Pages

15.6.11

In die motor by die dramaklas (of was dit Voortrekkers)

Elke kraai dink darem maar sy eier is die witste.

Dis vir my bykans ondenkbaar dat daar ouers kan wees wat hulle kinders nie so lief het soos die oorgrootte meerderheid ouers nie. Maar uit dit wat ek aflei uit party koerantberigte, is daar wel van hulle. Al is dit min.

Ook die vreemdste goed waarmee 'n mens sy gedagtes kan op- en besig hou, terwyl daar vir 'n kind se les of klas gewag word om einde se kant toe te staan!

Maar voor jy nie self in die bootjie is nie, verstaan jy daar maar min van.

Ek ry vanoggend by my ma weg en dink:  “Daar is twee goed wat my ma en pa my geleer het. Die eerste is om jou kind tot die dood toe lief te hê; die ander is om jou ouers tot die dood toe lief te hê.”

En dan het hulle dit nie vir en my broer geleer deur te predik nie, nee, hulle het die voorbeeld gestel, die voorbeeld geleef, en kan ons nie vandag anders as om die twee partye in ons eie lewens, ons ouers en ons kinders, met ons hele hart en siel en wese en verstand lief te hê nie.”

Ewenwel, en om terug te kom by my skitterwit eier, ek betrap haar Dinsdag op twee sinnetjies terwyl sy, onwetend van ek wat toekyk en afluister, met kleiner kindertjies speel; en my ouerhart vermurwe.

(Die afgelope naweek spring sy op en kondig aan dat sy my nou gaan vermurwe. Annieka antwoord:  “Gebruik jy maar net woorde soos ‘vermurwe’ en jou pappa vermurwe al klaar, my skat.”)

Klaradyn se naskool tot een van ons haar kan kom optel, is smiddaes by haar kleuterskool en na slaaptyd is dit vir die kleuters heerlik as die groter naskool-leerders hulle vermaak.

Klaradyn speel juffrou-juffrou met hulle, sy het 'n stuk of vyf of ses voor haar in 'n ry en ek hoor haar sê: “Staan julle nou mooi in 'n ry, dan is daar vir julle elkeen 'n verrassing.”

Sy sê dit met soveel deernis en juffroulike liefde dat my hart skoon saamtrek en inkrimp.

Wat ek hoor en hoe sy dit sê is die beste getuigskrif vir elkeen van die drie onderwyseresse wat sy in haar lewe gehad het – ek is ook oortuig daarvan dat elkeen van die drie onderwysers hulself in haar omgang met die kleintjies sal herken.

Maar ek moet die spelery kortknip – ons het ander verpligtinge en sy moet kom.

In haar eie stemmetjie kom dit toe dat sy moet gaan, haar pa soek haar, maar toe neem die teer juffroustem weer oor en ek hoor:  “Studentejuffrou, neem jy asseblief die klas waar.”

Bid jou dit aan - ek vermurwe net daar in my skoene in die gapende bek van die kleuterskooldeur, van my kroontjie tot my toontjie en ek dog ek vreet haar op.

Gedagtig aan haar drie rolmodelle onthou ek toe ook weer 'n Engelse aanhaling wat ek iewers langs die pad opgetel het en steeds met my saamdra:  “Imitation is the best form of flattery.”

Die goed wat hulle nie alles optel nie.

Nou die dag, na laat slaap en lank inlê oor dit Saterdag is, is dit voor opstaan 'n oor en weer kielie en karnuffel om van opgehoopte energie ontslae te raak. Die volgende oomblik roep sy uit:  pause die game, pause die game.”

Het sy dit by die seuntjies op die speelgrond opgetel, hulle jaag mekaar hoeka so lekker rond?

Of het sy dit self uitgedink? Ons pause gereeld die DVD’s, so sy het 'n goeie idee wat dit beteken. Nou pas sy die breë idee net in 'n ander, en haar eie, konteks toe?

Om etenstafel nou die aand vra sy weer wat noem 'n mens 'n reggemaakte mannetjies perd. Ek dink nie twee keer nie en gee die korrekte antwoord, reun. En sy sê dis korrek.

Dis eers toe dat die vraag my soos 'n voorhamer vol in die gesig tref, nie hoe my kind weet van ‘n reun nie, maar:  “Wat weet my kind van reggemaakte diere af, of dit nou bokkapaters, hamels, osse of reuns is.”

Nee, sê sy toe ek haar daarna uitvra, haar juffrou het haar geleer.

Ek kan my nou nie vir een oomblik voorstel dat woordekatuitbreiding aan die hand van die korrekte selfstandige naamwoorde (soortname) vir gekastreerde plaasdiere, deel van die graad 1-sillabus is nie.

Maar dis moontlik dat sy iewers vir iemand kon vra wat 'n reun is as dit nie 'n mannetjieshond is nie. Dis moontlik dat sy “reën” in gedagte had, maar toe die antwoord rondom die reggemaakte perd of vark gekry het. Ek weet nie.

Tien teen een het sy van “reggemaakte perd” gehoor, en oor sy nie idee het wat dít beteken nie, 'n skoot in die donker gewaag, 'n klip in die bos gegooi, eerder, en gevra wat dit is.

En toe ek so vinnig met antwoord is, daar dadelik 'n hond uit die bos spring, toe speel sy saam en sê dis reg.

Hoe sal 'n mens nou ooit weet.

Hopelik, as die wolke saamspeel, weet sy darem teen more wat 'n maansverduistering is.

Of ons sal kan wakker bly tot 21:30, en eintlik 22:15 wanneer die verskynsel beloof om op sy mooiste te wees, weet ek nie.

Miskien sal ek more beeldmateriaal op die internet moet soek om haar die volle prentjie te laat sien, maar dit maak nie saak nie. Ek is egter bly dis nie more skool vir hulle nie – dan kan ons ten minste iets daarvan beleef.




No comments: