Gister het ek, danksy Annieka, my ander grootste
verleentheid, hierdie keer buite die onderwys, vrygespring.
Danksy Annieka, ja, maar ook te wyte aan. Ek wou nie in
daardie stadium 'n derde hond hê nie, twee of drie of vier jaar later,
ja, maar nie tóé nie.
En oor dit makliker is om Tafelberg manalleen op sy kop te
keer, as om manalleen 'n vrou wat reeds haar kop op 'n ding gesit het, daarvan
weg te keer, kry ons toe die hond.
So kry ons gisteraand, drie of vier jaar later, gaste. Hulle
is weg. Ons slaap. Lankal. Ek word daarvan nie wakker nie, maar van Annieka wat
langs my sê: “Daar stamp een iets van die rak af.”
Ek wonder nie watter hond dit is nie, ek wéét.
Annieka weet ook. Ons wonder in stilte
watter bord of skottel of bak of ding dit kan wees waarvan die skerwe nou agter
'n smaak of geur oor die vloer gelek word.
Die honde het toegang tot die kombuis van die huis en vandat
die jongste van die drie ouderdom bereik het waarop sy hoog en groot genoeg was
om die rak by te kom, het ons geleer om niks binne bereik van die teef te los
nie. Ek het die antieke kombuistafel uit Annieka se voorgeslag met 40 cm moes
verhoog, die kombuisstoele met kroegstoele moes vervang – hierdie hond klim op
die tafel en as daar niks te ase is nie, blý sy daar lê
om te slaap – sy glo vir vier jaar nou al dat sy iets sal oorkom as sy nie met
haar gat iewers in die lug slaap nie, of dit nou op 'n tafel, 'n stoel, 'n drom,
'n kruiwa of Klaradyn se klein plastiek kindertafeltjie buite by die agterdeur
is.
So een maal elke ses maande verslap ons natuurlik ons
waaksaamheid rondom die rak so 'n aks, maar word dan spoedig daaraan herinner: 'n
pond botter, 'n blok kaas, 'n pakkie koekies, 'n kardoes met biltong of droë wors... Die hond het 'n jaar
terug glads 'n boks rottegif opgevreet – en verdomp niks daarvan oorgekom nie.
Nou na hierdie hond wat die bord of bak of ding...
Nee, ek het nagelaat om te noem ons kan ook nie meer sommer
enige kombuisasblik hê nie. Daarin kan ons ook nie sommer meer enige iets gooi
nie. Die asblik kan ook nie meer op enige plek in die kombuis staan nie, nog
minder op enige manier gedraai wees. Of dié betrokke hand wat ek nie wou
gehad het nie, wat ek geweet het ons nie tóé, op daardie vroeë
stadium vir Klaradyn moes aanskaf nie, is gat oor kop in die asblik ook in. En
nie lank nie, of alles lê oor die kombuisvloer gestrooi.
En nou dat Klaradyn stadig maar seker groot en oud en selfstandig
genoeg word vir die wonder van 'n babahondjie van haar eie, is hier nie plek en
geld en ruimte vir 'n vierde op hond op hierdie erf van ons nie; mis sy uit op 'n
ervaring wat ek weet vir 'n kind soos haar ontsettend verrykend sou wees.
As ek kon het ek die hond dierebeskermingsvereniging toe
geneem en daar gelos. As mense nog soheentoe gaan om diere te kry, kry hierdie
hond dieselfde dag as sy daar aanland nog 'n nuwe eienaar. Sy is, so ver dit
patryshonde betref, een van die mooistes wat die natuur nog ooit opgelewer het.
Dis eintlik jammer 'n neem nie meer foto’s van mooi honde en sit dit op sjokoladebokse
en koekblikke nie, want dan het ons nog stinkryk geword uit die hond uit.
Annieka sou die onderwys bedank het en as die hond se agent en bemarker
opgetree het. Kort voor lank sou die span uitgebrei moes word, en ook ek sal
die onderwys moes verlaat.
Maar, helaas, hulle sit nie meer foto’s van honde op die
bokse en goeters nie. En nee, ek sal die hond nooit in my dag des lewens
dierbeskermingsvereniging toe neem, of van ontslae probeer raak nie. Die dag
wat jy 'n dier in die oë kyk en hom 'n naam gee, so het my pa my geleer, word
daardie dier joune en is hy jou verantwoordelikheid.
Nou na hierdie hond wat die bord of bak of ding heelnag oor
die vloer lek, kan ek ook nie heelnag luister nie; ek is op, af met die alarm
en af in die gang.
Dit is toe ook so en niemand anders nie. Gelukkig ook nie 'n
opskepskottel of groot opdienbord wat gebreek het nie, maar 'n gewone eetbord
wat aan skerwe lê.
Ek boender die hond by die hondedeur wat ek in die
kombuisdeur gemaak het uit, en sit 'n stoel voor die flap dat sy nie kan inkom
nie. Vannag slaap sy buite in die koue en mis uit op die sagtheid en warmte van
die beddegoed wat wintersaande saans in die kombuis op die honde wag.
(Ongelooflik hoe kleinlik en domonnosel 'n groot en slim, kwansuis “volwasse”
mens soos ek, nie kan wees nie!)
Ek oordryf as ek sê Annieka het my vier keer wakker
gemaak, sy het my drie keer wakker gemaak. Die eerste keer toe die aasdier
toegeslaan het, die tweede keer toe die aasdier van buite begin blaf het om in
te kom, en die derde keer toe die twee wat binne was aan die deur begin krap
het om buite te kom.
Iewers by ronde twee of drie impliseer sy ek moet opstaan en
die hondeflap weer oop flerts. Ek laat weet dat as ek weer uit die bed opstaan
dit slegs sal wees om 'n graaf of pik of vurk in die motorhuis te gaan sodat ek
die teef se kop vir kan paneelklop.
Nóg iets wat ek natuurlik nie in my het om te doen nie – ek
is daarvoor hopeloos te veel van 'n sissie. En selfs al wás
ek die tipe mens wat 'n hond se breins met 'n tuingraaf kon inslaan, sou ek dit
steeds gisteraand nie kon doen nie. Ek sou dit nie gisteraand kón
doen nie, want wás ek die tipe mens gebore in staat tot so iets, hét ek dit lankal,
drie jaar gelede al, gedoen!
Ek het nog iets nagelaat om te noem: sý is die een wat nie daarvan
hou om haar voete af te gee aan nat gras nie – as die gras natgereën is, los sy
haar bolle op die plaveisel in die binnehof. As dit die nag reën as sy nood
het, los sy haar bolle trouens vir ons ín die kombuis.
Gedagtig aan my twee honde wat nou in die kombuis opgesluit is, is
ek vanoggend vroeg op om hulle te ontset – hierdie twee sal beide eerder knyp
as om voor hul eie voordeur en in die kombuis te ontlas. En wat tref ek daar
aan – al drie honde, warm en knus in die beddegoed! Die merrieperd het
mooitjies deur loop van die nag die flap oop forseer, die stoel wat ek daarvoor
geplaas het, geskuif en ingekom.
Nou, by die grootste verleentheid buite die onderwys, trouens
enige verleentheid, het ek nog nie uitgekom nie. Ons verwag die naweek mense
vir ete – daardie gewraakte hond se ewe gewraakte bord moet vervang word. En
oor die een poedingbakkie ook al lank 'n kerfie weg het, sit ons af na die
verskaffer waar ons drie of vier jaar gelede die eetservies aangeskaf het.
Ek onthou dit soos gister, 'n nuwe eetservies aanskaf is nie iets
wat jy al om die anderdag doen nie. Ons het in daardie stadium nog onthaal met
die Liebermans stel waaruit ons gesin geëet het toe ek iets in die veertig jaar
gelede my verstand begin kry het. Natuurlik het daarvan uitgebreek, maar oor al
die jare heen, kon jy dit vervang – oor meer as veertig jaar heen.
Maar drie jaar gelede toe voel ek groot en volwasse genoeg dat dit
tyd geword het vir Annieka om haar eie stel aan te kan koop – Pappa speel
Kersfeesvader en sal betaal.
Dit was net mooi die tyd dat almal wit verskrik geraak het, en ons
raak toe ook wit verskrik.
My ewe wit verskrikte skoonsus wat in daardie stadium pas 'n stel
afgetrap het met wit borde wat sy nie kon aanvul toe sy wou nie, die verskaffer
voer die betrokke stel nie meer in nie, het ons op ons hoede en ons loop van
gerespekteerde leweransier tot gerespekteerde leweransier voor ons uiteindelik
by die gerespekteerdste van gerespekteerde leweransies vassteek om 'n besluit
te moet neem.
En ek sê weer dat ek dit soos gister onthou – ons moes op die
einde kies tussen die spitterwit of die afwit van 'n betrokke gerekende en
jarelange gevestigde fabrikant. En oor almal so spitterwit verskrik was daardie
tyd, kies ek en vroulief toe die spitterwit.
En toe ons gister daar instap, toe is dit afwit waarvan jy kyk,
maar van spitterwit is daar in die hele winkel geen sprake nie. Die eerste
assistent, voor ek haar vervreem en sy ons verlaat het, noem dat die betrokke
afwit maar die afwit is van die huidige besending van oorsee.
Die tweede assistent, wat ons ook verlaat het, wil my toe vertel
dat die betrokke fabrikant vir jare nou al slegs die betrokke afwit lewer, sy
weet trouens nie eers van die bestaan van die spitterwit nie.
Ek is lankal opgeklits, 'n verleentheid vir my vrou, die ganse
Afrikanerdom, wit ras en eintlik sommer die hele mensdom. Annieka bied aan om
buite met Klaradyn te wag. Nee, ek jok, Klaradyn vra haar ma om maar
kleiwerster buite met haar te gaan wag.
Maar daarvoor steek ek 'n stokkie – die derde assistent wat ek
rondjaag, het aangebied om die invoerders te gaan bel en ons sal nou weet wat
gaan vir wat.
Sy kom toe met die verdoemende nuus dat die stel net in die
betrokke afwit, en niks anders nie, beskikbaar is.
As ek 'n vrou was, en een met 'n skril stem, het die plek se
kristalglase aan skerwe gespat, maar gelukkig is ek 'n man, en die glase bly
heel.
Ons kies toe 'n wit bord van 'n ander fabriek, in die hoop dat dit
nie sal uitstaan soos 'n puisie op 'n vark se rug nie. Wat die poedingbakkie
betref, moes ons maar die afwit neem – daar is geen spitterwit poedingbakkie in
dieselfde of soortgelyke vorm nie.
Drie dames, naas nou die drie wat ek reeds vervreem het, by die
betaaltoonbank lyk vir my soos 'n bestuurder van die een of ander aard en ek
maak 'n punt daarvan om aan al drie te noem dat ek my wit stel gaan inbring
sodat hulle kan sien wat hulle drie jaar gelede aan my verkoop het onder die
voorwendsel dat my agterkleinkinders nog eendag borde van die betrokke stel sal
kan vervang.
Annieka paai in die kar, maar ek bly opgeklits en word met elke
kilometer nader aan die huis net nóg en meer en weer kwater vir die ellendige
hond wat nou alleen vir hierdie dilemma van ons verantwoordelik is.
Natuurlik pas die wit bord van 'n ander stel toe nie naastenby by
ons stel nie, die vorm is dieselfde, die grootte verskil.
Maar dis nog niks – die afwit poedingbakkie pas perfek!
En al onthou ek dit soos gister, onthou ek duidelik verkeerd!
Ek het verniet al my poppe uit die pram gegooi. Ons kon maar een
van die ander borde gekoop het.
Annieka gaan die middag weer in daardie betrokke rigting,
haarkapper en die een of ander skoonheids- en gesigsbehandeling. Sy trek vir
haar ander klere aan en sê dat die mense haar hopelik na haar algehele gedaanteverandering
nie sal herken nie.
Wat toe natuurlik nie die geval is nie. Toe sy haar voet by die
deur insit, kom vra twee van die drie dames agter die betaaltoonbank haar of sy
nou haar stel ingebring het vir hulle om te inspekteer.
My arme, arme vrou. Wat sy gemompel het, is ek nie seker nie, maar
sy het hier aangekom met 'n bord wat perfek pas.
Ek sal my eie gesig eers oor vier jaar weer in die winkel kan wys,
en ook slegs as ek my baard afgeskeer, my hare gekleur en 25 kilogram afgeskud,
óf aangesit, het.
Ek sou dit nie gemaak het nie, my vrou het my, my grootste
verleentheid buite die onderwys gespaar.
En die volgende moet ek seker nie kwyt raak nie, ek het genoeg gesê
om myself in 'n slegte lig te plaas by mense wat my en my tong-in-die-kies manier
van oorvertel nie ken nie. Maar laat ek dit maar doen.
Oor alles nou so gelukkig eindig, en ek so skuldig teenoor almal
voel, van my vrou, via die drie winkelassistente, die drie bestuurders,
dwarsdeur tot by al drie honde, wil ek dit toe nou opmaak. En omdat dit die
maklikste by die honde is, kies ek toe die honde om dit teenoor op te maak.
Ek sny vir elkeen drie herdersnye brood. En oor daar baie,
oorlopens toe baie, van die vleissous van gisteraand oorgebly het (hoeka die
vleis en sous wat die een hond so in die moeilikheid had) maak ek dit toe spesiaal
vir hulle louwarm en verdrink elke sny brood daarin.
Waarin ek dit vir die honde opgedien het?
Nee, moet liewers nie vra nie...
...maar ek het dit na die tyd, voor ek dit gewas en afgedroog het,
eers met kookwater uit die ketel skoon- en afgespoel.
No comments:
Post a Comment