Pages

7.7.11

Een van baie, min dinge

Daar is baie dinge waarvoor (of is dit waarvan?) ek sê: “Daar is vir my min dinge so lekker soos...”

Party van die min dinge wat so volop is, hou verband met smake; ander met emosies, party is tasbaar; ander suiwer belewenis of ervaring.

Nou een van hierdie baie, min dinge van my wat my lekkerte tot my binneste gee, is as iemand 'n tweede porsie neem van dit wat ek voorberei en voorgesit het.

Jy hoef nie vir my  te sê dat die kos lekker is nie; jy kan ook maar, so veel keer as wat jy wil – voor jy nie 'n tweede porsie geneem het nie, glo ek nie 'n woord wat jy sê nie.

Die teendeel is ook waar – neem 'n tweede porsie, dit hoef natuurlik net 'n skeppie of happie, en nie noodwendig ‘n volle porsie te wees nie, en jy hoef oor die kos nie 'n enkele woord te rep nie – jy het my reeds alles uitgespel wat daar moontlik genoem kon word.

En as jy met jou tweede porsie kommunikeer het dat jy bykans sterf van die honger en selfs nog van my slegte kos sal eet om jou lewe te red (in plaas van Maggies Hans, maar dit smaak nou vir jou vorentoe!) maak dit ook nie saak nie – jou opskepaksie, en allermins nie jou gedagtes nie, vlei my.

Dit maak die lewe vir 'n mens soos ek wat in sommige opsigte, partykeers nogals soorts van ordentlik kan wees, redelik moeilik – ek sal 'n tweede porsie van die onaangenaamste dis neem, net om die gasheer, gasvrou of een agter die kospotte te vlei. Maar dis my fout, oor ek redeneer almal voel en redeneer oor kosmaak soos ek.

Kosmaak is vir my 'n liefdesdiens, elke greintjie bemoeienis wat ek in kosmaak insit wil kommunikeer: jy is vir my belangrik en spesiaal, daarom belê ek van my tyd en energie in jou. (Dikwels ook nie net tyd en energie nie, maar deesdae geld ook.)

Ek weet nie of die mense vir wie ek kosmaak, my gebaar noodwendig as sodanig interpreteer nie, ek loop normaalweg nie so met my gedagtes en motiewe op die mou rond soos nou hier nie. Dis na ek Annieka meer as sewentien jaar ken, dat ek vanaand vir die eerste keer aan haar bely het:  “Daar is vir my min dinge so lekker soos wanneer mense 'n tweede skeppie van my kos neem.”

En dit was omdat ek daardie sonderlinge lekkerte van my, vanaand meer as een keer ervaar het.

Ek het gaan beesstert koop, van 'n plaas in die Vrede-distrik, OVS. Die boer en sy vrou ry elke Saterdagoggend deur  Pretoria toe om 'n middelman uit te sny en hulle vleis by die Boeremark, ook Irene-mark as dit Irene-mark is, van die hand te sit.

Ek het weer my boeke geraadpleeg – sommer vir die lekker. Ek het die internet deurkruis. En op die volgende interessante resep afgekom wat ek woordeliks aanhaal:

Romeinse Resepte
Beesstert
Velletri

2 uur en 15 minute

Bestanddele vir 4 persone:

1 kg koei se stert
seldery, uie, wortel, knoffel
olyfolie, sout
peper, pietersielie
½ koppie rooiwyn
gr tamatiesous. 300


Voorbereiding en gaarmaak:
Die vleis in 'n pan te kleur met: olie en gekapte ui, seldery, wortel, knoffel en pietersielie, fyngekap. Pas sout en peper. Wanneer die vleis bruin pour 1 / 2 glas rooi wyn wanneer dit verdamp voeg die tamatiesous. Altyd voeg water by en kook oor lae hitte met die deksel vir sowat 2 uur tot die sous dik.

Ek kan net divve bon'appetito

Waar ek daaraan gekom het, kan ek steeds nie 100% aflei nie – ek lei af dis die een of ander Italiaanse vraag-en-antwoord-werf (enige een vra, en enige een antwoord). Maar die outjies span Google se vertaalfunksie baie intensief in – hul werf is in iets soos 27 tale beskikbaar, en toe ek beesstert begin soek, toe spoeg die soekenjins die Afrikaanse vertaling van hul werf uit.

Of, wie ook al die resep geplaas het, by die Romeinse Apicius gaan kers opsteek het, weet ek nie, dis moontlik.

Maar na ek orals lig gaan haal het, waar ek lig wou kry, het ek my beesstert reg en gereed gekry.

Dit moes dag lank staan, dat die vet ordentlik kan stol en ek dit kan aflig.

Natuurlik het ek dit oordoen, en toe ek die eindresultaat so kyk, toe weet ek, ons gaan drie dae hieraan eet. En my gesin hou nou van na mekaar dieselfde kos eet nie, ongelukkig ook nie van kos wat lank in die yskas gestaan het nie.

Toe glimlag ek, want nou kan ek iemand oornooi om met ons te kom deel. My hart neem 'n besluit en ek bel: “As dit nie te koud is om uit te kom nie, wil julle nie vanaand by ons kom inval vir 'n vroeë aandete nie? Ek het lekker kos gemaak en soek iemand om dit saam mee te geniet.”

En die saak is reg, die kind se naam is Wit Willem.

Dis jarelange baie goeie vriende, so ek is reg vir slegs die vleis, sy sous en mieliegruis, bykosse is nie nodig nie – dis die geselskap wat bepaal hoe lekker geëet word, nie die kos of variasie daaraan nie: brood en botter en jam en konfyt, word 'n koningsmaal saam met Pat en Ina.

Annieka is lus vir groente. Ek besluit op haar gunsteling, patats, en my gunsteling, groenboontjies op die boeremanier gaargemaak met ertappels, ui, tamatie en nie die stukkie spek nie. (Hierdie manier van doen, kom ek toe agter, herinner darem baie aan die verskillende soorte Hollandse stamppot wat in die stamland opgekook word – Google gerus eendag die woord stamppot en kyk by watter lekker kos kom jy uit.)

En toe kook ek so lekker dat ek vieruur besluit dis tyd en weer vir my oorlede Ouma van Wyk se sagopoeding – as sy nie gebel het om te sê sy het vir ons 'n hoendertjie gaargemaak wat my ma kom optel nie, dan was dit 'n sagopoeding wat gereed gestaan het. 'n Vinnige, maklike sagopoeding het Ouma gemaak, die dooier is in die sago in, die wit is styfgeklop bo-op gebak, en tussen die wit en die res, was die dun lagie appelkooskonfyt. Maar sagopoeding was hy nie sonder die kaneelstokkie wat iewers astrant sy kop uitgesteek het nie.

En nadat elkeen 'n tweede porsie had, met skeppies van alles op die tafel, het elkeen waaragtig nog 'n soet of sout proppie, na gelang van elkeen se smaak en voorkeur, gehad. 'n Sout proppie, so het ek groot geword, is daardie klein sout happie, sommer net 'n lekseltjie, net so vir die lekker, na die nagereg geniet is. Ek geniet myne meesal as ek afdek, op pad kombuis toe, 'n velletjie hoender, knypie boudvleis of teelepeltjie groente. Maar hier bedoel ek 'n derde skeppie, net so ietsie, na die tweede porsie.

My beker het oorgeloop.

Ek wens ek kon dit, soos die huis waarin ek groot geword het, elke week doen, partykeer op groot en overdadige maat, ander kere in kleiner en beskeie maat. My ouers sou iemand bel en sê:  “Wil jy nie vanaand by ons kom pot luck neem nie.” En dan eet ons, wat die kospotte ook al oplewer.

Ook van my ma wat ek hierdie ding rondom die tweede porsie het. Maar ek en sy het dikwels konflik daaroor gehad. Ek het talle maaltye die idee gekry sy geniet haar eie kos nie – sy het verplig gevoel om op haar manier die goeie gasvrou te probeer speel, so haar aandag was nooit haar bord nie, maar die ander s'n. En die oomblik as jy klaar het en jou vurk neersit, dan vra sy wat sy jou nog van kan aangee. En ek kon nie ontspan by die gedagte dat my ma met valkoë dophou hoe ek eet nie.

Daarom dat ek uit beginsel bykans nooit 'n tweede porsie aanbied of forseer nie.

As ek lekker eet, wil ek nie lekker eet en ooreet tot lekker nie meer lekker is nie, want dan is lekker nie meer lekker nie.

In Annieka se familie is daar 'n kok wat, soos ek en my ma, genot daaruit put as die vir wie hy die kos voorberei het, dit geniet. Daarom eet hy nie noodwendig saam nie, hy sit saam en kuier saam en geniet saam, maar eers teen die einde, as hy op sy gelukkigste is en weet sy gaste het heerlik geëet, sal hy vir homself opskep. En hy doen dit op so 'n manier dat geen mens ongemaklik voel nie.

Ek hou van kuier, en van kuier om 'n tafel die meeste.

Naskrif:  ek het nou weer gaan loer by die Italiaanse plek wat beesstert vir my op Afrikaans uitgespoeg het. Hier is die skakel Il Pazzicomio Ek het gaan loer by die "Vandag se posts", dit lyk nou eerder na bloggemeenskap.

1 comment:

Anonymous said...

jou kos het heerlik geruik toe ek gister middag daar weg is! wou nog vir jou se, maar nie daarby uitgekom nie, te veel ander goed gesels... vicki