Pages

14.6.11

Ut edam vivo

Iewers op hoërskool in 'n eksamentoesigklas het die kunsjuffrou gevra of ons eet om te leef, en of ons leef om te eet.

Dis hoeveel jaar later – seker amper 30 – en ek het geen maar geen karaktergroei getoon nie was ek 'n karakter in 'n roman sou ek die kinders daarop moes wys dat ek nie 'n vol of ronde karakter nie, maar ten spyte van my vol en ronde figuur, 'n plat of vlak karakter is:  ek leef nog al die jare steeds maar net om te eet!

Verlede week, na ek gery het om 'n nuwe slaghuis waarvan ek gehoor het, te gaan verken, sien ek nie die nuwe bakkery 'n klipgooi, hanetree en katspoegie daarvan af, raak nie. Maar Vrydagaand toe ons dieselfde sentrum besoek om Stuur Groete aan Mannetjies Roux te gaan kyk, raak ek bewus van die bakkery en weet dat dit net 'n kwessie van tyd is voor ek daar ook besoek aflê.

Met die dat die skool 13:00 i.p.v. 14:00 uitkom, het ek 'n tydjie voor ek Klaradyn moet optel, en ek besluit om die bakkery van nader te gaan leer ken. Uit die hoek van my oog het dit Vrydagaand gelyk of ons sommer nog dik tjomme sal kan word.

Die volgende oomblik kondig Annieka aan dat sy en die beheerliggaam of sy en die ander adjunkhoofde gaan uiteet, en sy noem die naam van 'n restourant wat bekend is om sy lekker kos.

Net daar en dan besluit ek dat ek myself kan bederf op 'n ietsie lekkers. En toe ek eers my voorneme aan 'n kollega noem en sy stel voor ek gaan geniet 'n toebroodjie by die nuwe bakkery oorkant die teater, toe is die koeël deur die kerk en ek in die kar.

Ek besluit om iets in die loop te neem, ek wil nog by die slaghuis ook in om te kyk of hulle wildsvleis al ingekom het – ek wou al die naweek wat verby is lekker wildspastei maak, maar kon geen lekseltjie wild opgespoor kry nie.

Ek koop 'n broodjie – hulle noem hom gourmet, en glo my hy was gourmet.

Maar toe koop ek 'n Italiaanse brood ook – jy kan tog nie al die pad soheentoe ry en met leë hande daar wegstap nie.

Die slaghuis het nie kookvleis nie, maar wel twee rooibokboude. Rooibokboude sal tog seker lekkerder pastei maak as afgekookte bene, so in met 'n boud.

Maar ek hou van vark saam met die wild. Rooibokboud en eisbein. (Nee, ek hoef ook nie spek te koop nie, die slagter het reeds spek om te lardeer by die boud ingesluit.)

Toe sien ek die kaas en onthou die brood wat ek reeds gekoop het. Ek het in 'n stadium gereeld 'n camembert in krummels bedek en dit dan gebak of gebraai en met bessiekonfyt geniet. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts.

Toe onthou dat die ander rede hoekom ek hierheen gekom het was om van die plek se fyn biltong te kry – ek het verlede week vir Klaradyn se broodjies 'n bakkie gekry, en toe ek by haar kom om haar op te tel had ek reeds die helfte van die bakkie myself opgeëet. Ons was op pad drama-klas toe, so toe ons daar aankom het sy afgereken met die helfte van die helfte wat ek vir haar oorgelos het. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong.

Ek loop nog met alles in my hand, nou moet ek deur toe om 'n mandjie te kry.

Die pad deur toe neem my weer verby die kaas en 'n moerse wig ingevoerde guyere spring in my hand nog voor ek by die mandjie kan kom. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere.

Toe die mandjie eers in my arm is, wonder ek of dit 'n opregte Italiaanse gorgonzola was wat ek uit die hoek van my oog gesien het. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola.

Maar in die soek om te kyk of daar nie 'n lekker emmentaller is nie, spoor ek regte egte plaasbotter op. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola en 'n pond vars plaasbotter.

Toe is ek weer agtertoe na waar ek die pakke en pakke droëwors gesien het. Ook al iets soos R169-00 vir 'n kilo wors, maar dis as jy 'n klein pakkie koop – koop jy 'n kilo, is dit iets soos R20-00 'n kilo ligter. Dit sal dom wees om 'n klein pakkie te koop, dan maar eerder 'n kilo. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola en 'n pond vars plaasbotter en 1 kilo droëwors.

Op pad kasregister toe gaan ek verby die beskuit – ja dit klink nie meer na 'n slaghuis waarin ek my bevind nie, maar glo my, dis 'n slaghuis – en ek onthou hoe lekker die beskuit was wat ek verlede week hier gekoop het. 1 Rooibokboud en 1 eisbein en 3 camemberts en 1 bakkie fyn biltong en 1 moerse wig guyere en 1 lywige sny Italiaanse gorgonzola en 'n pond vars plaasbotter en 1 kilo droëwors en 1 pak anysbeskuit.

Die konfyt om saam met die camembert te bedien, het hulle nie, maar hier is heel groen vyekonfyt, en dis tog so lekker saam met die Gorgonzola...

Gelukkig weier die bank nie die kitskaarttransaksie waarin ek my tien minute nadat ek daar ingestap het, begewe nie.

Gelukkig is daar 'n Woolies Foods neffens die plek, want dit sal darem lekker wees as ons emmentaller ook kan geniet – Klaradyn het opvoeding in kaas nodig.

Hulle het nie die kaas nie, maar ek kry die bessiekonfyt vir saam met die camembert.

En toe raak 'n potjie uiemarmelade rammetjieuitnek met my, maar ek laat hom maar begaan – ek wil nie 'n insident in die winkel hê nie, en netnou is dit lekker saam met die guyere.

Ek stap nou met die trollie na die motor – ek wat gekom het vir die koop-en-loop toebroodjie heel onder in een van die vele sakke.

Maar dis 'n bargain – ek hoef nie eers parkeergeld te betaal nie – dit het my minder as 'n uur geneem om al my geld tot die einde van die maand uit te gee, en die eerste uur is gratis.

In die motor speel die mooiste kerkorrelmusiek van Ockie Vermeulen, kliphard.

My gourmet broodjie is die lekkerste sedert een wat ek jare gelede op die Franse platteland by 'n mark geëet het.

Ek betrap myself dat ek doellose sirkels al in die rondte in die parkade ry – ek gee myself oor aan die wonderlike, bykans goddelike, stimulering van my ore en tong, en besef as ek nou moet sterf, dan is dit op 'n asembenemende hoogtepunt.

Maar ek oorleef die oomblik en ekstase, oor-lééf dit, om te kan eet.

Gelukkig is my kunsjuffrou, die beste kunsjuffrou in die geskiedenis van die mensdom, Jacque Olivier, ook al seker amper 27 jaar oorlede. As sy my moes sien of hoor, sou ek baie skaam gekry het.

Maar stop ek weer daar, en miskien moet ek voortaan al ons brood daar koop, kry ek van die vars lewer wat so lekker gelyk het. So lekker soos Judy Moolman en Sakkie Korf dit kan maak, sal ek nooit regkry nie, maar niks keer my om te probeer nie.

Naskrif:  die lawwe titel, ut edam vivo, is aldus Google se vertaler uit Afrikaans in Latyn die Romeine se weergawe van "leef om te eet" (Of dit so is, sal net George of Charl of Rina kan beantwoord.)


No comments: