En as dit nie dit is nie, dan is dit die holrug geryde
gedagte dat 'n man nie daartoe gebore in staat is om twee dinge tegelyk te doen
nie.
Maar dit is beslis nie dit nie, ek kan met groot sukses die
televisie se afstandbeheer met die hand beman, terwyl ek heel behendig met die
ander hand die natterige, vetterige stukkies biltong uit die bruin kardoes opdiep.
Miskien is dit dan eerder 'n geval dat ek nie aan twee goed
op dieselfde tyd kan dink nie, veral nie as die een van nietige aard is, en die
ander een 'n oplossing op al Suid-Afrika se maatskaplike, politieke, en
ekonomiese probleme is nie.
Sien, ek sukkel om goedjies wat na 'n ruk tweede natuur is,
te onthou as my gedagtes op ander plekke is.
Dit was op skool al 'n probleem. Ek sal 60 sekondes weg van
die voordeur en af in die straat wees, op pad na pelle toe, dan kan ek om die
dood nie onthou of ek die deur gesluit het nie. Dan draai ek om en gaan maak
seker.
Ek praat onder korreksie, maar ek kan nie onthou dat ek ooit
een keer weer voor die voordeur te staan gekom het, en dat die deur wel nie
toegesluit was nie.
Vir 35 jaar nou al, sonder uitsondering, was die deur nog elke keer gesluit.
Maar ek is nie bereid om die risiko te loop om nie om te
draai en te gaan bevestig nie – netnou het ek berou.
Ek het sopas onthou ek het vergeet om vanoggend die yskas
wat ek afgeskakel het, weer aan te skakel.
Dié onthou tref my nou, toe ek terug dink aan hoeveel keer ek
nie al terug moes gaan om agter te kom dat ek toe wel nie vergeet het om die
stoof af te sit nie. Vir die langpad hou ek van warm melk in die koffiefles se boeretroos;
ek het al twee tolhekke verder, teruggedraai om vir 'n koue stoofplaat te staan
te kom.
Ons yskas, op sy beurt, het die hebbelikheid om te gaan
stilstaan, al is hy aangeskakel. Maar skakel jy hom vir 7 minute af, dan loop
hy klopdisselboom as jy hom weer aanskakel. Dit gebeur so 4 keer 'n jaar en
vanoggend het ek my verbeel hy is weer in een van sy katatoniese stilstande.
Toe skakel ek hom af.
5 minute later skakel ek hom toe weer aan; dit was laat
en ek was haastig.
Maar dit was 5 en nie 7 minute nie; die gevolg is ek moes
hom weer afskakel.
En toe vergeet ek om hom 2 minute later weer aan te skakel.
En onthou dit eers, oomblikke gelede, 9 uur en 45 minute
later.
Myle van die huis en die yskas af.
Dit terwyl al vanoggend se haas my net minder spoed gekos
het.
Op skool het ek dit vir myself maklik gemaak: gaan ek uit en
sluit ek die deur, dan doen ek iets wat herinner aan my interpretasie van die
All Blacks se haka.
'n Minuut of twee-drie, vyf of ses later, wonder ek of ek
die deur gesluit het, dan wonder ek dadelik nie meer nie – ek weet ek het, want
ek onthou die haka.
Of die bollemakiesie.
Of die klap wat ek myself gegee het – deur die gesig, of op
die sitvlak.
Dit moes 'n vreemde gesig gewees het, destyds: 'n seun wat
op 'n Saterdagoggend die woonstel se deur sluit, die sleutel om sy nek hang en
dan 'n Middeleeuse St Vitus-dans uitvoer.
Of afbuk en die deurmatjie soen.
Deesdae, maande nou al, is dit nie die kombuisdeur nie, dis 'n
ander vergeet wat homself as gewoonte kom vestig het: ek is soggens 'n huis van ons huis af, en dan
wonder ek oor die motorhuisdeur – het ek hom toegemaak, ek kan nie doelbewus
onthou dat ek die afstandbeheer gedruk, of die groot houtdeure voor my sien
toeskuif het nie.
Daar is drie fietse, 'n sleepwa, die grassnyer, hout- en
ander handwerkgereedskap. Die honde kan uitkom. Ramp op ramp op terugslag op
verlies...
Maar dis maklik om te hanteer – ek skakel oor in trurat en
kry gemoedsrus sodra ek die immer geslote motorhuisdeure voor my in die
skemerdonker gewaar.
Ander kere tref die onsekerheid my eers halfpad stopstraat
toe.
Dan maak ek 'n u-draai, kyk en ry verby – met 'n ander roete
en hoek-om dat ek dan die dag begin.
Dit verbouereer die ander drawwers of pendelaars vroegoggend
saam met my op straat, maar wat kan ek doen.
Nou, wintermaande, gebeur dit een of twee keer 'n week dat
ek met my motorligte in nommer 25 se hoofslaapkamer inskyn as ek brieke
aanslaan en 180 grade draai.
Ek het al gewonder hoekom vergeet ek om te kyk of ek die
deur toemaak, maar ek onthou klokslag en uit gewoonte nou al, dat ek wel
vergeet het om te kyk.
Miskien hou dit verband met die ewe elektroniese hek wat
dreig om agter 'n mens in jou motor se kattebak toe te maak, as jy nie gou maak
nie, wat my so op my agterent laat konsentreer, dat ek die koppenent nie
registreer nie.
Aan die ander kant is dit straks suiwer oor my gedagtes
elders is.
En dis die verdere geneukery met die u-draai-omdraai (soos
vanoggend weer): draai ek eers by nommer 45 om, het ek, teen die tyd dat ek by
ons huis, nommer 13, kom, lankal my gedagtes op 'n ander plek en golflengte –
dan ry ek verby sonder om te kyk of die ellendige deur toe is.
Dan is dit een van twee dinge: óf nog 'n drie-punt u-draai, óf
dan maar om die blok ry.
Nege uit tien kere ry ek dan maar om die blok.
En as jy wonder of die ondenkbare al gebeur het, dit het –
ek het een oggend drie keer (streng gesproke vier keer) verby ons gewese tuindiensman
gery. Gewese, want ek het die vorige maand kennis gegee en hierdie was die
eerste week wat hy hier stop en slegs die bure se tuin, en nie ons s'n ook nie,
kant en wal takel.
Die eerste keer toe ek omdraai, toe dog hy eers ek wil hom
iets sê,
en hy staan so ewe my kant toe, maar ek ry verby hom, én verby my huis.
Wat hy gedink het, toe ek oomblikke later weer van onder in
die straat opgery kom, weet ek nie – ek het so gekonsentreer om nie oogkontak
te maak nie, dat ek so waar as wragtig weer vergeet het om te kyk hoe lyk die
deur!
Op daardie punt had ek niks om te verloor nie, toe maak ek
maar 'n tweede u-draai vir die oggend, glimlag vir die tuinman en maak seker
die deur is toe.
Natuurlik was die deur toe.
Hoe dan anders.
En mog ek nooit daar kom en die deur is nie toe nie, want
dan, so waar as wat padda manel dra, raak ek paranoïes.
1 comment:
Ken van. het ook al omgedraai vir koue stoofplaat.
Roosdoring
Post a Comment