Pages

19.7.11

Die mag van die ongewoonte

Ek weet nie of dit aandagspan, konsentrasiespan of geheue is nie, maar myne van een van hierdie drie word stof in die oë geskop deur 'n goudvis in 'n te klein visbakkie.

En as dit nie dit is nie, dan is dit die holrug geryde gedagte dat 'n man nie daartoe gebore in staat is om twee dinge tegelyk te doen nie.

Maar dit is beslis nie dit nie, ek kan met groot sukses die televisie se afstandbeheer met die hand beman, terwyl ek heel behendig met die ander hand die natterige, vetterige stukkies biltong uit die bruin kardoes opdiep.

Miskien is dit dan eerder 'n geval dat ek nie aan twee goed op dieselfde tyd kan dink nie, veral nie as die een van nietige aard is, en die ander een 'n oplossing op al Suid-Afrika se maatskaplike, politieke, en ekonomiese probleme is nie.

Sien, ek sukkel om goedjies wat na 'n ruk tweede natuur is, te onthou as my gedagtes op ander plekke is.

Dit was op skool al 'n probleem. Ek sal 60 sekondes weg van die voordeur en af in die straat wees, op pad na pelle toe, dan kan ek om die dood nie onthou of ek die deur gesluit het nie. Dan draai ek om en gaan maak seker.

Ek praat onder korreksie, maar ek kan nie onthou dat ek ooit een keer weer voor die voordeur te staan gekom het, en dat die deur wel nie toegesluit was nie.

Vir 35 jaar nou al, sonder uitsondering,  was die deur nog elke keer gesluit.

Maar ek is nie bereid om die risiko te loop om nie om te draai en te gaan bevestig nie – netnou het ek berou.

Ek het sopas onthou ek het vergeet om vanoggend die yskas wat ek afgeskakel het, weer aan te skakel.

Dié onthou tref my nou, toe ek terug dink aan hoeveel keer ek nie al terug moes gaan om agter te kom dat ek toe wel nie vergeet het om die stoof af te sit nie. Vir die langpad hou ek van warm melk in die koffiefles se boeretroos; ek het al twee tolhekke verder, teruggedraai om vir 'n koue stoofplaat te staan te kom.

Ons yskas, op sy beurt, het die hebbelikheid om te gaan stilstaan, al is hy aangeskakel. Maar skakel jy hom vir 7 minute af, dan loop hy klopdisselboom as jy hom weer aanskakel. Dit gebeur so 4 keer 'n jaar en vanoggend het ek my verbeel hy is weer in een van sy katatoniese stilstande.

Toe skakel ek hom af.

5 minute later skakel ek hom toe weer aan; dit was laat en  ek was haastig.

Maar dit was 5 en nie 7 minute nie; die gevolg is ek moes hom weer afskakel.

En toe vergeet ek om hom 2 minute later weer aan te skakel.

En onthou dit eers, oomblikke gelede, 9 uur en 45 minute later.

Myle van die huis en die yskas af.

Dit terwyl al vanoggend se haas my net minder spoed gekos het.

Op skool het ek dit vir myself maklik gemaak: gaan ek uit en sluit ek die deur, dan doen ek iets wat herinner aan my interpretasie van die All Blacks se haka.

'n Minuut of twee-drie, vyf of ses later, wonder ek of ek die deur gesluit het, dan wonder ek dadelik nie meer nie – ek weet ek het, want ek onthou die haka.

Of die bollemakiesie.

Of die klap wat ek myself gegee het – deur die gesig, of op die sitvlak.

Dit moes 'n vreemde gesig gewees het, destyds: 'n seun wat op 'n Saterdagoggend die woonstel se deur sluit, die sleutel om sy nek hang en dan 'n Middeleeuse St Vitus-dans uitvoer.

Of afbuk en die deurmatjie soen.

Deesdae, maande nou al, is dit nie die kombuisdeur nie, dis 'n ander vergeet wat homself as gewoonte kom vestig het:  ek is soggens 'n huis van ons huis af, en dan wonder ek oor die motorhuisdeur – het ek hom toegemaak, ek kan nie doelbewus onthou dat ek die afstandbeheer gedruk, of die groot houtdeure voor my sien toeskuif het nie.

Daar is drie fietse, 'n sleepwa, die grassnyer, hout- en ander handwerkgereedskap. Die honde kan uitkom. Ramp op ramp op terugslag op verlies...

Maar dis maklik om te hanteer – ek skakel oor in trurat en kry gemoedsrus sodra ek die immer geslote motorhuisdeure voor my in die skemerdonker gewaar.

Ander kere tref die onsekerheid my eers halfpad stopstraat toe.

Dan maak ek 'n u-draai, kyk en ry verby – met 'n ander roete en hoek-om dat ek dan die dag begin.

Dit verbouereer die ander drawwers of pendelaars vroegoggend saam met my op straat, maar wat kan ek doen.

Nou, wintermaande, gebeur dit een of twee keer 'n week dat ek met my motorligte in nommer 25 se hoofslaapkamer inskyn as ek brieke aanslaan en 180 grade draai.

Ek het al gewonder hoekom vergeet ek om te kyk of ek die deur toemaak, maar ek onthou klokslag en uit gewoonte nou al, dat ek wel vergeet het om te kyk.

Miskien hou dit verband met die ewe elektroniese hek wat dreig om agter 'n mens in jou motor se kattebak toe te maak, as jy nie gou maak nie, wat my so op my agterent laat konsentreer, dat ek die koppenent nie registreer nie.

Aan die ander kant is dit straks suiwer oor my gedagtes elders is.

En dis die verdere geneukery met die u-draai-omdraai (soos vanoggend weer): draai ek eers by nommer 45 om, het ek, teen die tyd dat ek by ons huis, nommer 13, kom, lankal my gedagtes op 'n ander plek en golflengte – dan ry ek verby sonder om te kyk of die ellendige deur toe is.

Dan is dit een van twee dinge:  óf nog 'n drie-punt u-draai, óf dan maar om die blok ry.

Nege uit tien kere ry ek dan maar om die blok.

En as jy wonder of die ondenkbare al gebeur het, dit het – ek het een oggend drie keer (streng gesproke vier keer) verby ons gewese tuindiensman gery. Gewese, want ek het die vorige maand kennis gegee en hierdie was die eerste week wat hy hier stop en slegs die bure se tuin, en nie ons s'n ook nie, kant en wal takel.

Die eerste keer toe ek omdraai, toe dog hy eers ek wil hom iets sê, en hy staan so ewe my kant toe, maar ek ry verby hom, én verby my huis.

Wat hy gedink het, toe ek oomblikke later weer van onder in die straat opgery kom, weet ek nie – ek het so gekonsentreer om nie oogkontak te maak nie, dat ek so waar as wragtig weer vergeet het om te kyk hoe lyk die deur!

Op daardie punt had ek niks om te verloor nie, toe maak ek maar 'n tweede u-draai vir die oggend, glimlag vir die tuinman en maak seker die deur is toe.

Natuurlik was die deur toe.

Hoe dan anders.

En mog ek nooit daar kom en die deur is nie toe nie, want dan, so waar as wat padda manel dra, raak ek paranoïes.

1 comment:

Roosdoring said...

Ken van. het ook al omgedraai vir koue stoofplaat.
Roosdoring