Ek verbeel my dit was Pieter W Grobbelaar hier in my
kinderdae twee boeke die lig laat sien het, 'n Bietjie Baie Bogtery, opgevolg deur 'n Liewe Lawwe Lollery. Die boeke het in my 'n voorliefde vir
alliterasie, jare voor ek sou leer wat
dit is, gekweek.
Van gister af het 'n paar klein los gedagtetjies wat ek wil
aanteken, maar elke keer betrap ek my dat ek wonder wat dit dan nou is wat ek
wil verwoord, en dan kom ek by die antwoord uit dat dit sommer 'n bietjie baie
bogtery is.
Want dis hier waar ek moet aanteken, voor ek vergeet, dat
Klaradyn dan nou na 6 maande in graad 1 haar eerste Engelse sin geskryf het,
uit haar eie en sonder enige aansporing hoegenaamd.
Ons ry devideoteek (amper soos biblioteek en videoteek, jy
neem net DVD’s, en nie boeke of video’s nie, daar uit) toe en Klaradyn is soos
altyd aan die totter met 'n pen en papiertjie. Die volgende oomblik sê
sy: “Lees bietjie hier.”
Ek bestuur motor en my aandag moet op die pad wees, maar ek
wil ook nie die kind se entoesiasme laat taan nie, so ek laat maar toe dat sy 'n
stukkie papier, skaars groter as posseël, in my hand prop.
En as 'n mens nou eers die papiertjie geneem het, raak die
verantwoordelikheid soveel groter, want nou moet jy sorg dat jy reg lees – jy wil
jou kind se selfbeeld bou, en kan dit nie wil afbreek deur verkeerd te lees
nie. En enige graad 1’tjie se spelling kan hier in die begin nogal 'n uitdaging
wees.
Ek lees, en ek lees weer – maar daar breek niks deur nie,
dit maak nie sin nie. My oë beweeg verbouereerd na Klaradyn en die afwagting in haar
oë
noop my om onmiddellik maar weer te probeer.
Dis eers toe ek in Engels begin dink dat die betekenis
deurskemer: Merie mie Plis.
Ek vermoed dis vroeër die middag se gesels rondom Guinevere,
Arthur en Lancelot (wat Klaradyn die heeltyd Dance-alot noem) wat Klaradyn in
sowel 'n Engelse as 'n huwelikstemming het.
Ek het lankal vergeet hoe dit is as 'n kind se lees- en
skryflus inskop, en net Klaradyn wat my 40 jaar later weer daaraan kan herinner.
Ry ons, begin sy vrae vra oor wat sy raak lees, sit ons iewers in 'n inkopiesentrum,
is daar skielik allerhande vrae wat my en Ma se koppe en oë
in alle rigtings het om agter die kap van die byl te kom. Selfs die ontbyttafel
met sy papboks sorg vir vrae. Te lekker.
Ek onthou hoe ek as jong leser verwonderd was oor die “TOILET”-bordjies
wat hulle orals aangebring het. Ek het selfs uitgewerk dat daar een of ander
landswet was wat mense verplig het om aan te toon dat daar 'n “TOILET” in elke
nuwe winkel en gebou, wat gebou word. Dis eers toe ek my teorie met my ouers
deel, dat ek hoor dis “TO LET” en nie “TOILET” nie.
Die ander stukkie bog wat in plek moet kom is die bogtery in
die kombuis. Natuurlik help Klaradyn gereeld in die kombuis, maar dan is dit
help soos 'n baie klein enigste kind help – die belangstelling wyk so vinnig en
gou soos mis voor die son en jy sit met 6 onafgehandelde takies en 'n baie
deurmekaar kombuis met meel en eier tot teen die dak.
Nie gister nie. Ek het uiteindelik krag gehad vir vers twee
van die hoenderpastei waarvoor ek dag een nie kans gesien het nie en toe maar
besluit het op pap en wors: soetpatats,
boereboontjies en gestoofde vrugte.
Die pakkie skilferkorsdeeg was ook ontdooi en ek roep
Klaradyn om te kom help.
Die kind is heel behendig met 'n koekroller, maar die lekker
het gekom by die uitsny van patroontjies om die pasteie te versier. Die een is
afgerond met 'n Pappa-beer, Mamma-beer en Baba-beer. Rondom die ander een is
dit 'n jammerte dat Valentynsdag al verby is, want met al die hartjies wat die
betrokke pastei oortrek, sal dit geskik wees vir 'n Valentynsdagmaal. Die derde
pastei het 'n groot Gemmerbroodmannetjie-vroutjie op. Klaradyn wou haar vlerke
aansit dat sy 'n engel word, maar toe is die deeg net mooi klaar en sal die
vrou sonder haar vlerke in oond beland.
Maar steeds is dit het einde niet: toe skil sy die patats en die ertappels en
werk met die boontjies en dis net 'n aardigheid.
Kom aandete, toe eet sy van alles behalwe die gestoofde
vrugte – want sy het dit nie help maak nie.
Intussen is die speelkamer in gereedheid gebring en staan
ons op die vooraand om ons eerste legkaart te bou. Klaradyn het al baie gebou, Mamma
ook, dis Pappa wat nie te gewoond aan die goed is nie.
Ek en Annieka het een jaar fluks gevorder met een, maar toe
vreet haar babahondjie twee van die stukkies wat op die grond geval het, op.
Die hond is seker al agt jaar oorlede, van ouderdom – wat 'n aanduiding behoort
te wees van wanneer laas ek/ons legkaart gebou het.
Hierdie een, die voorblad van Maurice Sendak se Where the Wild Things Are, staan bekend
as 'n familie-legkaart. 'n Familie-legkaart, sê hulle oor die finale produk so
groot soos een van 1000 stukke is, maar dit het net 700, bietjie groter,
stukkies. Hoe lank dit ons gaan neem, weet ek nie. Ek vermoed die vakansie gaan
te kort wees.
As gesin kon ons nog nie daar uitkom nie. Pa het al 'n geruime
tydjie getotter, Klaradyn het eenmalig vir sowat 7 minute en 13 sekondes by my
aangesluit en ek vermoed Mamma gaan redeneer die kamer waar ons die bouwerk
doen is te koud na haar sin om enigsins by my/ons aan tye sluit.
Maar die hoop beskaam nie.
Ons ander projek – ek sal moet langverlof neem (ai, waar is
die dae van langverlof) is 'n mosaïek-takie. Ook ek en die ellendige Boeremark.
Want daar is hierdie tannie wat deesdae met die oulikste vetplantjies daar
uithang. Littoppies en die klas van ding.
Toe wil ek iets begin.
Maar wat weet ek nie.
Toe wil ek die goed in my ma se ou broodpanne aan die groei
hou. Toe wil ek die panne met die hele gesin se insette aan die hand van mosaïek
opdollie. Ons sit toe ook af mosaïekwinkel toe maar dit wat ek van afval- en
uitskot- en oorskotstukkies beplan het, se kleurskakering welgeval toe nie die
hele gesin nie. En toe ons uiteindelik die kleure het wat almal pas, toe pas
dit alles en almal behalwe Pappa se beursie.
Maar as dit klaar is, gaan dit lieflik wees.
So as ek nie so pligsgetrou by die blog uitkom, soos 'n mens
redelikergewys van 'n man verwag wat met vakansie is nie, dan verstaan 'n een
en 'n elk hopelik voortaan: al die bogtery en lollery hou my net te besig.
No comments:
Post a Comment