Pages

17.7.11

Ouetehuisbesoek

Ons het gister met die onbekende agterpad tussen Potchefstroom en Klerksdorp gery. Ongelooflik dat ek in al hierdie jare nie bewus was van die bestaan van hierdie pad nie. Dit was grasgroen Bosveld, links en regs van die pad, en ook nie grasgroen nie, maar neongroen – die gras en stamme en takke en blare was alles verskillende skakerings van hierdie helder neongroen. 'n Opvallende helder neongroen soos mens net in storieboeke kry.
Ek was baie opgewonde oor die roete want die natuurskoon het my iets gegee om te skryf; ek het aan die kunsjuffrou en haar tweelingsussie, wat saam met ons in die motor was, genoem dat ek sommer gisteraand nog my gewaarwordings in 'n blog-inskrywing gaan verwoord.

Die pad wat ons gery het bring jou by Klerklsdorp-dam en die munisipale swembaddens uit. Ons het om die een of ander rede in en deur die swembad gestap en ek moes keer dat my trui nie nat word nie.

Uit by ontvangs, aan die linkerkant, het die damontspanningsoord se vervalle chalets gelê: murasies, ruïnes, 'n een elk, holoogskedels met die verbeelde vlerkgeklap van uile.

En toe word ek wakker. Want wat 'n lieflike droom was dit nie!

En nou skryf ek inderdaad, soos in my droom voorspel, van die mooi stuk pad wat ons gery het.

Omdat ek eerder oor my droom en dit wat in my onderbewussyn aangaan, skryf, as om te wil skryf oor dit wat ek gistermiddag met my bewussyn beleef het:

Ek kom midoggend by my ma aan, nie douvoordag soos die gebruik is nie want ek wil die apteek betaal.

Sy en vier ander tannies word soggens nie in hul kamers aangehou nie, maar sit gemaak in die sitkamer/eetkamer/woonkamer/voorkamer/lykshuis.

Ek sien oor 'n afstand my ma is nie lekker nie en my ore tel op hoe sy gefrustreerd en na aan trane hulp van die tannie links van haar smeek.

Eenkant by 'n tafel sit 5 oppassers/verpleegpersoneel/assistente en kuier, en gesels, en selfone gebruik. Maar ek vermoed hulle is, in elk geval vir die uur wat ek toe daar sit, op tee (of sloerstaking) want hulle verpleeg, assisteer op pas geensins op nie.

My ma is bly om my te sien, en val my dadelik lastig met dit waarmee sy die tannie langs haar konfronteer het.

Sy soek hulp met die tafels. Wat presies dit is, kan sy nie verwoord nie, haar frustrasievlak en ongeduld is ongelukkig reeds te hoog gejaag.

Maar gaan sit jy langs my ma en kyk na die toneel waarna sy dagin en daguit moet kyk, die tafel en opgestapelde plastiekstoele, en ken jy my ma soos haar kinders haar ken, sal jy dadelik weet wat pla: daar is drie tafeldoeke oor die tafel en die een wil skewer afhang as die ander, die tafel homself staan skeef, die plastiek tafelblommerangskikkinkie kort drie jaar lank al aandag en is nie gesentreer nie, én die plastiekstoele is opgestapel en nie by die tafel staangemaak nie.

Iemand anders sal dit nie raaksien nie, maar konfronteer nou 'n presiese mens soos my ma met so 'n tafereel, dan jeuk sy binne minute om dit reg te stel en uit te sorteer soos haar estetiese kop en oog dikteer.

Die gejeuk sit gou om in 'n gekrap, en twee, drie ure later (hoe lank sit sy nou al daar? sit sy elke dag daar) is sy een bol magtelose frustrasie. Magtelose frustrasie omdat sy nie meer oor die taal beskik om haar gevoelens te verwoord nie, en mateloos gefrustreerd omdat sy verlam is.

Sy is in 'n rolstoel oor hulle die gebruik had om haar 05:00 soggens daar sit te maak vir die dag, alleen. En met 'n mank been het sy toe vergeet van die mankte in die been en een oggend op probeer staan, geval en haar heup gebreek. Sy het gebulk soos 'n bees toe die oppassers/verpleegpersoneel/assistente by haar kom, maar dit was te laat – sy het nog nooit weer geloop nie, en sal nooit weer loop nie.

Ek sê ook nou sy was die oggend alleen in die sitkamer/eetkamer/woonkamer/voorkamer/lykshuis, maar dis maar wat hulle my vertel het – vir al wat ek weet was daar, soos vandag, ses mense saam met haar, eenkant, besig met 'n teetyd/gesels/kuier/telefoonoproepe/sloerstaak of wat ook al.

In die tyd wat ek by my ma sit, sukkel 'n ander tannie goed 40 minute om haar skoene aan te kry. Maar hulle reken seker dit hou die ou vrou besig want hulle laat haar so. Ek het dit vir haar aangetrek toe ek loop. Miskien het sy dit dadelik weer uitgetrek.

Hulle gaan my ma elke dag, tot en met haar dood (uitgesluit die dae wat sy siek of in die hospitaal is) op daardie selfde plek, in daardie selfde stoel sit maak. En bykans elke dag sal die tafel haar frustreer, sal sy die stoele wil instoot, die ruiker wil regruk en die tafeldoeke haaks probeer kry.

Ek sê bykans elke dag, want dis nie die eerste keer dat ek oordag by my ma aankom waar sy sit nie – dit het al gebeur dat ek daar kom, dan vertel sy hoe mooi die tafel is, dan staan die stoele soos soldate ingestoot.

Maar nege uit die tien kere wat ek daar kom, dan soek sy, soos gister weer, my hulp sodat sy die prentjie mooi kan afrond en -werk.

En tien uit die tien kere wat helder oordag daar aankom, dan sit die versorgers/oppassers/assisitente/verpleërs wat betaal word om daar te sit, daar.

Ek probeer my ma se aandag weglei en gaan haal 'n eetdingetjie uit die kas, waar ek dit toe- en weggesluit hou.

Ek tel 15 leë hangers in haar kas. Sy is presies 'n jaar in die kamer. Kom ons gestel die klere wat sy aan het, kom van 2 hangers af. Is die ander 13 hangers se klere alles in die was?

Toe ek my ma verlede jaar uit die vorige kamer, waar ek haar drie jaar vroeër ingetrek het, uitgetrek het, was dit net so opvallend hoeveel leë klerehangers daar was, iets in die 30, naby 40.

Dit klink na baie, maar my ma het haar eie rokkewinkel gehad, klere was haar lewe.

Wat word van die klere? Wat het geword van die klere?

Ek kan aangaan, uitbrei. Maar ek sal nie.

Net die vroeër  die week skryf ek in 'n bloginskrywing oor die vakansie, 'n gesels wat ek aangeknoop maar nooit voltooi of gepos het nie die volgende:

Ek het soggens vroeg gemerk, 'n uur of wat van 03:00 of 04:00 af, en dan oudergewoonte 06:00 se kant gery om 'n draai by die ouetehuis te gaan maak.

Dis belaglik, ek weet, maar waar die werk my ander kere daarvan weerhou om 10:00 besoek af te lê, weerhou die huis en die gesin en die lekker van 'n vakansie my nou daarvan om soggens of smiddags in te loer.

Die eintlike rede is dat dit bloot lekkerder vir ons altwee is om vroegoggend te kuier – sy is dan alleen in haar kamer en nie in die sitkamer tussen die ander oues van dae nie.

Ja, ek kan dat hulle haar bloot in die rolstoel te en met haar kamer toe gaan, maar is dit goed of lekker vir 'n oumensliggaam om so baie rondgedra en opgelig te word.

Soggens het ons ons eie ritueel:  gordyne, musiek, sjokolade, parfuumpie, prente ruil teen die muur, gesels, iets om te lees (deur te blaai) as ek groet.

Dis baie lekkerder as om ten aanskoue van die vloer se ooms en tannies te moet kuier, as om die verpleegpersoneel te kry om haar te lig.

So nie suiwer in eie en die gesin se belang dat ek vakansies steeds in die gewone voorskoolroetine bly nie, dis die goeie belang van ons twee se kuiertjie wat voorop staan.

En nou weet ek waarom ek die inskrywing nie voltooi het nie, waarom ek dit nie kon pos nie:  ek het gelieg.

Ek het vergeet, versuim om te sê, die eintlike rede hoekom ek dit verkies om soggens vroeg by die dierbare ou vrou te kuier, is die feit dat ek soggens nie konfronteer word met die klas van versorging en behandeling waaraan die verswakte oues van dae soms uitgelewer word nie.

Soggens om 06:30 kan ek daar uitstap en myself verbeel dit gaan goed met my ma, sy is gelukkig.

Stap ek soggens later of laat agtermiddag daar uit, dan is dit elke keer met kommer en frustrasie in my binneste.

Gelukkig vergeet sy gou. Vanmiddag het sy vanoggend se frustrasie en trane vergeet. Vanmiddag sorg vir sy eie trane en frustrasie. Wat sy vanaand gelukkig weer vergeet het.

Eintlik draai ek 'n rat voor my eie oë.

Maar ek verkies ons vroegoggend-kuiertjies.

No comments: