Ek het 'n week of wat gelede vertel van Esti se lekkerDuitse Frankfurter Kerriegroentesop agter op die troukaartjie in Nataniëlse Kaalkop-kookboek vertel.
Die naweek is dit toe nou ook sulke tyd en ek maak die sop.
Sommer duwweld.
Iewers deur die loop van die week het Annieka laat val sy moet in die komende week 'n pot sop vir die tafel waarby sy sit skool toe neem om te geniet.
En in ons huis werk dit maar so: Ma sê “spring” en Pa vra “hoe hoog.”
So toe ek vra hoe hoog sy wil gaan, kom die antwoord dadelik: “Daardie Duitse worssop van jou.”
Ek besluit toe net daar en dan om dan sommer vir my tafel ook 'n lekker kuier los te kook met 'n dubbeldosis van Esti se sop (want my sop is dit beslis nie, ek ploeg met 'n ander vrou se kalwers as ek dit as my sop uitgee.)
Saterdag sit ek spesiaal af na die Duitse slaghuis – hulle het 'n rype en wye verskeidenheid worse waarvan ek kan insit. In plaas van 1 kg frankfurters, kry ek nou nagenoeg 250 g van vier verskillende worse elk.
Ek oordink ook die groente. Die resep vra vir 1 kg groente. Die sop is lekker met 1 kg vars groente, net so lekker met 1 kg chunky bevrore groente. Maar die klein en in blokkies gesnyde groente is eweneens nie te versmaai nie. Esti was lief om 'n pak bevrore stir fry groente te gebruik. En ek het self al sukses gehad met 'n pak vars gesnyde roerbraai-groente.
Op die ou einde besluit ek dis Vadersdag, bevrore groente sal dit daarom wees, en oor ek die resep twee keer aanmaak kies ek twee verskillende pakke roerbraaigroente.
Sondagaand besef ek dat ek Maandag pouse nie beskikbaar gaan wees nie. Annieka sal haar helfte dan maar Maandag neem, dan eet my tafel Dinsdag.
Ek verdeel die sop baie regverdig in twee potte, elkeen tot oorlopens toe vol geur en smaak.
Vanoggend toe ek die sop in die kom skep waaruit dit bedien gaan word, weet ek dis genoeg, maar ek dog toe “laat ek tog maar die helfte uit my pot ook bygooi – dis altyd lekker om te weet jy het ruim voorsien.” En in elk geval is een netnou skaam om die laaste sop te skep, maar as daar hopeloos te veel is, en daar bly oor, dan voel dit nie vir die persoon wat laaste skep, hy maak die pot nou leeg nie.
Ek kom teen die einde van pouse by die personeelkamer in, en kry net komplimente.
Annieka stel voor ek kry my tafel om ook te kom eet, daar het dan nou so baie oorgbly.
Maar ek besluit daarteen – ons het Dinsdag aan my tafel 'n verjaarsdag, dan is my sop sommer die verjaarsdagete ook.
So is pouse verby, en waar ek kom, wens mense geluk met die lekker sop. Ek word op die skouer en blad gedruk, my hand word geskud.
Na skool beweeg ek gou kombuis toe om seker te maak Annieka het wat oorgebly het, in die yskas gesit.
En ek begin hond se gedagte kry toe mense wat in tien jaar nie aan Annieka-hulle se tafel gesit het nie, my in die doodsnikke van die skooldag spesiaal kom bedank en lof toeswaai. En dan ek praat nie nou van een mens nie, daar is drie wat die moeite doen om my op te soek.
En dis nie net dat Annieka vergeet het om dit in die yskas te sit nie, sy het nagelaat om dit na pouse af te dek en kombuis toe te neem.
Ai, en toe ek by die tafel kom, toe gaan dit nie boomskraap nie – daar is bloot nie 'n boom of bodem wat nog geskraap kan word nie – plek-plek is dit asof die sopkom self sommer deurgeskraap is soos die mense op- en leeg geskep het.
My moed sak in my skoene – dit pla my geensins dat die sop op is nie, ek is een van daai mense wat kicks daaruit kry as ander mense kos wat ek voorberei het, geniet, en sien die leë kom as 'n wonderlike kompliment – dis net dat dit Maandag is, my middag is gevul met Klaradyn, tot ons 18:00 by die Voortrekkers wegry. En wie wil dan, nadat jy klaar die naweek sop gekook het dat die sop by die voordeur uit en in die straat af kon loop (amper soos daardie sprokie van die betowerde pappot).
Terwyl Klaradyn kunsklas het, sit ek af Spar toe en wonder hoe ek my halwe pot sop gaan rek tot 'n volle.
En dit alles baie vinnig.
Vandaar dan hierdie Gromm of Blaff (miskien is dit Knorr of Miaauww) se variasie op Esti se Duitse wors- en groentesop.
Want ek spoor toe inderdaad 'n plastiek-, winkel-, pakkie kitssop op wat homself uitgee as 'n kerriegroentesop (jy sal dit maklik kry – hulle maak 'n spelfout in die skryf van die sop se naam, jy kan dit nie miskyk nie.)
En toe is dit maklik – jy kook 1 kg bevrore groenteblokkies in die hoeveelheid water wat nodig is vir twee pakkies sop. As die groente sag is, gooi jy die soppoeier by. Dan 500 g frankfurters in wieletjies gesny. Sout en peper.
Dit proe aan niks, glo my. Maar dan is daar nie 'n sop wat nie met room omtower kan word in spyse vir die gode nie. Ek weet nie hoeveel room Esti se sop oorspronklik vra nie, dis iets belagliks soos 'n kwart of agtste kannetjie – ek gooi 'n hele kannetjie by.
Laastens, die ander ding wat geen sop nog nooit enige skade berokken het nie – 'n kelkie of wat sjerrie, of port (of hanepoot of jeropiko of muskadel of enige ander soet bakleiwyn).
En toe ek daarmee klaar is, toe proe die sop sommer strate vorentoe.
En toe ek dit met wat oor was van my helfte van Sondag se swoeg en sweet meng, toe is dit net 'n connoisseur wat hom sal verbeel hy proe die verskil.
Ek sal niemand aanbeveel om vanuit die staanspoor die kortpad te vat nie, maar as die nood druk, of jy moet rek (soos ek vanmiddag) kan jy my kort afdraaipad met vrymoedigheid as nooduitgang inspan.
1 comment:
Dis nie my kallers nie, die oorspronklike resep kom van een of ander vrouetydskrif se jaarkalender, dis so lank terug plagiaat tel nie meer nie, ek het bloot vir die maklikheidsgraad geval (en die mooi woord bouquet garni, wat toe al die tyd so 'n linnesakkerige dingetjie is, en wat ons in my dorp nie kry nie...) - maar dit MOET stir fry wees (ja ok, en sien jy praat my aan oor die varsgesnyde groente, gevries doen dit vir my dankie, veral die Asian een, wat mens ook net soms hier opspoor). Ag die lewe op die platteland... maar NIKS kom by jou ou/siekmens hoendersop nie, NIKS! Dankie, nou weet ek wat om vannaand te maak!
Post a Comment