Pages

11.6.11

In en uit by die honde se klapdeurtjie


Ek is nie opgewasse vir die klas van ding waarmee ek Vrydagoggend op my nugtermaag konfronteer is nie. Ek was darem al by die werk en geen ander normale mens sou nog nugter gewees het nie; myne was wel, en selfs al was hy nie, het ek hom net daar en dan, in die klas, morsdoodnugter geskrik.

Die dag het hoeka nie goed begin nie. Vir die tweede keer hierdie jaar besluit ek en Annieka om met dieselfde motor werk toe te ry. Dit noodsaak aanpassing van ons beide, maar dit is darem lekker om so nou en dan die ongewone te doen. Maar toe alles in my kar gepak is (Ma se rekenaar, Ma se handsak, Pa se rekenaar, Pa se klaar gemerkte antwoordstelle, Klaradyn se skooltas, Klaradyn se naskool-klere, Klaradyn se padteken vir die mondeling, Ouma se mandjie wat moet teruggaan én die borde, messe en vurke vir pouse se verjaarsdagete aan ons tafel) toe is die sleutels soek.

Toe dit al 10 minute soek is, die huisbediende is al op die erf, toe begin ons oorpak.

En toe ek alles en almal uiteindelik weer ín Mamma se kar het, en die donderse hond úit, en ek klim self in, toe kom Martha aangehardloop met die sleutel – hy was toe op die kombuistafel, maar onder die een of ander pot se deksel wat ons nie die moeite gedoen het om op te lig nie – wie sal nou ‘n deksel op ‘n stel motorsleutels staanmaak!

By die skool gekom, het ons vergeet ek en Annieka kan nie vanmiddag tussen 13:00 en 14:00 gaan kyk wat ek haar nou al van Maandag af wil wys nie – ons het vergeet ek help met die matrieks se praktiese drama-eksamen. En ons is by die skool met een motor. En ek is besig tot 17:00. En 17:00 moet Klaradyn na Ouma-hulle toe. Want ons gaan vanaand Stuur Groete Aan Mannetjies Roux kyk. En ons ontmoet die res van die mense al 18:00 vir aandete. En, en, en. Want, want, want...

En toe die SMS (ek en die kinders waar ek eksamentoesig hou, is net besig om die klas in te stap):

Liewe Annieka, Carel het klaarblyklik vir Klaradyn genooi om Saterdagoggend saam met ons te gaan fliek. Ek weet nie of dit reg is met julle nie. Jy is welkom om saam te gaan indien dit in orde is. Groete Lize Lombaard.

Ek en Annieka sukkel beide met skeidingsangs, en dan nou dit!

Ek gaan sit.

Die kinders vra wat is fout. Een wil gaan suikerwater haal, ’n ander dra ‘n suiglekkertjie aan.

Ek los my student by die kinders en sê ek is terug voor ons moet vraestelle uitdeel – ek sit af na Annieka toe.

Maar dit help nie ek praat met haar nie – sy is nog meer aan die kind se broekspante vasgeheg as haar pa.

Ek kry nugterheid, en helikoptervisie, en alles wat nodig is om my kop oop te kry.

Ek het vir Carel se pa skoolgehou. En vir sy boetie. Soos ek die gesin leer ken het, en onthou, is dit ‘n gesin waarheen ek my kind sal laat gaan as daar ‘n partytjie is.

Carel se ma het nog elke keer wat ek met haar te doen gekry het, baie aangenaam oorgekom.

Klaradyn  het Carel se naam al baie in gesprekke laat val – elke keer positief. (En as sy na haar ma aard, gaan sy haar hele skoolloopbaan lank in baie opsigte baie lekkerder met haar seuntjiemaatjies as dogtertjiemaatjies speel.)

Ouma het al laat val watter oulike gesinnetjie dit lyk.

So enige lewensbeswaarlike probleme met die mannetjie kan ons nie hê nie.

Toe pak ek die mannetjie verder by die horings:

Ten eerste moet ons onthou ons is besig met 'n opvoedingstaak.

Die mannetjie het nou die galante stap geneem om 'n dametjie te vra om saam met hom te gaan fliek. Gestel nou maar dit is die eerste keer dat hy so iets doen, dan kan die man mos nie so met die intrapslag 'n koue skouer kry nie. Dit knak hom dalk net vir die res van sy lewe.

Ek sal Klaradyn vra of sy wil gaan, en as sy in haar hart oortuig is dat sy eerder saam met Carel-hulle wil gaan fliek, as om saam met Mamma en Pappa na 'n vervelige rugby-hokkie-en-netbaldag by hulle skool te kom, dan is dit reg so.

As maatjies wil speel en gaan fliek is dit goed so. Ons sal nie in hul pad staan nie.

Ek meen, ek dink nie dis ‘n geval van snuiters wat oor die onderdeur begin loer nie – maar smaak my straks het hulle die honde- of katteflap waarby die troeteldiere in en uit, opgespoor en loer hulle daardeur.

Weet egter, as dit sommer enige van die ander mannetjies was, was ek beslis nie so geneë nie, het ek trouens 'n stokkie, nee, 'n stok of 'n spanner daarvoor en in die works gesteek.

Intussen het ek met die ma gepraat en die wind was net so uit haar seile geneem toe haar seun vanoggend op pad skool toe laat val dat Klaradyn Saterdag saam met hulle gaan fliek. Nee, hy het Klaradyn nog nie gevra nie, hy sal nog en intussen moet sy ma kyk wat sy gedoen kan kry met Klaradyn se mamma.

En vandaar die SMS na Pappa se foon wat hulle gehad het as Mamma se nommer.

Die mannetjie het darem sy woord gehou en Klaradyn pouse gevra.

En wat sê sy?

“Nee.”

“Want,” sê sy vir Annieka, “ek het geweet Mamma weet dit nie, en as ek vir Mamma sê na skool, sal Mamma histeries wees.

Ook maar goed sy het vir 'n oomblik van haar pa vergeet.

Want sy was reg. Kan 'n kind so in die kol wees? Kan 'n sesjarige haar ouers so goed ken?

Ek hoop hulle het 'n lekker tydjie.

Streng gesproke sal ons dit met die skool se sportdag saam, so kan bewimpel dat een van ons saam kan gaan. Maar in belang van én die mannetjie, én Klaradyn, is dit beter dat ons haar alleen laat gaan.

No comments: