Pages

19.6.11

Vadersdag 2011


En daar wil ek toe nou opstaan en gaan piepie. Maar ek kan nie opstaan en gaan piepie nie want staan ek op en gaan piepie en word uitgevang dat ek opgestaan en gaan piepie het, dan sing Klaars en Mamma my nie wakker met die koffie en beskuit in die skinkbord nie, dan word ek nie vreeslik deur die slaap en hartlik verbaas wakker nie, dan skrik ek my nie nugter wakker by aanskoue van Klaradyn se pakkie en kaartjie nie. En dan het Vadersdag op die verkeerde noot afgeskop. En dit kan tog nie.

Toe knyp ek maar.

Ek knyp laterhand so lank dat dit my voel ek kon in al die tyd wat ek knyp al 'n skaap in die veld loop aankeer het, hom keel-af, én vel-af gemaak het, opgesaag en –gesny, en in pakkies gehad het – en steeds knyp ek vervaard, trap my tande al water, met geen taal of tyding uit die kombuis nie.

Wanneer begin kinders dan nou besef dat dit net nie vir 'n Pa moontlik is om 362 dae van die jaar heel eerste van almal wakker te wees, en twee dae 'n jaar (verjaarsdag en Vadersdag) só vas en só laat te slaap dat dit 'n karnaval langs die bed neem om hom wakker te kry nie?

Na wat soos 'n ewigheid voel, hoor ek hulle die gang af kom. Dit is 'n gejuig en geruis al die pad tot voor die toe deur, en toe begin hulle soos op 'n verhoog te fluister – gemaak sag maar eintlik net asemrig en hard genoeg dat selfs die doofstes in die heel agterste ry van die teater jou nog kan hoor.

Toe val daar iets, en moeder en dogter begin onbevange proes van die giggel en lag.

Toe daar stilte daal, dag ek hulle is terug kombuis toe om te gaan red wat daar te redde is, te herstel wat miskien nog herstel kan word.

Met 'n noot/nood wat die van 'n vendusie-os of sirkusolifant na 'n katspoegie laat lyk, besluit ek nou of nooit, en vlieg op.

Net mooi op die punt wat Mamma en Klaars lostrek en begin sing.

Ek vries in 'n hoogs ongewone posisie, wat herinner aan die versteende figure wat eeue later op Pompeii onder Vesuvius se lawa opgegrawe is.

Maar my kind pla dit nie.

En hulle sing my wakker, en ek is deur die slaap en lekker verbaas – en dit is, om 'n lang storie kort te maak, een van die lekkerste oggende in 'n lang tyd.

Ons vrot in die bed, muf en begin al ontbind, teen die tyd dat ons op staan om ontbyt te gaan maak. 'n Ontbyt wat in elkeen se smaak val want vir voorgereg is dit my gunsteling, ongegeurde jogurt met heuning en neute; hoofgereg is die meisies se gunsteling - Franse roosterbrood met gebraaide spek en stroop.

Klaradyn is ten volle verantwoordelik vir die jogurt se bereiding, sy kap selfs die neute.

Om iets anders as die gewone Franse roosterbrood te hê, dit is immers Vadersdag, eindig die brood in die vorm van harte, gemmerbroodmanne en sneeuvlokkies, eers in die eiermengsel en dan in die pan.

Toe ons afdek laat val Klaradyn terloops dat niemand heuning saam met hul roosterbrood geneem het nie. Annieka noem dat ons darem almal van die Maple syrup geniet het, en daar trek Klaradyn los met die woorde dat dit nie maple syrup is nie. Annieka wil Klaradyn reghelp en sê dat dit is, maar toe is dit Klaradyn wat haar ma reghelp:  “Dis nie maple syrup nie, Mamma, dis regte egte esdoringboomstroop.”

En daardie taaluiting van Klaradyn amper my grootste Vadersdaggeskenk, amper die grootste, want die grootste sou later kom. Annieka noem dat ons die vakansie koesisters moet maak – Klaradyn moet die vreugde van koesisters maak beleef. En wat sê Klaradyn, heeltemal uit haar eie? “Dan vleg ons die koeksisters, Ma, ons maak nie soos die lui tannies wat die goed net draai nie.”

Dit kom uit 'n gesprek van maande gelede, letterlik maande, indien nie 'n jaar gelede nie, verbeel ek my. Ek het by die Boeremark op 'n tannie afgekom wat nog koesisters maak soos koesisters gemaak moet word – gevleg en nie gedraai soos die meeste lui en winsbejagte baksters deesdae uitknoei nie.

Dit verbaas my nog bykans daagliks hoe die kinders goed optel en onthou. Nou, na ek hier begin tik het, tien minute gelede, weer. Sy is in die bed en roep dat ek haar moet kom help met die afkry van 'n slaapdiertjie, die een of ander beertjie of ding wat as trooster dien.

Ek roep dat sy gerus haar ma kan vra, maar los nietemin die rekenaar en stap na haar kamer. Daar moet ek hoor dat sy vir my vra want “dit is immers Vadersdag.”

Verbeel jou – immers! En dit in graad 1.

Maar ek herken myself en weet ek het oomblikke tevore, sonder dat sy dit sal weet, presies dieselfde woorde in my klets agter die sleutelbord gebruik, “dit is immers Vadersdag.”

En dit is een van die baie dinge wat vaderskap vir my lekker maak, die stukkies herken van jouself in jou kind.

Nie alles wat jy herken is altyd positief nie. Klaradyn was seker 3 toe ek haar in die kombuis “gotshont” hoor sê het. Was sy nie op daardie oomblik ongeduldig met 'n hond in interaksie nie, en het haar stemtoon nie so duidelik haar ergenis kommunikeer nie, sou ek straks nie herken het wat sy sê nie. Maar ek het herken. En myself, tot my uiterste skaamte, herken.

Dis dan nou vier jaar al, wat ek my woorde baie versigtiger omdraai en tel.

Natuurlik het sy nie destyds geweet wat sy sê nie, sy het maar net herhaal wat sy my al hoor sê het as ek “op” met die een betrokke hond van ons is.

Kyk net waar loop my gedagtes met my! Ek was nog laas by die ontbyttafel gewees. Toe ons uiteindelik daarvan opstaan, toe is dit al 11:30 gewees. En ons wou nog museum toe! Ook nie museum nie, museums. Dit sal ook maar moet wag tot die vakansie.

Vir aandete het ek probeer om skoonpa te bederf:  wildspastei met gestoofde droë vrugte en patats.

Ek het iets vreesliks met die patats gedoen, iets wat ek nooit weer sal doen nie. Maar ek moes dit net een maal in lewe doen en vanaand was die perfekte geleentheid.

Ek het eintlik nog nooit geleer om van patats te hou nie, maar oor Annieka so lief daarvoor is, maak ek meer gereeld patats as byvoorbeeld Brusselse spruite.

Die eerste keer wat ek onthou ek patats geëet het, op so 'n wyse dat ek teen my sin soorts van verplig was om 'n tweede porsie te neem, was op 1984 of 1985 se Vadersdag. Op Potch, waar ek geswot het, aan huise van 'n kennis wie se ouma ons oorgenooi het vir Sondagete. Dit was 'n stokou Engelse tannie wat 'n sukkelbestaan in 'n armsalige ou huisie op die dorp gevoer het.

Daar was die dag nie 'n enkele Vader aan tafel nie, net die ou tannie, haar kleinseun en 'n paar van sy vriende wat eers oor 'n paar jaar later sou begin om die skoene van 'n vader sou aan te trek. Maar die tannie het met liefde en oorgawe gekook.

Ook soetpatats, en ons is 'n week voor die ete al voorberei op die ouma se spesialiteit, hoe gelukkig ons is en hoe spesiaal dit is dat ons die voorreg gegun gaan word om die ouma se patats te kan geniet.

Ek het nooit gedink ek sou dit eendag self doen nie. Maar ek het vandag, en dit het my met wonderlike nostalgie gevul.

Die tannie het pienk en wit malvalekkers in 'n skaakbordpatroon bo op haar patats gesmelt.

Toe doen ek haar dit amper 30 jaar later na. Darem nie pienk en wit, vanilla- en aarbeigeur nie. Nee, stemmiger wit en baie ligte appelkooskleurige vrugtegeurige malvalekkers. Maar ek het verbrou, ek het elke malvalekker in drie gesny, toe lyk dit hoogstens vreemd, maar proe nie rasend anders as gewone soetpatats nie.

Miskien oor 'n verdere 20 jaar weer.

Hopelik leef ek nog so lank.

Die ander ding wat ek hierdie naweek gedoen het, 'n ding wat ek lankal uit stoutigheid wil doen, maar oor dit vir my so erg is om te doen dat ek myself nie so ver kan kry om te doen nie, hou verband met 'n kleuterherinnering saans voor die kaggel in die sitkamer of my pa se studeerkamer.

Daar sal mense wees. Sondagaand. Hulle kuier of speel kaart.

En dan is daar biltongballetjies. Fyn biltong wat Pa self gekap en geskaaf het. Maar hierdie fyn biltong is nie om broodblokkies wat met 'n botter-marmitemengsel gesmeer is geplak nie. Nee, die fyn biltong is by botter ingemeng en teelepels daarvan is dan weer in die biltong gewikkel om 'n ystervarkie of lamington van biltong in plaas van klapper te vorm.

Ek kan nie glo hulle het dit gedoen nie, maar hulle het, ek onthou dit goed.

En toe ek nou Saterdag met die biltong en plaasbotter voor my sit, toe begin my vingers jeuk en tintel en spring.

Toe doen ek dit.

As ek nie met cholesterol gesukkel het nie, sou dit seker nie vir my lekker gewees het nie. Maar juis oor die klas van ding vir my so lekker is, dat ek met cholesterol sit.

Dit was heerlik. Ek sal dit weer en weer en weer wil doen.

Maar ek sal nie.

Ek het 'n verantwoordelikheid teenoor my kind wat vandag vir haar pa die mooiste van mooi kaartjies gemaak het, teenoor my vrou wat haar man bederf het met Dan Sleigh se nuutste roman, Wals met Matilda.

Toe ek vanaand die mense vra om hul glasies te lig en mekaar in die oë te kyk, toe vra ek dat ons 'n heildronk sal drink op Klaradyn en Annieka. Toe bly ek so rukkie stil, toe gaan ek aan:  Klaradyn en Annieka se wonderlike en absoluut asembenemende Vaders.

Maar eintlik kan ons maar tot die kinders se heil ook drink – dit is immers hulle wat ons aanspoor om te maak soos ons maak, om te doen wat ons doen, en te wees wat ons is.

No comments: