Ek het bewus geword van hoe vinnig, so sonder dat jy dit
agterkom, die tyd verbygaan en jy groot word, die dag toe ek my eerste
belydenisklas in 1983 bygewoon het.
Ons het Sondagskool in die kerk gehad, daar was nie
klaskamers soos baie van deesdae se kerke het nie. Elke klas het twee rye banke
gehad met 'n bank of wat oop voor die volgende klassie sit. Van links voor, die
graad 1’s, tot agter en weer in die middel af tot voor, en dan weer van regs
voor tot regs agter waar die laaste standerd 8-klas gesit het.
Al die standerd 9’s was op die galery, agter by die orrel.
En die groot kinders, die heel groot kinders, die standerd
10’s, het elke Sondag, van my eerste Sondag in 1971, met die gang afgestap en
verdwyn waar die ouderlinge en diakens soggens uitgekom het.
Ek het geweet as jy die dag groot is, gaan jy deur daardie
deure, iewers heen – maar waarheen het ek nie geweet nie. Waarheen het ek vir
11 jaar nie geweet nie.
Vir 11 jaar kon ek nie wag om in die belydenisklas
(belydenis is iets wat jy doen as jy groot is) te kom nie – net om uiteindelik
my nuuskierigheid oor waarheen daardie grotes verdwyn, bevredig te kry nie.
Dit was 'n antiklimaks, al die jare later, toe ek die eerste
keer, uit-ein-de-lik, die geleentheid kry om by daardie deur, deur te beweeg –
ons is met 'n trap op na so 'n pakkamer toe en daar was stoele waar ons graad
12’s vergader het. Daar het bokse met goeters, seker Bybels en Psalm en
Gesangeboeke, rondgestaan, daar was nie juis vensters nie, en iewers was 'n trap
(amper soos die van 'n windpomp of rugbyveld se spreilig) op na wat ek vermoed
het die kerkklok moes gewees het.
Maar dit is 28 jaar later alles baie vaag en straks onthou
ek verkeerd, verbeel ek my goed.
Wat ek egter onthou of dit gister was, is hoe ek nie kon glo
dat ek so ongemerk, so sonder dat ek enigsins daarvan bewus was, so vinnig, so
groot geword het nie.
Dit het soos die vorige Sondag gevoel wat ek die eerste keer
in die kerk agtergebly het vir Sondagskool – daar was 'n algemene verwelkoming,
die klasse is ingedeel, name is uitgeroep, en toe het die heel groot kinders
met die gang af beweeg en deur daardie deur, waardeur ek nou net vroeër
(maar 11 jaar later) beweeg het, verdwyn.
Dit was wonderlik. Dit was net so vreeslik as wat dit
wonderlik was. Dit het my gegryp. Dit het my geruk.
En Dinsdagaand het ek weer iets daarvan beleef, en as ek nie
weer iets daarvan beleef het nie, het ek ten minste weer daaraan gedink – nie dat
ek aan grootword en tyd wat verbygaan en –vlieg dink, sonder om nie aan
kindertydse belewenis in die Sondagskool te dink nie.
Die ateljee waar Klaradyn, graad 1, dramaklas neem, het
ateljeekonsert gehou. Dit kom daarop neer dat elke groepklas die groepitem wat hulle vir die kunswedstryd
voorberei het, kom lewer. Elke kind kan dan ook 'n individuele wat hy of sy
gereed het, lewer.
Die driekwartier voor die konsert was hel – dit wat my gewoonlik 20
minute neem, neem toe in spitsverkeer 'n volle 45 minute en ons stap 'n volle
minuut voor die konsert ‘n aanvang neem, daar in.
Die skool het Annieka die aand van ons gesteel en dis net ek
en Klaradyn. Ek kan nie wag dat ons ons sit kan kry en ek vir ons die
piekniekmandjie met vars brood en sop kan uitkry nie. Ek het selfs snytjies
piesangbrood en warm vla in 'n fles vir nagereg.
Maar nee, ek had dit verkeerd, Klaradyn kondig aan dat sy en
al die kleintjies heel voor, met hul neuse letterlik op die kerksaal se
verhoog, moet gaan sit.
En dit is toe ook so – heel voor sit al die graad 0’e, 1’s
en 2’s.
Die konsert het 18:00 begin en ons is iets voor 21:00 daar
uit. Klaradyn se groepitem was so 2 minute, en ek weet nie of haar individuele
gediggie 1 minuut was nie, so ek het baie tyd gehad om kind van heel agter in
die saal (onthou ons was laat en het op nommer 199 daar ingestap gekom) dop te
hou.
En vir 'n Pappa is dit lekker, sommer baie lekker.
Soos wat die aand se program verloop, het die kunstenaars
natuurlik al hoe ouer, groter, vaardiger, beter, wonderliker geword.
Die algehele verwondering en vervoering van die graad 3’s se
item. het net aangegroei en aangegroei tot dit klimaks bereik het in item 50 op
die program – die senior klas se groepitem. Dis doodmoeg, maar laggend en met
groot oë,
dat sy na afloop van die konsert haar sitplek verlaat en na my gehardloop kom.
Ek het haar gedurende die groot kinders se item, nie net
sien lag nie, maar ook hoor lag, en die eerste wat sy my, met groot bewondering
vir die groot kinders, vertel, is hoe snaaks die een betrokke moment was.
Sy kon nie uitgepraat raak nie, soos 'n draaiorrel.
En ek weet sy voel oor daardie groepitem van die groot
kinders, soos ek gevoel het oor die groot kinders wat by die geheime deur
uitbeweeg het.
Ek wou hier teen 19:30 opstaan, Klaradyn kry, en huis toe
gaan.
Ek wou. Maar ek kon nie. Niemand wat sy dogter, en haar
genot van die aand, dopgehou het, sou dit regkry nie. En hoe later dit word,
hoe meer het sy dit net geniet, hoe groter het haar mond oopgesak, tot haar
onderkaak laterhand op haar knieë bly lê het.
Miskien is drama iets wat sy tot Graad 12 doen. Miskien is
sy volgende jaar weer by die konsert. Haar belewenis sal nie veel anders wees
nie.
En elke jaar sal sy wag vir die hoogtepunt – die groot
kinders se items.
En eendag, kort voor lank, sal sy self een van die groot
kinders wees wat die program vir die aand afsluit.
En miskien sal sy dan soos haar pa, op 'n ander manier aan
die hand van 'n ander uurglas besef het, stilstaan en besef dat die tyd gevlieg
het, en sy oornag groot geword het.
Wonderlik. Vreeslik. En verskriklik.
No comments:
Post a Comment