Pages

3.6.11

Gister en vandag

Ek onthou baie, baie lekker dae op laerskool.
Die jaarlikse kermis was spesiaal, in besonder die spookhuis.

En van spookhuis spring die gedagtes na die spookasem – dis elke jaar met die trappe op by die agterste ingang van die saal, gedraai.

Ek sal nooit in my lewe na Nazareth se “Love hurts” kan luister, sonder om nie aan een so 'n kermis te dink nie. Die standerd 5’s het 'n stalletjie gehad waar iemand 'n platespeler van die huis gebring het en dit met die skool se klankversterkingstelsels (amps, amplifier?) gekoppel het. Dan kon jy teen 5c 'n spesiale versoekie oor die lug stuur, met dan ook die liedjie van jou keuse.

Ek dink die “Love Hurts”-seven single is daardie dag deurgespeel, en as dit nie die plaat is wat die gees gegee het nie, beslis 'n naald of twee.

'n Ander lekkerte was die hoof se verjaarsdag. Dan het Coke gekom en vir elke kind 'n botteltjie Coke gegee. Ek weet nie of die gebruik al gestaak is nie. Vriende van ons, ook in die onderwys, het so 8 jaar gelede Kermis gehou en toe kontak hulle Coke om te hoor of hulle nie weer soos in die ou dae Coke kan kry nie. Hulle hoor toe dat die hoof klaar sy verjaarsdagbotteltjies Coke gekry het, die begin van die jaar al. Dit blyk toe die man kry elke jaar sy botteltjies Coke, die res van die skool sien dit net nie.

Een van die lekkerste van lekker laerskoolherinneringe was egter die jaarlikse besoek van Outspan-lemoene. Elke kind het 'n kartonboksie met Outspan se naam groot en in oranje daarop aangebring, gekry. Binne was iets soos 3 lemoene met nog ietsie ekstra vir die lekker.

Party jare was daar sulke oranje plastiek tuitbekkies wat jy aan die bopunt van 'n saggedrukte lemoen gedruk het – dan het jy die lemoensap deur die tuit gedrink.

Ander jare was daar 'n soortgelyke kontrepsies om vir ma te vat – vir suurlemoene. Maar hierdie een het selfs 'n deksel gehad, oor jy nie al die suurlemoensap op een slag gebruik het nie.

Die volgende jaar was daar 'n bakkie op drie pootjies waarin jy 'n suurlemoen in die yskas staan kon maak.

As daar kermis of kaskar was, is die Outspan-karretjie/waentjie ook nader getrek. So ronde oranje bedryfie waaruit soortgelyke bokse en goetertjies uitgedeel is.

O, wat 'n lekkerte was dit nie om na die Randse Paasskou te gaan en daar by die lemoen besoek af te lê nie.

Deesdae is dit regte karretjies soos die een hier onder wat ek by Wiki gaan kry het. Maar dis nou in die buiteland, nie hier by ons nie.



Ek wonder hoe gaan dit deesdae met Zebediela, een van die grootste sitrusplase daardie jare. Grondhervorming het in 2003 drastiese veranderinge daar gebring.

Hopelik het Zebediela nie dieselfde pad as Sapekoe, die teeplantasie buite Tzaneen, geloop nie. Toe ek laas daar gery het, kon ek nie glo wat ek aangetref het nie.

Egter nie Outspan-lemoene wat my agter die rekenaar het nie. (Al het ek gistermiddag toe ek terugdink aan die Outspan-besoeke, in die kar geklim en 'n sak lemoene gaan koop.)

Nee, dis twee ander besoeke en gratis geskenkies wat ons gister gehad het wat hoeka my gedagtes na die lemoene gestuur het.

Eers stap hier 'n tannie met 'n koelboks oor die heup en sy deel vir almal Red Bull’s uit. Seker maar vir advertensie. Maar dit gebeur regtig nie gereeld dat iemand so iets onder 'n spul onderwysers kom uitdeel nie – ek het myne sommer in die klas voor die kinders gedrink.

En toe is dit die tampons. Honderde van die goed. Soveel honderde dat daar nog honderde oorgebly het nadat ons vir al die graad 8’s gegee het.

Die tannies in die kantoor en graadvoogde bêre dan maar vir deur die loop van die jaar, maar in die kluis is daar voorraad wat al vyf jaar en langer daar lê.

Sulke periodes gaan die seuns altyd skietbaan toe, of swembad toe – dan word daar eenkant met hulle gepraat.

Ek sê altyd dis onregverdig dat die meisies kan freebies kry, en die seuns kry niks – pleks ons deel vir hulle kondome uit.

Nie dat ek moet spot nie; ons hét al bokse kondome present gekry – dis ook in die kluis.

So elke tweede jaar, met die opedag, as ons alles in gereedheid kry vir die laerskoolkinders wat kom besoek aflê, dan soek die onderwysers en sporthoofde freebies.

Dan gaan delf ek een van die bokse kondome uit die kluis uit en loop, tot groot ontsteltenis van Annieka (wat aan stuur van dien opedag staan) met dit rond vir die wat wil hê.

Ja, tye het verander.

Ek mis Outspan en Coke in sulke klein botteltjies wat nie vry in die handel beskikbaar is nie.

En moet seker maar vrede maak met Durex en Li’Lets van die een en twintigste eeu.



(Toe my gedagtes beweeg na die binnekant van die skoolkluis, toe onthou ek iets wat ek lank terug geskryf het – ek gaan dit soek en op die Ougoed-blog publiseer.)

No comments: