Pages

14.6.11

'n Een en ander oor Ouma Moolman


Ek het vroeër die week van my Ouma Moolman op Sonop buite Brits vertel.

Sy en haar man het in die Oos-Kaap, omgewing Cookhouse en Somerset-Oos, geboer. Haar man, soos alle mans in my voorgeslag, of dit nou aan Pa se kant of Ma se kant is, het vroeg gesterf. Nie een van haar twee seuns het die hande of vat van 'n boer gehad nie en die plaas is verkoop.

Sy sou die plaas tot en met haar dood mis. Nie die grond en die ooptes en die stiltes nie; haar vrugteboord en groentetuin.

Maar nou klink dit of dit haar verantwoordelikheid was, die groente en vrugte. Dit was nie, en of sy ooit 'n voet in die uitgebreide vrugteboord gesit het, sal ek nie weet nie; ek betwyfel dit ook ten sterkste of sy ooit afgebuk het om 'n wortel of ertappel uit die grond te kry.

Daarom eerder die vrug van die boord en tuin wat sy lewenslank gemis het, waarna sy bly hunker het.

Toe ek my verstand gekry het, was sy al jare van die plaas af weg, maar een maal elke jaar moes Pa of Ma van Alberton af, Germiston stasie toe om Ouma se boksie, ander jare 'n kassie, sitroene van die plaas af, al die pad van Ghwarrielaagte af, met liefde vir haar deur die nuwe eienaars aangestuur, in ontvangs te neem.

En hierdie gebruik is volhou tot Ouma van Alberton af, Sonop toe is.

Party jare was dit so min soos 12 en 14 vruggies, ander jare veel meer, maar jaar vir jaar het Ouma die vrugte met amperse heilige toewyding versorg en berei vir 'n kooksel van die allerlekkerste sitroen-konfyt wat nog ooit Noord van die Vaal gekook is. Daar was baie vrugtebome op die plaas, rye en rye, maar net een Sitroen wat baie wisselvallig (eintlik na gelang van die reënseisoen) gedra het.

Vra jy my vandag hoe lyk 'n sitroen, sal ek nie vir jou kan sê nie; jy sal een voor my sit en ek sal nie weet dis een, as jy my nie sê.

My enigste Albertonse herinneringe aan Ouma Moolman is dat ons in die parkie voor haar huis in Jan Coetzee-weg, dennenaalde opgetel het, ek en sy as ek daar kuier, en dan het sy die dennenaalde gevleg.

Ek onthou die konfyt uit my kleuterdae was net so lekker soos wat dit spesiaal was. En twee keer in my lewe het ek al sitroenkonfyt raakgeloop, en gedagtig aan Ouma Moolman, gekoop.

Ook my Ma kon 'n potjie sitroenkonfyt nie weerstaan nie en het elke keer as sy haar hande op een kon lê, na die beursie gereik en vir almal Ouma Moolman se storie rondom die sitroene vanaf die plaas vertel.

Egter 'n ander Ouma-Moolmanisme wat haar jaarliks en baie gereeld, vandag nog, in my gedagtes het. Sommer 'n hebbelikheid, 'n geit gewees, maar dan 'n geit en hebbelikheid waarby sy hoog en laag gesweer het – 'n gebruik wat sy met haar van die plaas afgebring het, en saam met haar geneem het tot in haar graf.

Sy het nie sommer belang gestel in 'n vars vrug op die tafel of in die bordjie voor haar, as die vrug nie reeds deur 'n gevleuelde vrugtevretertjie ryp en heerlik sappig en soet verklaar is nie. Ja, Ouma Moolman het geglo die voëltjies weet watter vrugte is die lekkerste, watter is ryp – aan 'n tweederangse of –graadse vrug, sal hulle nooit as te nimmerste nooit hul snawels slaan nie.

As ek my oë 31 jaar na Ouma Moolman se dood toemaak en haar voor my oproep, kom een van twee beelde by my op. Die een is Ouma by haar tafel in die kamer in die ouetehuis. Die tafel is vir een mens gedek. Sy het 'n swartsteel-vrugtemessie in die een hand, 'n vrug in die ander. Sy skil stadig, bestendig, sekuur, rustig, nie oorhaastig nie – is dit 'n skil afspiraal, val hy in een stuk op die bordie, of langs die jammerlappie op die bordjie van sy eie.

Maar ek sien ook die gate wat die muisvoëls en ander vrugtevreters op Oom Piet se plaas, in Sonop se boorde, in die vrugte, vye, pruime, perskes en appelkose, ingevreet en –pik het. Ek word summier weer 'n klein seuntjie en deins terug by die aanskoue daarvan. En dan hoor ek Ouma vertel hoe spesiaal daardie eetkolle en gate die vrug maak.

Die ander prentjie wat in my toe oë opkom sal ek later by uitkom. Miskien het ek al, ek saal gaan soek.

Die ander Ouma-Moolmanisme wat deesdae gereeld by my opkom, veral nadat ek by die Boeremark 'n tweedehandse broodsnyer uit die jare sestig van die vorige eeu raakgeloop het, is wat sy met die brood gedoen het wat die ouetehuis-kombuis op haar bord gepak het – sy het dit, net so sekuur en bestendig en sorgsaam soos wat sy die vrugte geskil het, in twee gesny.

En ek sien ek word verkeerd verstaan, miskien oor ek myself verkeerd uitgedruk het:  die snytjie brood was te dik na Ouma se sin, dan het sy die enkel snytjie brood geneem en van hom twee, ewe groot in lengte en breedte maar die helfte so hoog, snytjies brood gesny. Elke dag, soggens, smiddags en saans.

Tot iewers in my standerd 7-jaar. En nou beweeg ek oor na 'n teksgedeelte wat ek elders en lank terug geskryf het:

In daardie jaar, standard 7, Hansie is klaskaptein, verjaar Miss Mills, die beste Engelse onderwyseres wat ooit my pad gekruis het.. Ek samel geld in vir ‘n geskenk en oor sy ‘n geliefde by almal is, stroom daar hope van in, genoeg om vir haar ‘n pottery koffiestel te koop. My ma moes opsluit al die pad Johannesburg toe ry, Jacoby’s toe, om vir Miss Mills ‘n bruin blink geglasuurde seventies koffiestel te gaan koop.

Hansie werk die toespraak vir tydens die oorhandiging uit: ons is na haar huis genooi. Haar huis, ‘n klein woonstel gerieflik naby die hoërskool. Ek ken die toespraak selfs ‘n week voor die tyd uit my kop.

En daar sterf Ouma Moolman op Brits. ‘n Songedroogde en weggekrimpte ou vroutjie by wie ons, selfs na die egskeiding, en my pa se dood ‘n jaar tevore, steeds eenmaal ‘n maand deurgery het Brits toe om te gaan kuier.

Dis vir my ‘n uitgemaakte saak: Juffrou Mills verjaar, ek moet buitendien toespraak maak en die geskenk oorhandig:  “Jammer, Mamma, ek kan nie saamgaan nie, ek sal saam met Susan se ma by Juffrou Mills en terug kom.”

En toe die troefkaart uit my ma se mond:  “Jy kan regtig nie, Oubaas, jy is een van die draers van Ouma se kis.”

Oor die jarelange selfverwyt dat ek nie bereid wou wees om ‘n draer van my eie ouma se kis te wees nie —en dit omdat ek na een of ander verjaarsdagpartytjie wou gaan — is egter nie die sterkste begrafnisherinnering wat ek van Ouma Moolman het nie.

Daarvoor moet ons, ‘n jaar vroeër, na my pa se begrafnis gaan.

Ons stop die dag daar by die krematorium. Ek gekisklere en baie vernaam. Ék kon immers sê wat ons moet sing tydens die roudiens:  Nearer my God to thee en Uit dieptes gans verlore (op die Voortrekkewysie en beryming soos my Pa so baie daarvan gehou het.)

Oom Frans en Tannie Johanna van die Kaap, my pa se broer en skoonsuster, het aan die oorkant van die pad gestop. Hulle was al uit en het kom handskud. Weggekrimp dat haar swart bollatjie net-net uitsteek het my pa, die afgestorwene, se ma, diep in die negentig toe al, in die kar bly sit. Ek het oorgestap en gaan groet. Sy het my stom sonder herkenning aangestaar en oom Frans moes kom verduidelik, iets soos, “Dis Hansie, oorlede Hans, ma se seun, se seun.”

Sy het my aangekyk, en háár woorde sal ek nooit vergeet nie, verbatim daarom, dis of ek dit nou opnuut weer hoor: “O, so jy is die seun van die man wat hulle vandag begrawe, aangename kennis. Wie word vandag begrawe?”

Maar dan onthou ek dit nie so goed omdat ek dit nog hoor nie – dis oor ek haar dit so duidelik sién sê dat ek dit nog al die jare en pad met my saamdra.

Of dit bloot die ouderdom was, weet ek nie. Dalk die ontwrigting van ‘n roetine en al die pad van Brits af Johannesburg toe. Moontlik selfs ‘n kalmeerpil wat die gewoonte was, en is, om mense in te jaag. Feit bly staan, Ouma Moolman het ‘n jaar voor haar dood nie geweet wie ek is nie, wie haar eie seun was wat hulle daardie dag begrawe het nie.

Soos gras is nie mens, wat in die oggend opkom en in die aand verdor.

Gelukkig is herinneringe nie heeltemal van gras nie.

Foto's, op die korte duur, ook nie:





No comments: