hierdie week weer, soggens op pad skool toe.
En ek is nie eers skaam om te sê dat ek van die vrou se musiek hou nie. Is daar ‘n snit waarvan die strekking my nie aanstaan nie, stuur ek my gedagtes anderkant toe; netnou is daar in elk geval weer ‘n snit wat hulle op hok kry.
Betrap ek myself vanmiddag selfs dat ‘n snit wat my April nie juis aangestaan het nie, een wat my in 1988 oor die rand sou gestuur het, vir my mooi raak, aangenaam om na te luister, ek draai die klank op.
En dis hoekom die opskrif (gewoonlik totter ek aan die einde met opskrifte; vandag het daarmee begin) nie direk met ouer word verband hou nie, maar met spyt. Ek is een van daai mense wat, as ek van Dalene Matthee se boek gehou het, dan laat weet ek haar. Ook met Chris Barnard en sangers soos Laurika en Coenie.
En nou so ek so graag my gewaarwordinge met die vrou deel, deel uit skuldgevoel ook oor ek haar so afgelag het; en nou is dit te laat. Spyt kom altyd te laat.
Maar dis nie die les wat ek hieruit geleer het nie, ek weet dit immers lankal.
Nee, ek het geleer om nie meer in CD-winkels rond te hang nie. Netnou het ek nie ouer geword nie, maar het my kop my verlaat.
Sê nou ek tel een mooi dag ‘n CD van Bles Bridges of Worsie Visser op, en ek hou skielik daarvan?
Of die man wat ons destyds so aangespoor het om op te staan en uit te hou... iets van wenners-wenners-wenners. En as jy val, dan moet gou weer opstaan.
Danie, maar nie Niehaus nie.
Wat gemaak as dit skielik tot my spreek?
Miskien het ek dan nie sommer ligweg net ouer geword nie, maar sonder enige optimistiese prognose, niks anders nie as oud.

No comments: