Die huis waarin ek gebore is het 'n lieflike groot
hoofslaapkamer gehad, meer as twee keer so groot soos die huidige kamer wat ek
Annieka die hoofslaapkamer noem.
Daar was inderdaad ruim plek vir 'n vier-sit-eetkamertafel en
wintersaande het ons gereeld daar ons aandete geniet. Dit was die lekkerste van
lekker gesinstye, maar waarom dit spesifiek in die winter was dat ons hier
bymekaar gekom het, sal ek nie onthou nie.
Ons het in die sitkamer en Pa se studeerkamer voor 'n kaggel
kon kuier; nie in Pa-hulle se kamer nie. Daardie jare se elektriese verwarmers
was ook hopeloos te primitief om die groot vertrek te verhit. So waarom die
gebruik, behalwe dat dit gesellig was, weet ek nie.
Toe ek en Annieka huis gesoek het, was ons tweede opsie 'n
huis met 'n lieflike groot, oorgroot, hoofslaapkamer – naas die
slaapkamermeubels was daar plek ook vir 'n sitkamerstel en TV-kabinet. Maar
hoewel dit 'n lieflike leef-slaapkamer was, was die res van die huis nie veel
van 'n leef-huis nie.
Toe neem ons op die ou einde 'n lieflike leef-huis, waaroor
ons nog nooit 'n enkele dag spyt was nie, maar ai, ek sou darem baie van
daardie ander huis se hoofslaapkamer in ons huis gehou het.
Verlede naweek vertel ons onsself dis vreeslik koud en trek
toe mos met die gasverwarmer in die slaapkamer in. Ons eet Vrydag-, Saterdag en
Sondagaand in die slaapkamer. Twee op die bank en een op die bed. Sommer by
twee sulke skonkbordgrootte antieke tafeltjies. Te heerlik!
Vrydagaand wat nounet verby is, toe maak ons weer so,
kaasfondue.
Ek het myself kort-kort deur die loop van die week betrap
dat ek dink aan 'n nuwe meubelrangskikking vir ons kamer sodat daar met meer
gerief in die slaapkamer om 'n tafel gekuier kan word.
So vanoggend toe ons van die Boeremark terugkom, toe is dit
ek en die kamer.
Met 'n week se dinkwerk agter die blad het dit nie lank
geneem nie, toe het ons 'n werkbare, baie werkbare, plasing van die meubels. Al
waarvan ons ontslae moes raak was 'n vollyf staan-koperspieël, en soos die
kamer nou geskuif is, skep dit selfs die indruk van nog ruimer te wees as
vantevore.
Die koue kan nou maar kom – ons is gerat om ons in die
slaapkamer af te sonder.
En om die gesellige huislikheid te versterk het ek sommer
bepaal dat die honde voortaan oor naweke weer die vryheid van die hele huis kan
geniet.
Tot en met Klaradyn se geboorte is ons honde permanent in
die huis gewees – maar Klaradyn toon 'n ongunstige reaksie op al wat dier se
hare, so hulle moes uit. (Ek het dieselfde intolleransie, maar ek is groot, ek
kan dit hanteer; ‘n sesjarige appel van haar ma en pa se oog, nie.)
Ek mis die honde ses jaar later steeds, en ek weet hulle mis
hul onderskeie lêplekke in ons kamer ook.
Vanjaar is die eerste jaar in ses dat ons Junie-maand gehaal
het, sonder dat Klaradyn nie al minstens twee keer by die dokter was nie, so
toe ek myself twee nagte (die twee nagte met die honde) wakker snuif, en ek na
nag twee optel dat Klaradyn ook 'n neus aan haar het, toe besluit ons maar om
die nuwe reëling nie permanent te maak nie, maar dit te beperk tot naweke.
So naweke is dit voortaan die uitgebreide gesin, en weeksdae
die kerngesin.
Ook nie net die slaapkamer wat anders lyk nie; die kombuis
se een werksoppervlak het ook 'n nuwe gadget
wat nou permanent daar gestaan gemaak is.
Nie nuut soos in nuut nie, dis 'n tweedehandse ding wat ek
seker in 20 jaar nie nuut op die mark gesien het nie.
Ook nou seker al ses maande dat ek orals rondloop en vra of
hulle nie het nie, van negosiewinkel, tot tweedehandse- en enige ander denkbare
help-my-krap-winkel.
En vanoggend toe ek so in die verbystap by die
negosiestalletjie hardop aan Annieka laat val dat ek een soek, trek die vrou
agter die tafel los en sê: “Maar daar staan een op daardie tafel daar.”
En dit is toe ook inderdaad so.
En nie 30 sekondes later nie, toe is ek R100-00 kwyt en die
tannie met die skerp ore R100-00 ryker.
Die rykdom wat ek bygekry het, weeg egter geensins op met
die bietjie waarvan ek moes afstand doen nie.
Ek het mos 'n broertjie dood aan hierdie klaar gesnyde brood
wat 'n mens koop wat niks anders as wind is nie.
Vir jare het 'n mens van tyd tot die uitdrukking opgetel wat
lui: dis die beste ding sedert klaar
gesnyde brood. Die Engelse uitdrukking is bekend gemaak deur 'n roman met
dieselfde naam en dan was daar ook 'n liedjie met die woorde in refrein. En ja,
klaar gesnyde brood was seker 'n wonderlike ding toe die masjien wat dit vir
die groothandel kon doen in 1916 uitgevind is. Die tipe snyer wat herinner aan
die wat deesdae by ons in die winkels staan is goed 40 jaar voor hierdie een uitgedink
– deur 'n vrou, wie anders. En eers teen 1930 wat die goed die brood in sakkies
kon spoeg om so in sakkies rak toe te gaan.
Ek hoor nie juis meer die uitdrukking nie, en dit self gebruik
sal ek ook nooit weer nie – klaar gesnyde brood is die vrotsigste brood onder
die son, en suiwer op grond van die mens se ingebore luiheid en slegtigheid dat
die flou verskonings vir brood nog enigsins op die mark is.
Help nie jy sit enige iets uit die yskas op nie, nie
margarien nie, nog minder botter – dit moet iets wees wat oornag buite was,
want smeer jy dit uit die yskas op die brood, is die snytjie brood binne
sekondes so plat soos 'n pannekoek.
O, aarde, en nou in die winter moet ek selfs die
Nutella-sjokoladesmeer soggens in die kookwater sag kry as ek enigsins 'n presenteerbare
toebroodjie wil skool toe stuur.
En het jy eers jou toebroodjie toe, en die brood is nog nie
dunner as Bybelblaadjies nie, moet jy die broodjie nog twee keer oor die
skuinste sny om vier kindertjiegrootte driehoekies te kry. Dis dan nou op
hierdie punt dat jy afskryf wat jy tot op datum nog nie afgeskryf het nie.
So ek koop ongesnyde brood, goewermentsbrood as dit kan, maar
vergeet nege uit tien kere om die ding in die winkel te sny – en in die kombuis
is ek nie baie handig met 'n broodmes nie.
So vandat ek begin het om party oggende ook vir my en
Annieka broodjies vir skool te maak, smag ek na 'n broodsnyer, soos die een uit
die meeste van my generasie se kinderdae. Die ding was Pineware gedoop, hy’s aan die tafel- of werksblad vasgeklem en jy
het die lem met 'n slinger gedraai. (Op die internet noem hulle dit vintage broodsnyers uit die jare 50 en
60.)
Maar verniet!
Dis nou tot vanoggend, toe die tannie met die skerp ore my
hoor en ek die transaksie binne 30 sekondes beklink.
Ons het nie vanaand behoefte aan brood gehad nie, maar ek
het brood loop koop sodat ek die kontrepsie aan Klaradyn kon bekendstel.
Nou soek ek nog net een ding vir ons toebroodjies: 'n broodblik
van blik waar BROOD in swart letters staan. Die met BREAD op sien ek gereeld in
die winkels waar ek krap op soek na allerhande gemors, maar verniet of ek een
kry wat my in my moedertaal aanspreek.
Ek het ses keer die afgelope kwartaal op een afgekom, ses
keer namekaar op dieselfde een, maar dis in Hendrik en Katriena se kombuis op
Toorwater, in die fliek, Paljas, wat
ons met die kinders kyk.
Elke keer as ons by die kameraskoot kom wat hierdie
broodblik duidelik vertoon, dan sê ek vir die kinders ek soek so 'n broodblik.
Hulle dink miskien ek maak 'n grap, maar hulle weet nie met hoeke seer hart ek
een soek nie.
No comments:
Post a Comment