Pages

10.6.11

Dis heerlike winter...


Dis heerlike winter...

...die herfs is verby, weer nodig die kombuis vir jou en vir my.

Ja, dis met 'n hola-drioa, hola-drio in die hart dat ek die dae aanpak. Kosmaak is nooit so lekker soos in die winter nie, en dit sal my nie verbaas as navorsing eersdaags bevind dat kos in die winter ook sommer 'n hele paar strate vorentoe proe nie.

‘n Vriendin by die werk vra gister na ‘n beesstertsop-resep, en ek weet daar is iewers op die rekenaar een – ek het sewe jaar gelede baie goeie vriende oorgehad vir sop en moes die volgende dag ‘n spul lekker wintersoppe se resepte vir hulle per e-pos aanstuur.

Die beesstert-een sou beslis een van hulle gewees het.

Ek het die resep straks voorheen geblog, ook, so ek moet net in die rekenaar se binnewerkinge gaan rondkrap en soek na sop en os- of beesstert

Ek spoor hom toe ook op onder die opskrif soos hier onder:

Beesstersop van Hans en Annieka se daknatmaak.

Ook al agt jaar gelede. Ons het 1 Julie ingetrek en dit maak sin dat ons gesellig rondom borde vol sop die eerste groot kuier sou geniet het.

Maar maak ek beesstertsop, dink ek nie aan die huis se daknatmaak nie; ek dink aan einste pal vir wie ek die resepte aangestuur het.

Jare gelede, toe Duiwelskloof nog Duiwelskloof was, ek dink nie eers sy oudste dogter wat nou al in matriek is, was al gebore nie, ry ons teen so ‘n bult af Duiwelskloof se kant en na sy heimat toe. Terwyl ons so verby nedersettings, statte, gehuggies, bokke, beeste en oorbeweide vee- landbougrond ry vertel, vertel hy van die beessterte wat so goedkoop is in daai omgewing - omdat die Modjadji en haar mense nie sommer beesstert eet nie. Die hele geweste daar het trouens ampers 'n oorskot beessterte en dis relatief goedkoop bekombaar.

Ek kry dan ook sinies giggel as ek dink aan die twee kere wat ek al raakgelees het van hoeke inexpensive kos van beessert gemaak word. Want ek weet wat ek vir die beessterte waarmee ek op die oomblik werk, betaal het.

Ons betaal deur onse nekke vir lekker beesstert!

Ek maak nie gereeld beesstertsop nie – daar is vir my min geregte so lekker soos beesstert en as ek die dag beesstert het, dan berei ek dit as vleiskos vir ‘n hoofmaaltyd.

Maar partykeer gaan ek oorboord, of kry ek ‘n boks sterte te koop, dan maak ek graag hierdie resep.

Benodigdhede

1 — 2 kg beesstert – dis so twee of drie heel sterte (gewas en in water geweek). Natuurlik altyd eerder 2 kg of 3 sterte, as dit van my afhang.

so 750 g (gerookte of vars) varkskenkel

Die beste slaghuis hier by ons is die Duitse slaghuis ‘n hele ent van ons af, maar beslis die moeite werd om so ver agter hulle sterte aan te ry – geen vet nie, en net groot stukke/litte, met dan die baie vleis. Bloody duur, maar kosteffektief. En oor ek daar is, hulle Duits is en weet van, vra ek dan dat hulle sommer vir my ‘n eisbein in twee of drie stukke saag vir die vark.

4 liter water

sout

2 — 4 uie

1 bouquet garni (Woolies verkoop deesdae oulikes, maar dis eintlik maar net ‘n bossie verskillende kruie in ‘n neteldoek of moeselien toegedraai.)

1 kop seldery – ek hou nie van seldery nie en verminder dit in enige resep met meer as die helfte, maar hier kan jy maar met vrymoedigheid die hele kop gebruik.

2 vet rape (turnips vir die winkelier)

4 wortels

6 — 8 kruienaeltjies

½ t peperkorrels

rooipeper

meel om te verdik

As daar ‘n prei in die yskas is, toevallig ook ‘n tamatie of wat, wat na die naweek sal moet komposhoop toe, dan kan jy dit met vrymoedigheid ook in die gereedheidshouding plaas.

Metode


vleis en water in pot (jy kan die vleis eers lekker bruin braai ook voor jy dit kook — dit veroorsaak ‘n kleurverskil en ook ‘n geurverskil, maar los maar die braai as die tyd min is)

skep die skuim af wat opkom (dit hou nie te lank aan nie en ‘n teesif werk lekker)

sodra daar nie meer skuim opkom nie, gooi jy al die ander bestanddele behalwe die rooipeper in (jy kan die uie, rape en wortels ook eers lekker bruin braai, maar soos met die bruingebraaide sterte dateer dit uit die dae van koolstowe met 3 kombuis-, 3 opwas-, 1 kinder- en 4 huis-vrouens en dergelike -bediendes… maar braai maar geduldig, jy sal nie spyt wees nie en jou ook nie net verbeel dit proe anders nie – dit doen!)

kook tot sag (3 — 5 ure, maar die stoompot werk amper net so goed as jy klaar die skuim afgeskep het)

En as jy tyd het, val weg in die slow-cooker of prutpot en gaan slaap tot more oggend.

as dit sag is, uit met die vleis en bene

as daar baie vet bo dryf, moet jy nou weg daarmee (omdat ek by die Duitsers koop, het ek nog nooit hiermee gesukkel nie, maar jy moet maar afskep, selfs afkoel as dit moet en dan ontslae raak van dit wat stol – ek het een keer, net om te kyk of dit regtig werk, met ysblokkies in ‘n vadoek die vet gestol en afgekry)

aftreksel dan deur ‘n vergiettes om van die groente en goed ontslae te raak (ek het die groente en goed al bygegooi, maar dis nie lekker nie, ek het dit al verpulp en bygeroer, maar dis ook nie lekker nie, gooi dit weg, dis nie vermors nie, dit het dit se doel gedien – dit het jou kos heerlik gegeur)

ontbeende vleis terug by aftreksel (jy kan vir fancy-geit ‘n paar klein beentjies met die vleis nog aan in die sop hou)

verdik met meel en geur met sout en rooipeper

speel met speserye en selfs wyn as jy wil, sjerrie, port...

Ek dink nie dit sit enige Afrikaner se broek of hart om die vleis nie terug te gooi nie. Maar daar is resepte wat heeltemal wegdoen met die vleis as jy dit eers 100% van die bene afgekook het. Die aftreksel, wat nou ‘n lieflike dik jellie word as dit afkoel, kan met wyn en kruie na smaak gegeur word en dan bedien word.

Maar ek het dit nie in my nie. Jammer.

Saam met hierdie beesstertsop het ek en Annieka ook Esti se Duitse Frankfurtersop voorgesit toe ons dak natgemaak het. Dis nie ‘n resep wat tot ‘n mens spreek as jy hom lees nie, maar boetie! maak hom nou, en proe hom op die tong, dan praat ons weer.

Hierdie resep het ek seker vir 10 jaar gemaak vanaf ‘n troukaartjie waarop die datum van dioe huweliksbevestiging as 13 April 1996 aangegee word. Ek het die resep sedert ’91 gehad, maar toe verloor. Vriendin Esti is toe Kaap toe en dit was ‘n gesukkel om haar nommer in die hande te kry, maar ek het, en ook die resep.

Toe ek een van Nataniƫl se Kaalkop-kookboeke met die plek vir jou eie resepte kry, het ek hom darem oorgedra. Maar ook nie oorgedra nie, terwille van die outentieke het ek die troukaartjie net so ingeplak.

Duitse worssop
(van Esti agterop Deon Loretan se troukaartjie van 13 April 1996)


Benodigdhede


Aanvanklik

60 g botter

1 gekapte ui

1 teelepel kerriepoeier

sout en peper

60 g koekmeel

Bietjie later


1 liter hoenderaftreksel

4 ertappels in blokkies gesny

Nog later


1 kg gemengde groente (vars is heerlik maar ‘n bevrore pak werk net so goed — vat net die country style i.p.v. die blokkies, dan lyk dit minstens outentiek)

1 bouquet garni (of mixed herbs en pietersielie as jy nie Woolies se fancy bouquet garni’s het nie)

Op die ou einde


500 g frankfurters (ek koop by die Duitse -slaghuis —  500 g verskillende worsies as ek wil uithang)

100 ml room (en as ek nie nog room elders gebruik nie, gooi ek sommer die hele kannetjie in)

25 ml sjerrie (na gedagte werk net so goed)

Metode


Aanvanklik


smelt die 60 g botter

meng die ui, kerriepoeier, sout, peper en koekmeel by

kook/braai/roer vir so 2 minute

Bietjie later


gooi die hoenderaftreksel en ertappelblokkies by

kook vir vyf minute (na gelang van die grootte van jou ertappelblokkies)

Nog later


in met die gemengde groente en bouquet garni

kook tot sag

Op die ou einde


uit met bouquet garni

in met gesnyde frankfurters en room

in met sjerrie as frankfurters deurwarm is

Gooi nog vloeistof/aftreksel by as dit te dik lyk. Partrykeer gooi ek by, ander kere nie.

Ja-nee-wat, ek is sommer opnuut bly die koue is uiteindelik met ons – selfs net by die deurlees van hierdie resepte en die lekker herinneringe wat dit oproep.


No comments: