Ek wou, op aanbeveling van goeie vriende, iewers deur die
loop van die vakansie 'n draai by die Maropeng-Wieg-van-die-Mensdom–museums
maak.
Ek en Klaars het ge-Google en gekyk en met opwinding,
afwagting gebou.
Maar toe ek uitwerk dit gaan R500-00 wees, en dan het ons
nog nie daar gekom of nat of droog oor ons lippe gehad nie, was dit reeds te
laat in die vakansie – ons het klaar geld op ander lekker uitgegee, hierdie
lekker moet wag.
Dis jammer. Maar ook lekker, want nou het ons iets om na uit
te sien.
Vandag is toe nou die laaste dag van die vakansie. En ons
moet dit spesiaal maak.
Om 'n onderwyser-ouerpaar te wees, hou nadele in, maar hope
wonderlike voordele ook: om saam met jou kind, om saam met jou ouers vakansie
te kan hou, is seker die wonderlikste van almal.
Ek kan verstaan dat daar ouers is wat vakansies, dikwels
spottenderwys, dikwels nie, om wens – dis dalk werkende ouers met kinders wat
by die huis, oumas en oupas, sorgsentrums en somtyds sommer net op straat,
rondhang. Of straks is dit mammas wat nie werk nie, vakansies daarom nie
waardeer nie en reken die kinders se vakansies maak inbreuk op hul persoonlike
tyd en ruimte.
Ek en Annieka kan vakansies egter behoorlik na waarde ag en
is maar te dankbaar vir die heerlike Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd wat ons gegun
word.
So, ja, die laaste dag moet aangegryp word met iets spesiaal
wat gebeur.
09:30, toe die laaste slapende in die huis uiteindelik
ontwaak, toe weet ek: Klaradyn wou die Nagmaal-Sondag voor die skool gesluit
het, museum toe gaan. Vermoedelik die Transvaal-Museum wat jonk en oud deesdae
onder 'n ander naam inlig, opvoed en vermaak.
Ons het gesê dat dit sommer bog is, ons kan wag
tot die vakansie.
Sy het een of twee keer gevra, ek het verduidelik van die
duur toegangskaartjies (dis darem Maropeng én die grotte – twee-in-een) en
dit daar gelos.
Maar daar is mos meer as net een museum om te kan besoek.
Sy was al drie keer by die Transvaal-Museum. Sy sal dit weer
en weer en weer geniet, maar voor ons nie ons verwysingsraamwerk met die ander
museums uitgebrei het nie, sal 'n herbesoek maar moet wag.
Ek oorweeg die kunsmuseum – sy was baie klein toe ons laas
daar was. Sy het dit destyds baie geniet, ons het stories gemaak oor die
skilderye en beelde, die mense en dinge wat uitgebeeld word name gegee en in
die geheel gesien, 'n baie lekker tyd gehad.
Miskien as ons terug kom, want ons gaan vandag na die
Nasionale Kultuur Historiese Museum toe. Ek en Annieka was seker so 8 na 10
jaar gelede daar. My onthou is dat dit 'n museum met lieflike materiaal en
verwysingsveld is, maar dat die uitstallings destyds nie vreeslik stimulerend
was nie.
Straks sien dit vandag anders daar uit, die inhoud sal
Klaradyn darem boei – dit vat nie veel om haar brein in hoogste versnelling en
rat te kry nie. En as dit nie is wat ons hoop dit is nie, dan is besoek aan die
kunsmuseum nog altyd daar om die dag op 'n hoogtepunt af te sluit.
Maar ek was verniet bang – Klaradyn het met die intrapslag
begin oe en aa. Die antieke klei-artefakte, met die intrapslag, die rotsgravures
van die San, net daarna, en eintlik sommer alles is met 'n gesonde sin vir
verwondering ingedrink.
Ek weet van so drie of vier keer wat my ouers, later my ma,
met my, of met my en 'n maatjie, van Alberton deurgekom het Pretoria toe, en
dan was dit museumdag. Ander kere is ons weer Johannesburg toe! Te heerlik. Vakansies was dit met Durban en
Pietermaritzburg dieselfde.
Ek onthou egter nie 'n besoek aan die Kultuur-Historiese
museum nie. En tog is dit die museum met meer as 5 000 000 items
agter sy naam. Die mense praat van die Mummie-museum. As kind was ek egter
beslis nie daar nie. (Toe moes die museum nog in die rigting van die Dieretuin
of Marabastad gewees het, vandag is dit in die gebou van die ou tyronk wat toe
later die SA-Munt, voor dit uitgeskuif het Johannesburg se kant toe, geword
het.) Ek onthou ek en my ma en my beste maatjie, Riaan, het so laat as om en by
standerd 8 nog so 'n Pretoria-besoek meegemaak. Ek onthou ons het daardie dag
nie by alles uitgekom waar ons wou uitkom nie. Maar hoe sal ek nou weet waarop
ons uitgemis het.
Maar miskien, net miskien, was dit die Kultuur-Historiese
Museum.
Ek is van vermoede die mummie was 'n hoogtepunt.
Ons het knap voor die vakansie 'n lieflike
internet-leerervaring rondom mummies gehad. Kliek gerus hier om na die BBC se
spesifieke Geskiedenis-vir-Kinders-bladsy geneem te word. Toe neem ek die begin
van die vakansie 'n dokumentêr oor Antieke Egipte uit en daarin
word alles wat ons by die BBC geleer het, op 'n ander manier oorvertel en
tuisgebring – ons volg selfs 'n eietydse mummifisering op 'n afgestorwene wat
dit wat na sy dood oorgebly het vir navorsing rondom mummifisering geskenk het.
En toe, vandag, 'n regte egte mummie!
Ek onthou nog goed hoe opgewonde ek was toe ek my eerste
mummies gesien het – dit was as groot man in die Britse Museum in Londen, maar
nogtans.
Die huidige uitstallings is strate beter as wat ek van 10
jaar gelede onthou. Gemeet aan Europese museums is dit beslis nie
kindervriendelik nie, maar gemeet aan die gemiddelde museum uit my kinderdae is
dit van hoogstaande gehalte.
Daar is plek-plek tekens van agteruitgang, maar niks
vergeleke met dit wat by die ou Transvaal Museum besig is om te gebeur nie.
(Maar miskien het hulle begin opknap, ons was seker twee of drie jaar laas
daar.)
Op pad terug het Klaradyn nog kans gesien vir Paul Kruger se
huis, maar dit doen ons 'n volgende keer.
Na meer as twee ure tussen die kultuur-historiese items, het
ons by die kunsmuseum ook verby gery en eerder gestop vir iets by Harrie se
Pannekoeke.
Dit was 'n lekker dag.
Dit was 'n lekker vakansie.
NS: Hoe ek kan onthou van 'n dag in Pretoria meer as 30 jaar gelede? My vriend, wat ek my nog al die jare verbeel net so oud soos ek is, was 'n jaar voor my in die skool. En hierdie dag het my ma heeltyd op hom gereken vir aanwysings en raad en inligting. Sy het hom ge-Boetie voor en ge-Boetie agter. En ek was natuurlik jaloers. Ons het in 'n stadium verdwaal ook.
Riaan, onthou jy? En onthou jy die "Boetie"?
No comments:
Post a Comment