Pages

14.5.12

Kinderdag, Seundag


Dit was dan nou my eerste Moedersdag as weeskind.
My eie kind en haar moeder het my dag so vol lekkerte en liefde gehad, dat ek nie tyd en geleentheid had om enige krane en trane oop te wil draai nie.
Ek het in aanloop tot ons gesinnetjie se Moedersdag in elk geval geweet, wat ek al die jare weet: Moedersdag is net nog ‘n geldmaakdag, ek gaan nie Sondag vir Judy liewer wees as wat ek die vorige Maandag was nie. Onse ouers is onse ouers en ons is vir hulle lief, dwars deur die jaar, die hele jaar deur, elke dag.
En tog het ‘n tikkie weemoedigheid my wel ‘n rukkie gelede oorval toe ek, sommer van lawwigheid en nie van koue nie, vir Klaradyn ‘n warmwatersak vir die nag voorberei.
Sy het gekla haar voete kry kwansuis snags koud – my voete sou ook as ek myself alnag en heelnag oopgeskop het. Maar dit daargelaat. Feit bly staan, ek het myself teen slapenstyd betrap dat ek soos Judy al die jare, vir ‘n ketel wag om te kook sodat ek die rubbersak met groot omsigtigheid gereed vir die bed te kry.
Hoeveel keer het ek nie in my lewe vir my mammie kookwater in haar warmwatersak gegooi nie! Hoeveel meer kere het ek haar dit nie self sien doen nie!
“As jou voete warm is, is jou hele lyf warm.” Hoeveel keer het ek haar dit nie hoor sê nie!
En toe ek vanaand ongeduldig wag vir Klaradyn se water om te kook, toe sien ek weer my ma geduldig voor die ketel wag dat sy haar bottel kan vol maak. Ek beleef in my geestesoog die sorg en presisie waarmee sy die water ingooi en seker maak die prop is dig gesluit. (Eintlik met ‘n tikkie trots dat ek dit doen, oor ek haar dit nadoen, en oor haar goeie voorbeeld en sy so ‘n goeie leermeester was.)
Haar stiltetyd het sy saans in die sitkamer gehou, soms by kerslig. Maar Bybel het sy nie gelees nie – die Bybel was vir haar te moeilik om te verstaan, het sy altyd graag gesê. Al wat sy had, was haar geloof en gebed. Al wat sy nodig had, was geloof en gebed.
Ek het, toe die vryer vertaling van die Bybel, Die Boodskap, op die mark gekom het, vir haar een jaar vir haar verjaarsdag – dalk selfs ‘n Moedersdag vir al wat ek weet – ‘n kopie gekoop. Sy het ‘n besoek of wat verder steeds ge-oe en ge-aa, maar toe ook stil geraak en Die Boodskap het stil op die kassie langs haar bed bly staan.
Die Bybel en baie van wat sy daarin lees, het haar geloof net om- en deurmekaar gekrap, sy kon en het daarsonder klaargekom. (Miskien oor sy die Liefde had, en dit opsigselwers klaar genoegsaam was.)
Sy het nie haar gebede in haar gedagtes gedink nie, nee, sy het dit saggies gepraat, elke woord en sin met haar asem en artikulasieorgane gevorm. As ons, hier later jare en laaste jare voor hulle ouetehuis toe is, saans by hulle aan huis oornag het, kon ons altyd hóór sy bid.
Wat sy te sê had, kon ons natuurlik nie hoor nie; dit was ‘n dowwe geprewel, soos toegeweide nonne met stringe gebedskrale doen.
Nie dat ons ooit nodig had om te hoor wat sy vir die Here te sê had nie, ek weet eintlik van ek aan my verstand gekom het, wat sy aand na aand op haar hart had:  dank oor haar kinders en die afbid van die Here se beskerming oor hulle. Het sy iets vir haarself gevra, sou dit net een ding wees en dit is dat die Here haar moet behoed en bewaar sodat sy na haar kinders kan omsien en daar kan wees om vir hulle iets te beteken.
En dan, wintermaande, as sy klaar gebid en die kers uitgeblaas het, het sy die kombuislig aangesit en haar warmwatersak vir die bed voorberei.
Aand na aand.
Het sy hier by ons aan huis kom kuier, het ek haar bederf met die maak van die sak.
Want het sy gereis, dan was dit met die warmwatersak.
‘n Elektriese kombers hét sy gehad, hier teen die einde, die laaste vyftien jaar of so, voor sy ouetehuis toe is. Maar sy het nooit vat gekry aan die ding nie. Miskien oor sy bang was vir die ding. Miskien oor sy gedink het dis te luuks en spandabelrig, ek weet nie.
Toe ek op hoërskool was, had sy wel so ‘n elektriese velletjie, die grootte van ‘n kleinerige kussingslopie, waarmee sy haar voete, soos met ‘n warmwatersak, verwarm het. En dit was vir haar genoeg – as jou voete warm is, is jou hele lyf warm.
Maar niks kon naby haar warmwatersak kom nie.
En daar kry Klaradyn toe ‘n week of wat gelede een present.
En dis eers toe ek hom vanaand vir haar vol maak, en ek staan daar voor die ketel, soos my oorlede mammie, dat ek besef hoe baie ek my ma mis, hoe baie daar van, en rondom, en omtrent, my ma is, wat ek mis, en nooit weer gaan hê nie.
My broer ook. Ons het vandag gepraat en oor en weer gepraat oor hoe dit gaan. Maar Moedersdag nie aangeroer nie, selfs al het dit in stilte kliphard en luid tussen ons gesprek gelê.
As ek net ‘n agste van die ouer wat my ma vir my was, vir Klaradyn kan wees... Dán sal ek weet dat daar op hierdie aardbol nie nóg ‘n kind met so ‘n goeie ouer soos my en Annieka se kind, ons kind is nie.
Dit maak my en my broer natuurlik die gelukkigste twee seuns wat nog ooit met hul voete op die aarde getrap het.
Wat ons gedoen het, om dit te verdien, sal ek nooit weet nie, maar ek weet dat dit ons met ‘n moerse verantwoordelikheid los: om die voorbeeld wat aan ons gestel is, na te volg.
En maklik is dit nie. My broer probeer al jare; ek die laaste sowat agt.
Maar wat ‘n voorreg.
Dankie Ma, Mamma, Moeksie, Juds, Judy, Judsy, Joerie, Mammie, Ou Vrou, Ou Lady, en (as Klaradyn nie naby is om te hoor nie) ander Enigste-Dierbaarste-Engelhart-Skat.
Ek het dit al baie gedink, maar nog nooit hardop bely nie:
Partykeer wens ek regtig daar is ‘n hemel presies soos ek my dit as kind voorgestel het: jy staan daar, iewers op ‘n wolkie, langs Pa, en julle hou ons wat tydelik hier op aarde agtergebly het, dop, julle luister ons af en hou ons elke beweging dop.
Dan sou ek goed gevoel het, want dan sou ek geweet het, jy weet hoe ons voel, hoe ons jou mis en hoe ons jou eer.
En al is jy nie hier om ‘n gelukkige Moedersdag met ons te kon deel nie, het jou twee seuns steeds ‘n baie gelukkige Kinderdag, Seunsdag gehad, en dit alles danksy jou.
Gelukkige Moedersgag Ou Vrou, ons is lief vir jou.

No comments: