Wat die datum is, weet ek nie. Wanneer laas ek geblog het,
weet ek nog minder. (Ek klets my klets in die rekenaar se woordverwerkingsprogram
en laai dit in blitsbesoeke aan die kuberruim, so ek kan ook nie nóú
kyk om uit te vind wanneer laas ek iets gepos het nie – daarvoor moet ek eers die internet koppel.)
En presies wanneer laas ek geblog het, maak ook nie saak nie
– vir een wat homself aanvanklik voorgeneem het om sy brein van Maandag tot
Vrydag 'n tyd lank agter die sleutelbord in rat te hou, is en bly dit baie lank
terug.
Gereelde lesers sal weet dis nie in my aard om sommer net
stil te raak nie – ek praat partykeer twak, maar praat sal ek praat. Dis oor ek
eintlik my grysstof gimnasium toe neem om te help keer dat dit wat nie moet
roes nie, nie vasroes nie.
Vir my eie sieleheil skakel ek ook af agter die rekenaar –
daarom ook dat ek nie kyk of ek tyd krý om 'n gesels aan te knoop nie, ek máák
tyd.
So as daar die dag groot en langdurige droogte kom, is daar
altyd 'n goeie rede voor: vakansie, vraestelle, die skool se jaarblad.
Verlede week het gemerk. Saterdag was reünie. Hierdie week
was dit Klaradyn se kunswedstryd, Voortrekkers, Dramaklas, Kunsklas, Laerskole
koorfeeste, rapporte, en ek het net regtig tyd om te vat en te blog nie, al wil
ek hóé
graag en al versink goedjies wat ek wou aanteken om te onthou midde die druk
program vinnig in die vergetelheid.
Iemand wat ek nie ken nie, bel die vorige week en vra of ek 'n
stemopname vir 'n kleuterskool, wat ek ook nie ken nie, sal kom maak. En wat sê
ek? Ek sê
ja.
Maar die goeie wat jy vir ander doen, kom na jou toe terug. Ek
kry onverwags uit onverwagte oord 'n lieflike geskenk – ek moet onthou om mooi dankie te sê.
Maar dis twee dae later en nog geen kuiken het gepiep, wat nog te sê, 'n
haan gekraai, nie.
Dis egter seker alles goeterstes waarvan 'n sesjarige geen
benul het nie.
Vroeër die week noem sy dat sy Vrydag 'n brood moet skool toe
neem – dis sop-en-brood-dag in die klas, en hulle is hoeka besig met winter as tema. Daar is ook 'n briefie
in die verband.
Met Klaradyn weet 'n mens ook nooit nie – sy het ons al goed
laat aanry skool toe, iets soos sop én brood, en dan hoor ons later dit was
eintlik nét
'n boksie cup-a-soup gewees, vir die arbeiders; die kos het maar net te min vir
Klaradyn geklink, toe besluit sy om ons uit haar eie op te kommandeer vir brood
ook.
So die brood wat sy skool toe moet neem, interpreteer ek
apokrief en met 'n knippie sout – en selfs as dit so is, het ek steeds jare se
stof tot dankbaarheid – ek sou pa moes kon staan vir 'n pot sop!
En dit terwyl dit Vrydag die tweede belangrikste dag, die
tweede besigste dag, in Annieka se werksjaar, in 'n skool se bestaansjaar is.
En toe doen my kind dit aan my.
Na ek gister donker by die huis gekom het, agter die
rekenaar aan die slaap geval het en tot na 24:00 voorberei het aan 'n les wat
ek vandag vir die eerste maal in my onderwysloopbaan moes aanbied, is ek
agtermiddag 17:30 nog by die skool. Die selfoon se herinneringsnota wat my moet
aanspoor om na die kassie langs die bed te stap en 'n cholesterolpil te drink,
het in die klas afgegaan.
Oor ek nie selfoonopvangs in my klas het nie, kom ek eers in
die motor, op pad huis toe, agter Annieka het 'n hele paar keer geskakel sonder
dat ek daarvan bewus was.
Sy het selfs 'n boodskap gelos – iets wat sy sommer doen
nie. Dis egter ook maar net 'n baie bekommerde, bel my baie dringend wat in my oor opklink.
Ek is bekommerd dat dit verband hou met die rapporte. Ek
moes my klas se rapporte die vorige aand teken en van sinvolle boodskappies
voorsien. Maar toe sit ek vas met die skool se weeklikse nuusbrief wat uitgelê
en versorg moes word, toe met die nuwe les oor “kwellings, kwessies en ander
sake” (my eie allitererende vertaling vir issues
and causes) vir die graad8-dramaleerders. Tussendeur berei ek nog voor aan
hierdie tweede grootste datum op die skooljaar se besige kalender.
00:30 val my oë toe – ek besluit om vanoggend nié
by my ma te stop nie, maar 06:00 reguit deur te skiet skool toe en my skoolwerk
klaar te maak – nóg iets wat net met die grootste uitsondering in die middel
van die kwartaal, in die middel van die week gebeur.
Natuurlik vergeet ek heeltemal van die rapporte, hoor eers
weer vanoggend daarvan, en toe ek die toetsperiode instap om dit te doen, toe
is die rapporte nie waar nie... by die huis!
Wel, ek hoop die heel dag dis by die huis, want waar dit sal
wees as dit nie daar is nie, kan ek nie weet nie.
So toe die boodskap opklink – toe vertel ek myself dis oor
die rapporte – Annieka kry dit seker nergens nie.
Maar ek het die pot heeltemal mis gesit: Mamma laat weet,
Klaradyn het laat weet dat sy wat Klaradyn is, vir Juffrou laat weet het dat
ek, haar pappa, vir die klas 'n pot tamatiesop sal voorberei.
Vir 'n breukdeel van 'n sekonde wil ek iets oorkom, wil ek
omdraai en ry en ry en ry tot die motor sonder petrol gaan staan, en more oggend,
daar waar hy gaan staan het, kyk hoe die son opkom.
Maar toe ek die foon aflui, spoel daar 'n tevredenheid oor
my, 'n trotse tevredenheid oor my, 'n geluksaligheid en 'n dankbaarheid.
My kind het gesê:
“My pappa sal vir ons sop maak (julle ander kan ontspan)”
My kind kón gesê het: “Ag nee wat, julle – dit help nie ek vra my
ouers nie – hulle sál nie vir ons sop maak nie; nie net oor hulle nie wíl
nie, maar ook oor hulle te kak sleg is om dit te maak.”
Dan het ek haar mond met seep uitgespoel en met peper gegooi
– dat sy kan leer om nie so lelik te praat nie.
Maar natuurlik, en gelukkig, is dit nie wat sy gesê
het nie; sy het gesê: “Mý pappa sal vir ons
sop maak.”
Ek oorweeg Woolworths – maar Woolworths
is duur. Ons het Dinsdag Woolworths sop gekoop oor ek sop konsert toe moes vat,
maar ek met die rapporte doenig was, terwyl Annieka Klaradyn agter buitemuurs
aangery het – ons mekaar vir 10 minute gesien het en ek toe met Klaradyn
kunswedstrydkonsert is, en Annieka na 'n adjunkhoofverpligting van haar eie.
Ek oorweeg twee pakkies sop – dan maak
ek dit melk aan in plaas van met water, dalk proe dit lekker.
Maar dalk proe dit nie lekker nie. En
ek gee nie om wat die ander kinders en die juffrou van die sop dink nie, ek gee
om wat my kind van die sop gedink – sý het vertroue in haar pa gestel; hy mag
haar nie teleurstel nie.
Maar tamatiesop! Nou!
Ek besluit op hoender en sampioene.
Vir die eerste keer in die 10 jaar wat
ek daar koop, het ons kruidenier nie hoenderfilette of ontbeende ietsies nie.
Ek wil alles oornag in die prutpot gooi en daarvan vergeet – maar ek wil nie
more oggend met karkas en bene sukkel nie.
So toe improviseer ek:
Twee gaar hoenders (dan kan ons
hoendermayonaise-broodjies vir aandete eet)
Drie pakkies knopiesampioene
500 ml room
Regte egte Ina Paarman vloeibare hoenderekstrak
Drie pakkies knopiesampioene
500 ml room
Regte egte Ina Paarman vloeibare hoenderekstrak
Op 'n manier sal ek dit na iets kan
laat proe.
Klaradyn het fluks gehelp.
Vir drie minute.
En toe gaan bad.
Van oornag in die prutpot is daar met
die gare hoender ook nou nie meer sprake nie.
Daarom dat ek nou hier tik – ek het
die selfoon se afteltydhouer gestel vir 3 ure; ingeval ek aan die slaap raak.
Maar ek gee nie om nie, nou krý ek ten
minste tyd om te blog.
No comments:
Post a Comment