Pages

29.6.11

Nog bogtery



Vroeër die week is ek en Annieka en Klaradyn elkeen op ons knieë op die vloer in die buitekamer wat as die merrieperd se speelkamer ingerig word.

Ons het die woonstel vir agt jaar uitverhuur en dit het gehelp om talle gate toe te stop. Toe die laaste huurder einde verlede jaar na drie jaar uit is en die plek nie dadelik geneem word nie, het ons hom aan die mark onttrek.

Dit sou Klaradyn se speelkamer word, die speelkamer wat eers studeerkamer was, sal weer studeerkamer word en dit wat in daardie stadium deurgegaan het as studeerkamer (maar niks anders as 'n pakkamer was nie) sal dan die “hobby raum” word. (Dis 'n Duitse woord van my Duitse Juffrou vir 'n vrou – hou glo verband met stokperdjies – die kunsgoed word daar gepak, en die klei, en krale en mosaïekteëls.

Die buitekamer/tuinwoonstel het egter toe die pakkamer geword. April is ons see toe, so tóé het daar ook niks gebeur nie, die tweede kwartaal ook nie. Die Julie-vakansie word toe die vakansie waarin ons die bordjies gaan verhang.

En het ons dit nie verhang nie!

Die tuinier, wat wintermaande nie juis tuin het om te maak nie en allerhande los werkies in en om die huis doen, het toe misverstand rondom watter blik verf om te gebruik en ons stap een aand in op 'n sjokoladebruin speelkamer. Maar daar is nie tyd vir oordoen nie, die maatjies is al genooi en die vakansie het al begin. Buitendien moet die kind wat nie van sjokolade hou nie, nog gebore word, so waar wil jy nou kindervriendeliker as sjokolade kry!

Dit vat ons twee dae, twee volle dae, om die pakkamer semi-speelkamer te kry.

Maar was dit nou vir jou lekker – ek het vergeet ek en Annieka kan so lekker saamwerk aan 'n lawwe projek. En dis ook nou midde die opruim en opwas dat ons al drie op onse knieë die teëls  beginne skrop asof ons lewens daarvan afhang.

Ons het elkeen 'n skuurgrasserige staalwollerige iets in die hand en ons kry inderdaad  die teëls skoon. Elke huurder trek in en wil die plek na sy smaak uitverf – ons laat dit toe, maar nou sit ons met 'n stuk of ses kleurskakerings se spatsels op die vloere en spatlyste. Dis skraap en skrop en warm water en mop, vir 'n vale. En 'n lekkerte vir 'n soortgelyke vale. Natuurlik taan die kleinding se entoesiasme eerste, toe haar Pa, wat nie op hom laat wag nie en kies voor watter groepsdruk hy wil swig, s'n. Hy spoor haar 'n rukkie later op die punt om te begin grens in haar kamer op: haar sweetpakbroek, die pajamabroek onder die sweetpakbroek én  broek-vest (dis nou soos sy dit noem maar lang-onderbroek in haar pa se woordeskat) is nat, die drie, miskien was dit vier, stelle lang goed aan haar bolyf is by die polse rond waternat en speelkamer agtermekaar kry is nou glad nie meer lekker vir 'n sesjarige dogtertjie nie.

Ons trek vir haar uit en begin van vooraf aan met droë klere – sy kom sit by ons op die outydse skooltafeltjie, waar hulle eersdaags in die speelkamer gaan skool-skool speel, en speel met die een of ander ding terwyl ek en Mamma klaar maak wat ons begin het.

Later die aand, Annieka se rug is seer op plekke waar sy nie geweet het 'n rug kan seer wees nie, sit ons om die kombuistafel en drink 'n wyntjie. Annieka laat val dat sy ons vroeër die dag op ons knieë in die speelkamer so gekyk het, en nie anders kon as om te dink dat nie een van die rykgatte (Klaradyn praat van ryk-gaaate) en hul mans ooit as te nimmerste ooit so saam met hul kinders op hul knieë sal gaan om 'n vloer te skrop wat in geen jare so deeglik geskrop is soos die oggend nie.

En hoewel dit miskien ryk-gaaat genoeg is dat die Mamma nie meer hoef te werk nie en sy al haar tyd in die malls kan spandeer terwyl die twee kleintjies in goeie hande is tot die au pair hulle gaan optel, en hoewel die posseël vir 'n erfie in die Pretoria-estate verruil is vir iets groters op 'n kleiner erfie nader aan Pappa se werk en die lughawe, sê ek vir Annieka:  “Ja, my vrou, jy is reg, hulle sal beslis nie, die rykdom om dit te kan geniet, het hulle nie, hulle is daarvoor te arm. Is ons nie gelukkig nie!”

En so is die speelkamer toe vandag ingewei met 'n skoolmaatjie van kleuterskooldae wat kom speel het.

Die kamera se battery was pap, so ek kon nie glanstydskrif-foto’s neem voor die tornado daardeur getrek het nie – en teen die tyd dat die battery gelaai is, toe is dit ook meer as net 'n tornado wat verbygegaan het, 'n orkaan uit die weste en 'n tsunami uit die ooste.

Die mure kort nog aandag. Aandag, soos in goed om teen die kindervriendelike bruin te hang, maar dit sal kom.





No comments: