Ai, my kind het met so 'n mooi verslag van die skool gekom.
Dit maak my nederig, beskeie, trots, lief en sommer elke woord met 'n positiewe
betekenis, assosiasie en konnotasie.
As ek kon het ek elke maand iets van elkeen van hierdie twee
speelgoedvervaardigers aangeskaf. 'n Mens raak daaraan net nie uitgespeel nie.
Dis net 4’s waar jy kyk – jou oë duisel skoon daarvan. ('n 4
in vandag se dae, beteken die kind het die een of ander iets “uitstekend
bereik”; 'n 3 beteken “bereik”, 'n 2 slegs “gedeeltelik bereik” en 'n 1 dra die
boodskap dat die kind iets “nie bereik” het nie.)
En of dit van slimheid, skranderheid of louter harde werk
is, sal ek nie weet nie. Is dit haar eie toedoen, die juffrou se harde werk, of
die insette by die huis? Hoe sal ons weet wat alles saamwerk en in welke
verhouding elk 'n bydrae lewer, maar feit bly staan, die resultaat wat gister
hier aangekom het, is genoeg om enige een oor te wil laat loop van trots.
Die 11 goedjies onder Geletterdheid takseer die juffrou
almal as uitstekend. Dis nou goed soos woorde, sinne, lees, praat, skryf, en
selfs lúister
(van alle dinge). Ek wens die juffrou wil haar luisterassessering een keer
eerder bietjie hier by ons aan huis kom doen. Sondagoggend as ons wil regmaak
vir ry, sal 'n goeie tyd wees wat heel ander resultate sal oplewer.
Die kommentaar maak gewag van watter goeie spreker Klaradyn is
en hoeke goeie woordambag sy ook op papier oor beskik. Dit stel my gerus – die
kind is dan duidelik nie in die hospitaal omgeruil nie, 'n mens kan sien beide
haar ouers is talemense.
Gesyferdheid is ook net 4’s, met uitsondering nou van 'n
enkele opteltaak wat 'n 3 opgelewer het (met die aftrek het dit weer goed
gegaan). Dit moet sy alles van haar Ma hê; my kop is vir somme doen geensins
bedraad nie.
Wat die gesyferdheid betref, had Klaradyn die huis een aand
op hol, en sê
ek nou “die huis” dan is dit sommige partye meer as die ander. Sy het dit die
betrokke aand toe mos te vertelle dat sy vandag 'n 2 gekry het vir somme doen
omdat sy nie goed genoeg in drieë kon tel nie, en daar is nog 'n spul 1’s ook
wat in somme gaan kom.
Nou weet ek aanvanklik nie of 'n 2 kort duskant baie goed,
of knap anderkant vrotsig, is nie. Maar ek onthou dit soos gister dat ons hoof,
'n Meneer Coetzee, soggens van klas tot klas gegaan het, met 'n stophorlosie,
en dan moes ons ons tafels vir hom opsê. Waar sy teenwoordigheid, en die van
die stophorlosie, sommige kinders miskien kon aansppor, het dit op my presies
die teenoorgestelde uitwerking gehad – dit het my so verbouereer en gespanne
gelaat dat ek nie 'n woord kon uitkry nie. (Ek is tot vandag toe nog oortuig
dat dit hoeka hierdie besoeke van die hoof as ons moet tafels opsê,
wat my, wat somme betref, lewenslank geskaad gelaat het.)
So as my kind vassit met veelvoude van iets opsê,
kan ek verstaan en het ek empatie.
Maar toe wil sy die goed oefen om weer vir Juffrou te kan doen,
en ek verbeel my die kind het daardie aand nie onder Mamma se gebed nie, maar
haar eie drie-maal-tafel, aan die slaap geraak.
My gene staan tien teen een pa vir daardie 3 (wat toe darem
nie 'n 2 was nie) in somme. En wat van die 1’s geword waarmee sy te koop geloop
het, sal ek ook nie weet nie – ek sweer dit was net om te kyk hoe goed sy die
hele gesin, tot skoon die honde ook daarby ingesluit, kan opklits.
Die kleintjies se laaste vak is Lewensvaardighede of
Lewensoriëntering. Hier oorheers die oortreffende trap ook. Miskien is die
vlytigheid met die mond, ek praat van Kletskous-Klaradyn, bydraend tot die een
3 wat miskien verband hou met selfdissipline en gesels as daar eintlik stil
gebly moet word.
As die dominee sê ons sing Psalm 119 vers 1,3 en 5, dan
kan ons bly wees Klaradyn se ouers, ten minste een, trek nie weg met Psalm 118
nie. En as daar gekonsentreer is om wel 119 te onthou, dan volg vers 2, en nie
vers 3 nie, op vers 1.
Help ook nie jy vra dat ons na 'n liedjie se woorde moet
luister nie; nog voor die koorgedeelte vir die eerste keer ingeskop het, is ons
gedagtes al op 'n ander kontinent.
So as die kind se konsentrasie wyk en haar gedagtes 'n eie
koers inslaan, is dit seker te verstane.
Maar ons werk daaraan.
Ek hou nie van geskenke uitdeel as die rapport goed is nie,
so om iets te loop koop om geluk te sê, doen ek nie. Wat nou gemaak as die kind
eendag ten spyte van harde werk met 'n swak rapport by die huis kom!
Ek is tevrede met Klaradyn se beste, of dit 'n 2, 'n 3 of 'n 4 is.
En die feit dat slegs 4’s met 'n enkele 3 hier en daar is, is 'n bonus.
Ek is van mening sy het haar beste gelewer, so ons het Vrydag gaan shop.
Mamma, wat ook reken dit was 'n moeilike kwartaal waarin die meisiekind
net haar beste gelewer het, het gesorg vir die een of ander pop en nog 'n een en ander.
Ek het beweeg na opvoedkundige speelgoed wat 'n mens tot 99 nog
kan besig hou.
Op die ou einde kon ek nie kies nie, wou ek nie kies nie, en is ons
weg met 4 intellektuele uitdagings:
Architecto en Tangramino van Foxmind
Color Code en Camelot JR van Smartgames
Lees gerus oor elkeen na. Dis 'n ieder en ‘n elk 'n uitgawe wat
elke sent die moeite werd is. Of jou kind nou sit 1’s, 2’s, 3’s of 4’s.
Daar is nog een iets wat ek in die pyplyn het om te koop. 'n Afrikaanse kinderboek
oor musiek wat ek hierdie week nuut op die rakke gesien het. Dit het 'n CD
ingesluit en dek musiek en musiekinstrumente oor alle tye en lande en style.
Die idee was om dit Vrydag vir die viering van die einde van die kwartaal aan
te skaf, maar toe weer sien, toe is ons in die speelgoedwinkel.
'n Mens is net
een maal jonk, jou kind net een maal in graad 1, so waarom nie.
No comments:
Post a Comment