Daar is seker ‘n woord daarvoor, maar wat dit is, sal ek nie weet nie. Straks selfs ‘n sindroom in die sielkunde wat daarna vernoem word. En wat dit ook al is, ék trap klokslag pens en pootjies daarin, op so ‘n manier dat die see my nie kan skoon was nie. Soos nou weer met die padtekenpraatjie.
Annieka laat val iewers verlede week dat Klaradyn die Vrydag wat nou kom oor ‘n padteken wat sy self kies, moet gesels. En Klaradyn vul die gesprek aan met die inligting dat sy die padteken moet skool toe neem ook – op ‘n stok.
En wat doen ek? Ek sluk my koffie want daar lê nog ‘n volle Vrydag tussen tóé, en die Vrydag wat Annieka genoem het.
Maar kyk net wat doen Tyd met ons – die Vrydag wat destyds so ver geklink het, lê nou om die draai, sommer al more as ek my dit nie mis het nie.
En in al hierdie tyd het net een ding gebeur – Klaradyn se stok het al hoe groter en dikker geword, so groot en dik dat ons nou al selfs ‘n besemstok verby gesteek het, en haastig op pad is na ‘n piksteel toe.
Ook dan seker haar eie skuld dat ek haar woord hier teen Dinsdag wat verby in twyfel begin trek.
Sy kom toe mos ‘n ruk gelede by die huis aan met die storie dat sy ‘n praatjie moet uitwerk oor die man wat die mense met sy perd by die sinkende skip gaan haal het, en toe self omgekom het – wat is sy naam nou weer... Wolraad Woltemade.
Ek is vreeslik opgetrek met die Juffrou wat so oulik is dat sy nog die wit man se geskiedenis met die kindertjies ook doen, en ek besef net weer eens, vir die hoeveelste keer, dat ons Klaradyn in die regte skool gesit het.
Die praatjie is blykbaar met die oog op uitdunne vir volgende jaar se redenaars, en nee, daar is nie ander kinders wat oor Wolraad Woltemade praat nie, dis net Klaradyn; daar is nog ander kinders ook, maar hulle praat oor ander onderwerpe.
Maar ek luister net met ‘n halwe oor, my gedagtes is by watter boek die stukkie geskiedenis is wat ek en Klaradyn nie twee maande vantevore nie, so lekker gelê en lees het. My gedagtes spring na die nuwe kinderboek wat ek onlangs op die winkelrakke gesien het, wat ek dood seker is ook die storie van Wolraad Woltemade in het. Ek is trouens klaar op my knieë met my neus in die rugkante van die boeke, op soek na die boek waarin ons dan nou die man ontmoet het.
Om ‘n lang storie kort te maak, Wolraad Woltemade was ‘n wolhaarstorie wat sagkens ‘n stille stood gesterf het, en net so skielik dood is, as wat hy gebore is.
Ek bel toe maar die Juffrou oordat ons niks meer uit Klaradyn kan kry nie as net dat sy oor Wolraad Woltemade moet praat nie.
Maar Juffrou weet van niks – Wolraad Woltemade se naam het nie eers in die klas ter sprake gekom nie. (Ja, ek moes dit seker kon geraai het – ek sal maar voortgaan en die artikels oor Sisulu solank eenkant sit vir anderjaar.)
Dit kan wees dat Klaradyn gedroom het. Of dit kan wees dat sy bloot lus was vir ‘n praatjie en gedink het dis tyd dat ons weer een uitwerk, en waar wil jy nou ‘n beter onderwerp kry as Wolraad Woltemade.
Eers ‘n paar dae nadat ek met die Juffrou gesels het, onthou ek dat ons seker so twee weke sedert Wolraad se spook uit die branders opgestaan het, vir die eerste keer in Klaradyn se leeftyd, deur my posseëlversameling van ouds gegaan het. En in hierdie versameling het ons lank gesels rondom ‘n reeks seëls uit die vroeë jare sewentig met onder andere ‘n uitbeelding van Wolraad Woltemade op.
Hierdie seël het seker dinge in haar onderbewussyn oopgekrap wat toe via ‘n droom of ‘n verbeel opgeëindig het in praatjie wat sy en haar pappa moet uitwerk rondom die dapper man en sy perd.
So toe Klaradyn se padteken oor die loop van die naweek en hier teen Maandag al hoe groter word, toe hoor ek perdepote klop op die strand, ek ruik ‘n wolhaar Woltemade-storie.
En hoe meer ek my ‘n klas voorstel met enige iets tussen 25 en 30 woelige graad eentjies in wat elkeen met ‘n besemstok of piksteel in die klas rondloop, hoe meer hoop ek dat ek daarvan behoed sal word, en begin ek dit bevraagteken of enige regdenkende Juffrou so ‘n opdrag en uitnodiging tot algehele chaos sal gee.
Bel en vra, gaan ek waaragtig nie weer nie – nie na Wolraad Woltemade se verleentheid rondom ‘n telefoonoproep nie. Dinsdag is ek vroeg om haar op te tel, ek sien die Juffrou se klaskamervensters is nog oop en ek stop, ek stap in.
Nee, hierdie keer is die storie is waar – die juffrou wys my trouens die stokke wat al ingekom het – formidabele goed, ‘n een en ‘n elk, en ek weet waar Klaradyn aan haar stokke en stele, lugkastele en kartonne van gigantiese proporsies kom.
Juffrou groet vriendelik met ‘n gawe “nou maar lekker padteken bou.”
En dis toe net daar waar ek toe die fout maak en my voet neersit en besluit dat daar nie ‘n manier is dat ek ‘n padteken gaan maak nie, óns sal, Pappa én Klaradyn – sommer Pappa en Mamma en Klaars, die hele lot van ons, maar die belangrikste is dat Klaradyn moet kan sê dat sy dit gemaak het.
Ek het hoeka die ander in die klas so gekyk en besef dat die lyne net té reguit, die plak en knip net té netjies, die verfwerk net té egalig, en die tekenwerk net té presies vir enige graad eentjie se handjie is. Trouens ek wonder of enige graad eentjie naby enige een van die voltooide take toegelaat is.
Nou kyk, as ek ‘n paar jaar jonger was, het ek om middernag ‘n padteken van die paal gaan steel sodat my kind goed kan voel oor haar teken, kon ek dit bekostig het ek na die kennisgewingbord-plek skaars vyf kilometer van ons huis af gegaan en uit perspex ‘n presiese lewensgetroue replika van ‘n padteken laat maak en betaal. So ek verwyt geen pa en ma wat hul kinders se padtekens gemaak het en nie toegelaat het dat hul kinders naby dit kom nie – ek verstaan.
Dis net dat ek nie wil weet waar ek in standerd 5 en 6 gaan draai as ek nou al in graad 1, met iets so maklik soos ‘n padteken, met my volle gewig inspring nie.
Ek besluit summier dat my kind die een sal wees wat deur haar hele laerskoolloopbaan haar eie take sal maak – selfs al beteken dit dat sy minder punte kry as wat ek en Mamma vir die take kon gekry het.
Ek (want die kind kan dit tog nie, nog nie, self doen nie) het die naweek al de laaste een van die 896 padtekens wat in Suid-Afrika gebruik word ge-google én afgelaai. Ek het al praatjies, rubrieke, radio-, program-, en TV-reekse in my kop uitgewerk wat Klaradyn oor een en elk kan aanbied, maar sy skop (gelukkig) vas en hou by dit waarmee sy dag een by die huis aangekom het – die padteken by die ouetehuis waarby ons elke dag met óf die motor, óf die fiets, verby ry: ‘n rooi omsoomde driehoek wat die motoriste waarsku van voetoorgang by ‘n komende zebra-kruising.
Ek por in allerhande rigtings, maar verniet, Sussie het haar kop op die zebra-strepe gesit en basta met die res.
Ek stel uit, vir ingeval, maar haar nee bly haar nee en ek kan enige ander teken maar op my maag skryf en maan toe blaas, my kind gaan die Rubicon van haar praatjie by ‘n zebra-streep oorsteek.
Gelukkig het ek ‘n student in die klas, anders moes ek my lewe op ‘n tafel waag: ons plak toe ‘n plakkaat wat al maande in die ingangsportaal is agterstevoor op die bord vas en ek projekteer die padteken wat ek ge-google het, daarop; die student teken af.
Toe ek Klaradyn die middag optel wys ek haar dadelik die prent in die kattebak en sy loop summier oor van opwinding, sy kan njie wag dat ons na dramaklasse by die huis kom om die ding te kan verf nie.
Ek sien uit na heerlike Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd rondom die eetkamertafel – dis die regte manier van doen, die manier waarop daar in tydskrifte van vertel word, die prysenswaardige opvoedkundig korrekte benadering.
Nee, vee dit maar van die tafel af en by die agterdeur uit. Dat ons daardie aand nog om dieselfde tafel aandete geniet het, is suiwer genade van bo.
En die grootmense is verkeerd gewees, die kind reg.
Want Klaradyn wil met volle gewig en lyf en oorgawe inspring en inkleur en verf, en ek en Mamma keer net, want netnou gaan sy oor ‘n lyn, netnou drup sy op die wit, netnou maak sy verkeerd.
Kan grootmense sulke volslae pyne wees!
Ek oordryf natuurlik, soos altyd, maar dit was opvallend dat Klaradyn so veel as moontlik wou doen, soos dit hoort; en dat haar ouers ook so veel as moontlik wou doen, soos dit seker ook maar orals is.
Na 5 minute het ek teruggestaan en besef ek het my lekker gehad met die google en afteken in die klas.
Ma het toe ook uitgetree en aangebied haar aandeel sal wees om die lamineerwerk te doen.
En Klaradyn het heerlik geverf en ingekleur, tot amper etenstyd toe.
Tussendeur was daar die tweede krisis – die praatjie! Hierdie gaan immers nie oor die padteken nie, maar die geséls róndom die padteken.
En of sy nou ‘n toespraak moet hê en ken en uit haar kop uit opsê, en of sy net ‘n minuut lank moet kan gesels oor haar onderwerp, weet ons nie, en sal ons eers weet as dit te laat is om enigsins iets daaraan te doen as ons interpretasie verkeerd was.
Al wat ek weet is dat my kind die aanloop geniet het, elke oomblik. Ek weet ook sy ken na dese die verskil tussen ‘n waarskuwings- en inligtingsteken.
En dit is seker nie genoeg nie. Maar vir my is dit.
No comments:
Post a Comment