Toe ek nog op skool was, en dit was in wat bekend staan as die oertyd, kon jy dit gevries koop en in die oond prop; so ek laat my nie vertel Woolworths sal nie in een-en-twintigste-eeu iets soortgelyk hê nie.
Jy kan, as jy dit dan nou self wil maak, sommer twee gaar
hoenders by Woolies koop, 'n pakkie of blikkie hoenderroomsop daarby, straks
iets met sampioene ook, en die klaar bereide skilferkorsdeeg. En dan kan jy sê
jy het self jou eie hoenderpastei gemaak.
Of, as jy van kosmaak hou, kan jy dit op my manier doen.
Daarvoor moet jy ongelukkig 'n plaashoender in die hande
kry. Ek is Saterdag op die koudste naweek tot op datum hierdie winter 06:30
Boeremark toe – dit terwyl Annieka en Klaradyn nog inlê en al wat ek uit een van
hulle kry, is: “Bring vir ons elkeen
melkkos saam.” En of dit my nou moes oortuig om wel die melkkos te bring,
bygevoeg ook: “Ek is lief vir jou!”
Maar ek het die melkkos gebring – nog warm – omdat ek eers
my eie aankopies in die motor gaan plaas het en toe die girls se ontbyt gaan aanskaf het.
Ek het my twee hoenders gekry, twee plaashoenders wat my
teen R22-00/kg net onder die R150-00 gekos het – so jy kan jou vir jouself
uitwerk hoe groot hierdie hoenders is.
Saam met die hoenders het ek ongelukkig ook 4 kg wildsvleis,
die vark en spek om daarby in te werk en nog 'n een en ander om gaar te maak
ook gekry. Maar dis vakansie, dis winter, en 'n vriend laat weet hoeka gister
per SMS:
Winterkos is hartkos.
Dis sielkos. Warm geure: kaneel, naeltjies,
komyn en kardemom. Ek smul aan melkkos. My ouma Stien se resep met regte
bottersnysels.
Op my hart het die winter hoenderpastei kom lê.
(En beesstert. En eend. En wildspastei... en ek hoop die vakansie is lank
genoeg, my beursie dik genoeg.)
Ek het seker so 3,5 liter aftreksel berei vir die kiep om
sagkens in sag te word. 'n Bottel droë witwyn waarvan ons vroeër die week
net 'n kelkie uit gehad het. Toe Annieka my vra wat sy vir my van die winkel
kan bring, toe vra ek vir wyn. Sy kom toe gelukkig/ongelukkig met 'n soeter wyn
hier aan – toe drink ons dit maar aan tafel op. Naas die droë witwyn ook water.
Hierin het ek opgekook en laat prut ook twee vet wortels, twee vet uie, twee
vet huisies knoffel, twee stingels seldery wat in die yskas was, die laaste
lourierblare (seker 6 of 8 kleineriges), 'n hele paar (8 of 10) peperkorrels,
dieselfde hele paar korrels wonderpeper/all
spice en selfs 'n paar meer as 'n hele paar naeltjies.
Ek sit nie 'n hoender in die pot of in die oond, sonder
naeltjies nie, sonder te veel naeltjies nie. My Ouma wat in 1900 gebore is, het
seker een keer 'n week gebel om te sê ons moet by haar stop, sy het vir ons
'n hoendertjie in die oond gesit wat ons moet kom optel. En Ouma se hoender
het, tot sy op 85 ouetehuis toe is, altyd te sterk aan die lekkerste naeltjies
geproe. Ek sal selfs net 'n enkele naeltjie by 'n hoenderresep wat geensins na
naeltjies vra nie, gooi, net in liefdevolle en tere herinnering aan Ouma van
Wyk.
Ek het ook 'n halwe teelepel foelie ingegooi. Ek het nooit geweet
wat die foelie is waarvan die kookboeke praat nie. En toe ek so jaar of wat
gelede uiteindelik foelie in 'n winkel raakloop, toe koop ek summier genoeg dat
dit my sal hou tot ek eendag self ouetehuis toe gaan.
Ander ken foelie dalk goed, maar net in Engels, mace. Dit word van dieselfde saad/peul
as neut gemaak. Maar waar neut gerasper word van die middelste en binneste kern
of pitgedeelte, is foelie die fyngemaakte dop op buitenste deel.
Ek het ook 'n teelepel of wat sout ingegooi, maar nie te
veel nie – hierdie amper 4 liter aftreksels gaan nog afkook tot onder 'n liter,
750 ml as jy wil, en dan wil jy nie las hê van 'n gekonsentreerde sout
smaak nie.
Toe die aftreksel goed gekook en lekker lank geprut het –
ek, wat nie haastig is nie en met vakansie is, het dit vir ure in die prutpot
gehad terwyl ek en Annieka Klaradyn se speelkamer geverf en ingerig het. Toe
die groente en die goed, goed sag was, het ek die aftreksel deur 'n sif gegooi
en die groente eenkant gehou.
My hoender, die tweede een is maar vrieskas toe – my pot is
te klein, is toe van vergeet in die prutpot. Die oomblik toe die hoender sag
is, toe het ek hom uit om af te koel.
En dis wat so lekker is van my Boeremark-hoenders, hulle is
groot, maar hulle gewig lê nie in hul bene nie, maar in hul vleis. En die hoenders
is nie so vet nie, maar so groot. Ek het nie eens nodig gehad om vet af te skep
nie – of erger nog, alles te laat afkoel sodat die vet bo-op kan stol nie –
daar was die minimum vet.
My aftreksel, wat nou intussen hoenderaftreksel geword het,
is nou in 'n pot op die stoof gesit. Ek het die uie en knoffel van vroeër
weer bygegooi, die hitte hoog gesit en begin afkook. Ek het in ‘n stadium gou
vier eiers daarin hard gekook.
Die hoender is ontbeen en in blokkies gesny. Jy moenie die
hoender so kook dat dit in drade van die been kom nie – jy moet nog kan sny aan
die vleis.
Toe ek reken die aftreksel is seker nou met die helfte
ingedamp, het ek die groente van die eerste aftreksel weer uit gehaal. Ek het
toe twee eierwitte daarin posjeer (die geel is aan die einde nodig). Toe ek die
eierwit uit het, toe gooi ek 'n halwe koppie (so min of meer) sago in.
En toe die sago net mooi deurskynend is, toe is die
aftreksel ook net mooi onder 'n liter, nader aan 750 ml.
Dit is toe verdik met die eiergele waarby 'n halwe
suurlemoentjie se sap ingeroer is.
Op hierdie punt het altyd te veel sous en is die twee
eiergele te min. Maar ons leef in die een-en-twintigste eeu, ek gaan netnou
klaar bereide skilferkorsdeeg gebruik, so waarom sukkel – ek maak die sous toe
'n knertsie dikker met 'n knertsie mielieblom.
Intussen het ek 'n lekker dik skyf gekookte ham in klein
blokkies gesny en by die hoendervleis ingewerk. Ook die gekookte eiers, wat ek
in skywe gesny het, en die geposjeerde eierwit.
Toe alles gemeng is, het ek geproe vir sout, en bygevoeg.
Ook peper. En hierdie keer, die binnekant van die saad – fyn neutmuskaat.
Alles is pasteipanne toe. Die skilferkors is op en versier
en blink geverf met eier en melk. Ek maak klein pasteie dat ek kan vries vir ons
3, so ek het nie 'n pasteitregter of skoorsteen in nie – ek maak
stoomontsnappingsgaatjies in die deeg en basta met die res.
Toe ek hiermee klaar is, en dit was een vet lekkerte, was ek
te gatvol kos gemaak om nou nog twee groentes te kook én gestoofde droëvrugte soet en
geurig te kry. Dit terwyl Klaradyn se speelkamer oor die hond se stert is, maar dit Ankie se rug gaan breek as sy nou alleen moet aangaan terwyl ek my in die kombuis afsonder.
Toe braai ek wors en maak mieliepap en sous.
Lekker wildswors met baie koljander, pap soos ek daarvan hou en 'n propperse sous (in plaas van 'n blikkie tamatie-en-uiesmoor).
Die vakansie is lank, die winter lekker, en my pastei gaan
more tien teen een geuriger proe as vandag, so waarom nie wag tot more nie!
Dit is en bly soos Hein sê:
Winterkos is hartkos. Dis
sielkos. Warm geure: kaneel, naeltjies,
komyn en kardemom.
Foelie en neut daarby.
Die foto's is nie my pastei nie, ek het dit wikimedia onder commons gaan soek.
No comments:
Post a Comment